Handelinge 4:1-22

Handelinge 4:1-22 DB

Petrus en Johannes was nog besig om met die skare te praat toe die bevelvoerder van die tempelpolisie en ’n klomp van die Jode se godsdienstige leiers daar aankom. Hulle was woedend omdat die apostels vir die mense gesê het dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat elkeen wat dit glo, ook uit die dood sal opstaan. Daar op die plek het hulle toe vir Petrus en Johannes gevang en in die tronk gegooi. Die twee apostels moes in die tronk bly tot die volgende oggend. Intussen het baie mense in Christus begin glo. Die kerk in Jerusalem se ledetal het tot by die 5 000 aangegroei. Die volgende oggend het al die belangrikste godsdienstige leiers van Israel wat op die Joodse Raad sitting gehad het in Jerusalem vergader. Behalwe die skrifkenners en volksleiers was die hoëpriester Annas en lede van sy familie, soos Kajafas, Johannes en Aleksander, ook daar. Petrus en Johannes is tot in die middel van die vertrek gebring waar hulle bymekaar was.Toe vra hulle die apostels: “Sê vir ons, waar kry julle die krag vandaan om so ’n wonderwerk te doen? En wie het vir julle gesê om dit te doen?” Petrus was vol van die Heilige Gees se groot krag. Hy het dadelik geantwoord: “Geagte leiers van die volk en raadslede, ons staan vandag hier voor julle omdat ons ’n siek man gesond gemaak het. Hierdie man is in die Naam van Jesus Christus, die Man van Nasaret, genees. Julle weet van wie ek praat, want julle het Jesus ’n rukkie terug aan ’n kruis laat vasspyker. Maar God het Hom weer lewendig gemaak. “Julle het julle lelik misreken met Jesus. Julle het Hom doodgemaak en gedink julle is ontslae van Hom. So het julle die belangrikste klip in die gebou verwerp. Jesus is nou die belangrikste Persoon in die hemel. Daar is geen ander manier hoe julle in die regte verhouding met God kan kom as deur Hom nie. Niemand anders in die hemel of hier op aarde kan julle nou red nie.” Die lede van die Raad was verstom oor Petrus en Johannes se woorde, veral omdat hulle nie geleerde mense was nie. Tog was hulle nie bang om oor Hom te praat nie.Om alles te kroon het die man wat verlam was ook nou gesond langs hulle gestaan. Die Joodse Raad het Petrus en Johannes beveel om buite te wag terwyl hulle met mekaar beraadslaag. “Wat moet ons met hulle doen?” het hulle mekaar gevra. “Almal in Jerusalem weet teen hierdie tyd al wat gister in die tempel gebeur het. Ons kan dit nie wegpraat nie. Al wat ons nou kan doen, is om hulle te verbied om verder in die naam van daardie Jesus met die mense te praat. So sal ons ten minste keer dat hierdie storie verder versprei.” Die raadslede het Petrus en Johannes daarna laat inkom en vir hulle gesê: “Julle mag van nou af nooit weer met iemand oor Jesus praat of iets oor Hom aan ander leer nie.” Petrus en Johannes was nie bereid om dit te doen nie. “Julle moet maar self besluit of ons eerder na julle as na God moet luister. Maar ons weet wat ons gaan doen: ons kan nie stilbly oor alles wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse Raad was woedend. Hulle het die apostels weer ernstig gewaarsku om niks verder oor Jesus te sê nie. Maar op die ou end moes hulle vir Petrus en Johannes laat gaan. Baie mense het van die wonderwerk gehoor en begin om God te loof. Die verlamde man was immers al oor die 40 jaar oud. Almal in Jerusalem het oor sy genesing gepraat.