Daniël 5:1-17

Daniël 5:1-17 AFR20

Koning Belsasar het 'n groot feesmaal voorberei vir sy duisend maghebbers. Hy het wyn gedrink in die teenwoordigheid van hierdie duisend. Belsasar het, terwyl hy die wyn geniet, opdrag gegee dat die voorwerpe van goud en silwer wat sy vader Nebukadnesar uit die •tempel in Jerusalem verwyder het, gebring moes word, sodat die koning en sy maghebbers, sy haremvroue en byvroue daaruit kon drink. Hulle bring toe die voorwerpe van goud wat uit die tempel, die huis van God in Jerusalem, verwyder is, en die koning, sy maghebbers, haremvroue en byvroue het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, koper, yster, hout en klip geprys. Op daardie oomblik het vingers van 'n mens se hand verskyn en oorkant die kandelaar op die pleister van die koninklike paleis se muur geskryf. Die koning het die deel van die hand wat besig was om te skryf, gesien. Toe word die koning bleek, en sy gedagtes het hom verskrik. Sy heupgewrigte het slap geword en sy knieë het teen mekaar geklap. Die koning het hard geskreeu dat die towenaars, Galdeërs en voorspellers gebring moet word. Die koning praat toe en sê vir die wyses van Babilonië: “Enige mens wat hierdie skrif kan lees en die uitleg daarvan vir my kan gee, sal in purperrooi geklee word met 'n goue ketting om sy nek, en hy sal as derde in rang in die koninkryk regeer.” Al die wyses van die koning het toe ingekom. Hulle kon egter nie die skrif lees en die uitleg aan die koning bekend maak nie. Toe was koning Belsasar hewig ontsteld, en sy gesig het nog bleker geword. Sy maghebbers was verward. Die koningin het toe, vanweë die gesprek tussen die koning en sy maghebbers, die feessaal binnegegaan. Die koningin praat toe en sê: “O koning, leef vir ewig! Moenie dat u gedagtes u ontstel nie; en u hoef nie bleek te wees nie! Daar is 'n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is. In die dae van u vader is helderheid, insig en wysheid soos die wysheid van gode by hom gevind. Koning Nebukadnesar, u vader, het hom aangestel as hoof van die waarsêerpriesters, towenaars, Galdeërs en voorspellers – ja, u vader, die koning – en wel omdat 'n buitengewone gees en verstand, die insig om drome te verklaar, raaisels uit te lê en om probleme te ontrafel, in hom gevind is, in Daniël, vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het. Laat Daniël nou ontbied word; hy sal die uitleg gee.” Daniël is toe voor die koning gebring, waarop die koning vir Daniël gevra het: “Is jy Daniël, een van die Judese ballinge wat deur my vader uit Juda gebring is? Ek het van jou gehoor, dat die gees van die gode in jou is, en dat helder insig en buitengewone wysheid in jou gevind is. En nou, die wyses, die towenaars, is voor my gebring, sodat hulle hierdie skrif kon lees en die uitleg daarvan aan my bekend kon maak. Maar hulle was nie daartoe in staat om die uitleg van die woorde bekend te maak nie. Ek het egter van jou gehoor dat jy in staat is om uitleg te gee en probleme te ontrafel. Daarom, as jy in staat is om die skrif te lees en die uitleg daarvan bekend te maak, sal jy in purperrooi geklee word, met 'n goue ketting om jou nek, en jy sal as derde in rang in die koninkryk regeer.” Daniël antwoord toe en sê vir die koning: “U geskenke mag u vir uself hou, en u beloning – gee dit aan iemand anders! Ek sal in elk geval die skrif vir die koning lees, en die uitleg aan hom bekend maak.