Terwyl hulle nog besig was om die volk toe te spreek, het die priesters en die bevelvoerder van die tempelwag en die •Sadduseërs op hulle afgekom, hewig ontsteld omdat hulle die volk onderrig en in Jesus die opstanding uit die dood verkondig. Hulle het hulle toe gevange geneem en onder bewaking geplaas tot die volgende môre, omdat dit reeds aand was. Baie van die mense wat die toespraak gehoor het, het egter tot geloof gekom, sodat die getal manne tot ongeveer vyfduisend aangegroei het.
Die volgende dag het hulle leiers en familiehoofde en skrifkenners in Jerusalem bymekaargekom – ook Annas, die hoëpriester, en Kajafas en Johannes en Aleksander, en almal wat tot die hoëpriesterlike familie behoort het. Hulle het •Petrus en Johannes in die middel laat staan en vir hulle gevra: “Deur watter krag of deur watter naam het julle dit gedoen?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers van die volk en familiehoofde, as ons vandag verhoor word oor 'n goeie daad aan 'n siek man waardeur hy gesond geword het, moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret
“wat julle gekruisig het,
wat God uit die dood opgewek het.
“Hy is
“ ‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is,
en die hoeksteen geword het.’
“Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie. ” Toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien en besef dat hulle ongeleerd en leke is, was hulle verbaas en het hulle hulle herken as mense wat saam met Jesus was. Maar omdat hulle die man wat gesond gemaak is, by hulle sien staan het, kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat, en met mekaar beraadslaag: “Wat gaan ons met hierdie mense doen? Dit is immers vir al die inwoners van Jerusalem duidelik dat 'n onmiskenbare teken deur hulle toedoen plaasgevind het. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te verhoed dat dit verder onder die volk versprei, laat ons hulle dreig, sodat hulle nie meer met enige mens in hierdie Naam praat nie.” Hulle het hulle toe teruggeroep en hulle beveel om hoegenaamd nie meer in die Naam van Jesus te praat of onderrig te gee nie. Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle as gevolg van die volk se houding nie 'n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. Die man oor wie hierdie teken van genesing gekom het, was immers ouer as veertig jaar.