Nadat die reëlings klaar was vir die seereis na Italië waar Paulus voor die keiser moes gaan verskyn, is hy en ’n groep ander gevangenes in die sorg van ’n Romeinse kaptein genaamd Julius geplaas. Hy was ’n offisier in die keiserlike regiment. Ek, Lukas, en Aristargos, ’n gelowige uit Tessalonika in die Romeinse provinsie Masedonië, het Paulus vergesel. Ons het met ’n skip uit Adramittium gereis wat op pad was na ’n paar hawens in Asië. Die volgende dag het ons skip in Sidon aangekom. Julius, die Romeinse bevelvoerder, het Paulus toegelaat om gou ’n paar vriende daar te besoek.
Van Sidon af het ons noordwaarts gereis. Ons het aan die onderkant van die eiland Siprus verbygevaar waar ons beskut was teen die sterk wind. Van daar af het ons al langs die kus van Silisië en Pamfilië af tot by Mira in Lisië gevaar.
In Mira het ons op ’n ander skip geklim wat op pad was Italië toe. As gevolg van stormweer op die see het ons van daar af baie stadig gevaar. Uiteindelik het ons met ’n groot gesukkel tot regoor Knidus gekom. As gevolg van die sterk stormwind moes ons van roete verander. Ons het aan die beskutte kant van die eiland Kreta by Salmone verbygevaar. Toe ons uiteindelik daar verby is, het ons by ’n plek met die naam Mooi Hawens aangekom. Dit is naby die stad Lasea.
As gevolg van die sterk stormwinde op die see het ons baie tyd verloor. Boonop was die winter net om die draai. Die vastyd wat net voor die Joodse Versoendag plaasgevind en wat altyd in die herfs geval het, was ook al verby. Van dan af was dit baie gevaarlik om op die see te vaar. Op ’n dag het Paulus almal op die skip gewaarsku: “Manne, daar wag ’n groot ramp op ons. Ek sien dat ons skip met vrag en al sal vergaan. Heelwat mense sal ook in die ramp omkom.”
Die Romeinse offisier het toe vir die kaptein van die skip en vir die eienaar gaan vra wat om te doen. Hulle het vir hom gesê dat Mooi Hawens se hawe nie die regte plek was om tydens die winter oor te bly nie. Die offisier het hulle raad aanvaar en saam met die res van die bemanning besluit om verder te vaar. Hulle wou so gou moontlik by Feniks uitkom. Hierdie hawe, wat na die suidweste en na die noordweste met die see verbind is, was volgens hulle ’n meer geskikte plek om te oorwinter.
Die volgende dag het ’n ligte suidewind begin waai. Dadelik is die skip se anker gelig, omdat die bemanning gedink het dat die weer nou reg was om veilig tot in Feniks te vaar. Ons was egter skaars by Kreta verby of ons loop ons in daardie gevreesde noordoostewind vas waarvoor al die seevaarders so bang is.
Hierdie stormwind, wat die Eurakilon genoem word, het ons skip soos ’n stukkie papier meegesleur. Ons kon dit glad nie op koers hou nie.
Toe ons later naby die eiland Kauda kom, het ons na ’n groot gesukkel ons reddingsbootjie, wat agter die skip met ’n tou vasgemaak was, aan boord gekry. Daarna het die matrose toue onder om die skip vasgemaak. Dit het die skip se romp versterk teen die storm. Omdat hulle bang was dat die skip hom op die sandbanke te pletter sou loop, het hulle die dryfankers ook laat sak. Ons het begin wegdryf van die gevaarlike kuslyn af.
Die storm het ons skip heen en weer op die see geslinger. Die volgende dag is die vrag in die see gegooi om die skip ligter te maak. En die dag daarna moes almal aan boord hand bysit om die skip se toerusting ook in die see te gooi.
Dae lank kon ons glad nie die son of die sterre sien nie. Omdat die storm net nie wou bedaar nie, het ons later alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.
Paulus het nou vir ons almal gesê: “Julle moes vroeër na my geluister het toe ek julle daar in Kreta gewaarsku het om nie verder te vaar nie. Dan sou julle hierdie ramp vrygespring het. Maar dit help nie om mekaar nou hieroor te verwyt nie.Julle moenie moed opgee nie. Ek verseker julle: niemand aan boord sal iets oorkom nie. Net die skip sal vergaan.
“Gisteraand het ’n engel van die God wat ek dien aan my verskyn en gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. Daarom sal God sorg dat jy lewend daar aankom. God het ook besluit om die lewe van almal saam met jou op die skip te spaar.’
“Hou daarom moed, vriende. Ek glo dat alles presies net so sal gebeur soos God gesê het.
“Ons gaan binnekort op ’n eiland strand.”
Teen middernag op die veertiende dag dat ons deur die storm op die see rondgeslinger is, het die matrose agtergekom dat ons naby land kom. Hulle het twee keer kort na mekaar met ’n dieplood die water se diepte gemeet. Met die eerste meting was die water 30 meter diep. Met die tweede was dit 27 meter diep. Omdat hulle bang was dat die skip op die rotse sou loop, het hulle gou vier ankers aan die agterkant van die skip uitgegooi. Toe het almal begin wag op die dagbreek.
’n Paar matrose het besluit om stilletjies met die reddingsbootjie weg te kom. Hulle het die bootjie in die water laat sak en voorgegee dat hulle nog ankers in die water wou gaan uitsit. Paulus het dadelik agtergekom waarmee hulle besig was en vir die Romeinse offisier en sy soldate gesê: “As hierdie mense nie aan boord bly nie, gaan ons dit nie oorleef nie.” Dié keer het die Romeinse offisier na Paulus geluister. Hy het dadelik sy soldate beveel om al die toue wat die reddingsbootjie aan die skip vasgehou het, af te kap. Die bootjie het weggedryf.
Toe dit dag begin word, het Paulus almal aangemoedig om te eet. “Dit is nou die veertiende dag dat ons sonder kos klaarkom,” het hy gesê. “Maar nou moet julle almal iets eet. Ons het krag nodig vir die laaste entjie land toe wat nog vir ons voorlê.
“Moenie bekommerd wees nie. Nie een van julle sal iets oorkom nie. Daar sal nie eens ’n haartjie uit julle kop val nie.”
Daarna het Paulus self ’n stuk brood geneem. Nadat hy God voor almal gedank het, het hy begin eet. Vol moed het almal sy voorbeeld gevolg en ook begin eet. Nadat al 276 mense op die skip geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die vrag koring in die see te gooi.
Teen dagbreek het almal gekyk of hulle die land kon herken, maar dit het nie bekend gelyk nie. Hulle het egter ’n baai met ’n strand opgemerk en besluit om die skip daar te laat strand. Dadelik het hulle die skip se ankertoue afgekap en die toue losgemaak wat die skip se roer vasgehou het. Hulle het ook die voorseil gehys sodat hulle land toe kon vaar.
’n Ent van die strand af het die skip egter op ’n sandbank geloop. Dit het viervoet in die golwe vasgesteek. Terwyl die skip daar vasgesit het, het groot golwe die agterstewe stukkend geslaan. Die Romeinse soldate het besluit om al die gevangenes dood te maak sodat nie een van hulle kon ontsnap nie. Die bevelvoerder het hulle egter gekeer omdat hy graag Paulus se lewe wou spaar. Hy het gesê dat diegene aan boord wat kon swem, eerste in die see moes spring en land toe moes swem. Dié wat nie kon swem nie, moes ’n stuk hout gryp en daarmee land toe dryf. Op dié manier het almal die land veilig bereik.