HANDELINGE 27:1-44
HANDELINGE 27:1-44 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe daar besluit is dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes uitgelewer aan 'n centurio van die keiserlike kohort soldate met die naam Julius. Ons het aan boord gegaan van 'n skip uit Adramittium wat gereed was om na plekke langs die kus van Asië te vaar, en toe weggeseil. Aristargus, 'n Macedoniër uit Thessalonika, was saam met ons. Die volgende dag het ons by Sidon anker gegooi, en Julius het heel welwillend teenoor Paulus opgetree en hom toegelaat om na sy vriende te gaan en om hulle sorg te geniet. Van daar af het ons weggeseil, en omdat die wind teen ons was, het ons aan die beskutte kant van Ciprus verbygevaar. Nadat ons die oop see langs Silisië en Pamfilië oorgesteek het, het ons by Mira in Lisië aangekom. Daar het die centurio 'n skip uit Aleksandrië gevind wat na Italië vaar, en ons aan boord laat gaan. Vir 'n hele paar dae het ons maar stadig gevaar, en met moeite naby Knidus gekom. Omdat die wind ons nie toegelaat het nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta, by Salmone, verbygevaar. Nadat ons met moeite daarlangs verby beweeg het, het ons aangekom by 'n plek bekend as Mooi Hawens, wat naby die stad Lasea was. Aangesien heelwat tyd al verloop het, en dit gevaarlik geword het om te vaar – die Vasdag was immers reeds verby – het Paulus hulle gewaarsku deur vir hulle te sê: “Manne, ek sien dat die vaart skade en groot verlies sal meebring, nie alleen aan die vrag en die skip nie, maar ook aan ons eie lewens.” Maar die centurio het meer waarde geheg aan die stuurman en die skeepseienaar se oordeel as aan Paulus se woorde. Omdat die hawe nie geskik was vir oorwintering nie, het die meerderheid besluit om daarvandaan uit te vaar en om, indien moontlik, Feniks te bereik – 'n hawe in Kreta met 'n uitkyk op die suidweste en die noordweste – en daar te oorwinter. Toe 'n ligte suidewind begin waai, het hulle gedink hulle kon hulle voorneme uitvoer. Hulle het die anker gelig en al langs die kus van Kreta verby beweeg. Maar dit was nie lank nie, of daar swiep van die land af 'n stormwind neer wat as die Eurakilon bekend staan. Omdat die skip meegesleur is en nie in staat was om teen die wind in te beur nie, het ons ons daaraan oorgegee en weggedryf. Toe ons aan die beskutte kant van 'n klein eilandjie bekend as Cauda kom, het ons met moeite daarin geslaag om die sloep onder beheer te kry. Nadat die bemanning die sloep opgehys het, het hulle toue onder die skip deurgetrek om dit te verstewig. Omdat hulle bang was dat hulle op die Sirtis sou strand, het hulle die dryfanker laat sak, en so het hulle weggedryf. Omdat ons so geweldig deur die storm geteister is, het hulle die volgende dag begin om die skeepsvrag oorboord te gooi, en op die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi. Die son en die sterre het vir baie dae nie geskyn nie, en die storm het ook nie in hewigheid afgeneem nie, sodat alle hoop om gered te word, ons ontneem is. Daar was 'n ernstige tekort aan kos. Toe het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie weggevaar het van Kreta af nie. Dan sou ons hierdie skade en verlies kon voorkom het. En nou roep ek julle op om moed te hou, want daar sal geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal vergaan. Verlede nag het 'n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan en gesê, ‘Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk.’ Daarom, hou moed, manne, want ek vertrou op God dat dit net so sal gebeur soos aan my gesê is. Ons moet egter op een of ander eiland strand.” Teen die veertiende nag het ons steeds op die Adriatiese See rondgedryf. Om middernag het die matrose vermoed dat hulle naby land kom. Hulle het 'n peiling geneem, en gevind dat dit twintig vaam diep is. Hulle het 'n entjie verder gevaar en weer 'n peiling geneem, en gevind dat die diepte vyftien vaam is. Omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle vier ankers van die skip se agterstewe afgegooi en gebid dat dit dag moet word. Toe die matrose probeer om van die skip af te vlug, en die sloep in die see neerlaat onder die voorwendsel dat hulle die ankers van die boeg af wou laat sak, het Paulus aan die centurio en die soldate gesê: “As hulle nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die sloep afgekap en dit laat val. Net voor dagbreek het Paulus by almal begin aandring om iets te eet. Hy het gesê: “Vandag is al die veertiende dag dat julle sonder kos bly wag en niks inneem nie. Daarom dring ek by julle daarop aan om voedsel in te neem, want dit sal bydra tot julle redding. Daar sal nie 'n haar van een van julle se kop verlore gaan nie. ” Nadat hy dit gesê het, het hy 'n stuk brood geneem, God voor almal gedank, die brood gebreek en begin eet. Almal het moed geskep en self ook begin eet. Ons was altesaam tweehonderd ses-en-sewentig mense op die skip. Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi. Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het wel 'n baai met 'n strand gewaar, waar hulle besluit het om die skip op die sand te laat loop as hulle kon. Hulle het die ankers afgekap en in die see laat val en tegelykertyd die roertoue losgemaak, die voorseil gehys en windaf op die strand afgestuur. Hulle het egter 'n rif met see aan weerskante getref, en daar het die skip gestrand. Die boeg het vasgesteek en bewegingloos gebly, en die agterstewe het deur die geweld van die golwe begin opbreek. Die soldate se plan was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon ontsnap deur uit te swem nie. Maar die centurio wou Paulus red, en het hulle plan verydel. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en aan land te gaan, en daarna die res – sommige op planke, ander op wrakstukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.
HANDELINGE 27:1-44 Bybel vir almal (ABA)
Die amptenare het besluit dit is tyd dat Paulus en ons met 'n skip na die land Italië moet seil. Die soldate het toe vir Paulus en party ander gevangenes vir Julius gegee. Julius was die offisier van 'n groep soldate van die keiser. Ons het op 'n skip geklim wat na die stad Adramittium sou seil, want ons wou gaan na plekke in die provinsie Asië. Die skip het begin seil. Aristargus was ook saam met ons. Hy was 'n man van die stad Tessalonika in die provinsie Masedonië. Die volgende dag het die skip by die stad Sidon aangekom. Julius was vriendelik met Paulus. Julius het gesê Paulus mag na sy vriende in Sidon gaan sodat hulle vir hom kan sorg. Die volgende dag het ons weggeseil van Sidon. Ons het toe by die eiland Siprus verbygeseil. Die wind het sterk teen ons gewaai en daarom het ons langs Siprus verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie. Ons het met die skip oor die see langs die lande Silisië en Pamfilië geseil. Ons het geseil tot by die stad Mira in die land Lisië. In Mira het die offisier 'n skip gekry wat van die stad Aleksandrië gekom het. Die skip sou na Italië seil. Die offisier het toe vir ons gesê ons moet op daardie skip klim. Ons het lank geseil, en nadat ons skip baie gesukkel het, het ons naby die stad Knidus gekom. Maar die wind het sterk teen ons gewaai, en daarom het ons langs die eiland Kreta verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie. Ons was oorkant die stad Salmone. Ons het verby Salmone geseil, maar ons het baie gesukkel. Toe het ons by 'n plek gekom, die plek se naam was Mooi Hawens. Dit was naby die stad Lasea. Ons het lank geseil. Dit was ook laat in die jaar, die winter was naby, en dit was toe gevaarlik om met 'n skip te seil. Daarom het Paulus vir die offisier en sy manne gesê: “Vriende, ons moenie nou verder seil nie. Dit is baie gevaarlik en ons sal baie dinge verloor. Ons sal die goed op die skip verloor, en ook die skip én ons lewens.” Maar die offisier het geluister na wat die kaptein van die skip en die eienaar van die skip vir hom gesê het, hy wou nie na Paulus luister nie. 'n Mens kon nie die hele winter by Mooi Hawens bly nie. Daarom het die meeste mense op die skip gesê ons moet verder seil en ons moet probeer om tot by Feniks te kom. Feniks was 'n hawe van die eiland Kreta. Dit was 'n veilige plek om te bly terwyl dit winter is, want die suidweste-kant en die noordweste-kant van die hawe was oop. Die suidewind het saggies gewaai. Toe dink hulle dat hulle plan kan slaag, die plan om tot by die hawestad Feniks te seil. Daarom het hulle die skip se anker opgetrek en hulle het begin seil. Hulle het naby die eiland Kreta verbygeseil. Maar hulle het nie lank geseil nie, toe begin 'n baie sterk wind waai, die wind het van Kreta gekom. Dit was 'n noordooste-wind, die wind se naam was Eurakilon. Die wind het die skip saamgesleep. Ons kon nie die skip draai sodat dit teen die wind seil nie. Daarom het ons die skip gelos sodat dit gedryf het, saam met die wind. Ons het die skip verby 'n klein eiland gestuur, die eiland se naam was Kauda. Die wind was daar nie baie sterk nie. Toe het ons baie gesukkel om te keer sodat die klein bootjie nie wegdryf van die skip nie. Die matrose het die klein bootjie opgetrek en hulle het dit bo-op die skip vasgemaak. Toe het hulle toue om die skip gebind en so het hulle probeer om die skip sterker te maak. Hulle was bang dat die wind die skip sal stoot tot by die sandbanke van Sirtis, dan sou die skip stukkend breek. Daarom het hulle 'n seil aan 'n tou vasgemaak en hulle het die seil in die see gegooi om die skip stadiger te laat dryf. So het ons verder gedryf. Dit was 'n kwaai storm. Daarom het die matrose die volgende dag begin om die goed wat op die skip was, in die see te gooi. Op die derde dag het hulle self ook baie van die skip se seile en toue en pale in die see gegooi. Ons het baie dae lank nie die son gesien nie, ook nie die sterre nie, en die storm was baie kwaai. Daarom het ons opgehou om te hoop, ons het gedink dat ons sal sterf. Hulle het 'n lang tyd niks geëet nie. Paulus het toe opgestaan en hy het tussen hulle gaan staan en gesê: “Vriende, ek het gesê ons moenie wegseil van Kreta nie. Hoekom het julle nie na my geluister nie? Dan het julle nie nou hierdie groot probleme gehad nie, en dan het julle ook nie julle goed verloor nie. Maar nou wil ek vir julle sê wat julle moet doen. Julle moet sterk wees. Nie een van julle sal sterf nie, maar die skip sal stukkend breek en sink. Want gisternag het daar 'n engel by my kom staan. Dit was 'n engel van God, ek behoort aan daardie God, Hy is die God wat ek dien. Die engel het vir my gesê: ‘Paulus, jy moenie bang wees nie. Jy moet voor die regterstoel van die keiser in Rome gaan staan. God sal ook goed wees vir almal wat saam met jou op die boot is. Hy sal hulle red omdat Hy jou wil red.’ Vriende, daarom moet julle nie moedeloos wees nie! Ek glo dat God dit sal doen, ek glo dit sal gebeur soos die engel vir my gesê het. Maar die skip sal stukkend breek by een van die eilande.” Dit was 14 dae nadat die storm begin het. Dit was nag, en die skip het rondgedryf in die Adriatiese See. Dit was in die middel van die nag. Die matrose het gedink die skip kom naby die land. Hulle het gemeet hoe diep dit is. Dit was 20 vaam. Die skip het verder gedryf. Hulle het weer gemeet hoe diep dit is en dit was toe 15 vaam. Hulle was bang dat die skip stukkend sal breek op die rotse. Daarom het hulle vier ankers vasgemaak aan toue en hulle het die ankers afgegooi by die agterkant van die skip. Hulle het gebid dat dit dag moet word. Party van die matrose wou wegkom van die skip. Hulle het gemaak of hulle ook ankers by die voorkant van die skip wil afgooi. Maar hulle het die klein bootjie geneem en hulle wou dit in die see laat sak en probeer om met die bootjie weg te kom van die skip. Toe sê Paulus vir die offisier en vir die soldate: “Daardie matrose moet op die skip bly. As hulle nie op die skip bly nie, dan sal God nie vir julle red nie.” Toe het die soldate die toue van die klein bootjie afgekap en hulle het die bootjie in die see laat val. Net voor dit dag geword het, het Paulus almal bemoedig en hy het gesê hulle moet iets eet. Hy het gesê: “Julle is bang vir wat sal gebeur, en julle het 14 dae lank nie geëet nie. Daarom vra ek nou mooi vir julle dat julle moet eet, want dit sal help dat julle aanhou lewe. Want julle moet weet dat daar nie een haar van iemand se kop sal afval nie, God sal julle beskerm.” Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem en gebid en hy het vir God dankie gesê. Almal het gesien hoe hy dit doen. Toe het hy die brood gebreek en hy het begin om dit te eet. Paulus het hulle almal bemoedig en hulle het ook begin eet. Ons was 276 mense op die skip. Nadat almal genoeg geëet het, het hulle die koring wat op die skip was, in die see gegooi. Hulle het dit gedoen om die skip ligter te maak. Dit het dag geword. Hulle het land gesien, maar hulle het nie geweet watter plek dit is nie. Hulle het 'n strand gesien, daar was nie rotse nie. Toe het hulle gedink hulle sal probeer om die skip op die strand te laat stop. Hulle het die ankers se toue afgesny en hulle het die ankers in die see gelos. Hulle het ook die toue om die roeispane losgemaak. En hulle het die seil wat voor op die skip was, oopgemaak sodat die wind die skip vorentoe kon waai. Hulle het probeer om die skip na die strand te stuur. Maar die skip het teen 'n sandbank vasgeseil en die voorste deel van die skip het vasgesit. Dit kon nie beweeg nie. Toe het die sterk branders die agterste deel van die skip stukkend geslaan. En die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak sodat hulle nie na die land kon swem en dan kon weghardloop nie. Maar die offisier wou vir Paulus red en hy het die soldate gekeer. Die soldate kon nie doen wat hulle wou doen nie. Toe het die offisier gesê dat almal wat kan swem, eerste in die see moet spring en hulle moet na die land swem. Daarna moes almal wat nie kon swem nie, probeer om by die land te kom. Party mense het op planke na die land gegaan en party mense het op stukke van die skip gegaan. So het almal veilig by die land uitgekom.
HANDELINGE 27:1-44 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe daar besluit is dat ons moes wegvaar na Italië, het hulle Paulus en sommige ander gevangenes oorgegee aan 'n hoofman oor honderd van die keiserlike leërafdeling, met die naam van Július. En nadat ons in 'n skip van Adramíttium gegaan het met die doel om by die aanlegplekke in Asië aan te gaan, het ons afgevaar, en Aristárchus van Macedónië, 'n man van Thessaloníka, was saam met ons. En die volgende dag het ons by Sidon aangekom. En Július het Paulus mensliewend behandel en hom toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang. En daarvandaan het ons afgevaar en onderkant Ciprus verbygeseil, omdat die winde teen ons was. Ons het daarop die see langs Cilícië en Pamfílië deurgevaar en by Mira in Licië aangekom. En daar het die hoofman oor honderd 'n skip van Alexandríë gevind wat na Italië vaar, en ons daarop laat oorklim. En verskeie dae het ons langsaam gevaar en met moeite teenoor Cnidus gekom; en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Kreta langs gevaar, teenoor Salmóne. En toe ons met moeite dit verbygeseil het, kom ons by 'n plek wat genoem word Mooi Hawens, in die nabyheid waarvan die stad Laséa is. En omdat 'n geruime tyd verloop en die skeepvaart al gevaarlik geword het en die vastyd ook al verby was, het Paulus hulle gewaarsku en gesê: Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe. Maar die hoofman oor honderd het meer aan die stuurman en die eienaar van die skip geglo as aan die woorde van Paulus; en omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moontlik Fenix te bereik om te oorwinter, 'n hawe in Kreta wat ooplê na die suidweste en na die noordweste. En toe die suidewind saggies waai, het hulle gedink dat hulle hul voorneme kon uitvoer en die ankers gelig en langs Kreta verbygeseil. Maar nie lank daarna nie het 'n stormwind wat Euroklídon genoem word, daarvandaan neergeslaan. En toe die skip meegesleep is en nie teen die wind op kon seil nie, het ons dit opgegee en weggedrywe. En toe ons onderkant 'n eilandjie kom wat Clauda genoem word, kon ons met moeite die sleepbootjie onder beheer hou. En nadat hulle dit opgetrek het, het hulle gebruik gemaak van hulpmiddels deur die skip onderom te gord; en omdat hulle bang was om op die Sirtis te lande te kom, het hulle die seile neergehaal; en so het hulle dan weggedrywe. En terwyl ons geweldig deur die storm geteister is, het hulle op die volgende dag van die vrag uitgegooi; en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi. En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en 'n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem. En nadat hulle lank sonder ete was, het Paulus in hul midde opgestaan en gesê: Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het. Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. Want daar het in hierdie nag by my gestaan 'n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is. Maar ons moet op 'n sekere eiland strand. En toe die veertiende nag kom, terwyl ons nog in die Adriatiese See ronddrywe, het die matrose omtrent middernag vermoed dat hulle naby land kom. Daarop gooi hulle die dieplood uit en kry twintig vaam; en nadat hulle 'n bietjie verder gegaan het, gooi hulle die dieplood uit en kry vyftien vaam. En omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle van die agterskip vier ankers uitgegooi en gewens dat dit dag word. Maar die matrose het probeer om uit die skip te vlug en die sleepbootjie in die see laat sak onder die voorwendsel dat hulle ankers van die voorskip af wou uitgooi. Toe sê Paulus vir die hoofman oor honderd en die soldate: As hierdie manne nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie. Daarop het die soldate die toue van die sleepbootjie afgekap en hom laat afval. En teen die tyd dat dit dag sou word, het Paulus almal aangemoedig om voedsel te gebruik en gesê: Dit is vandag die veertiende dag dat julle in afwagting bly vas sonder om iets te gebruik. Daarom raai ek julle aan om voedsel te neem, want dit dien tot julle behoud; want van niemand onder julle sal 'n haar van sy hoof val nie. Toe hy dit gesê het, neem hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet. En hulle het almal moed geskep en self ook voedsel geneem. En ons was in die skip altesaam tweehonderd-ses-en-sewentig siele. En nadat hulle met voedsel versadig was, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi. En toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie; maar hulle het 'n inham met 'n strand bemerk, waarop hulle van plan was om die skip te laat loop as hulle kon. En hulle het die ankers afgekap en in die see laat lê en tegelykertyd die roertoue losgemaak. En hulle het die voorseil teen die wind opgetrek en op die strand aangestuur. En hulle het op 'n plek verval met die see aan weerskante en die skip laat strand; en die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit, maar die agterskip is deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan. Nou was dit die plan van die soldate om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon uitswem en ontsnap nie. Maar die hoofman oor honderd wou Paulus red en het hulle verhinder in hulle voorneme en bevel gegee dat die wat kon swem, eerste in die see moes spring om aan land te kom, en die ander, sommige op planke en sommige op stukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.
HANDELINGE 27:1-44 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe ons vertrek na Italië toe bepaal was, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes aan Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment, oorhandig. Ons het weggevaar aan boord van 'n skip van Adramittium wat by die hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargos, 'n Masedoniër van Tessalonika. Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien. Ons het daarvandaan weggevaar en ons is aan die beskutte kant van Siprus verby, omdat die wind teen ons was. Met Silisië en Pamfilië aan ons regterkant het ons die see oorgesteek en Mira in Lisië bereik. Daar het die offisier 'n Aleksandrynse skip gekry wat na Italië toe sou vaar, en ons daarop gesit. Ons het dae lank stadig gevaar en met moeite regoor Knidus gekom. Toe die wind ons nie toegelaat het om verder op dié koers voort te gaan nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta by Salmone verby gevaar. Ons het met moeite langs die kus op gevaar en 'n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea. Ons het baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik geword vir skeepvaart, want dit het al begin winter word. Paulus waarsku hulle toe: “Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.” Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die mening van die kaptein en die eienaar van die skip as aan wat Paulus gesê het. Die hawe was nie geskik om daar te oorwinter nie, en die meeste wou liewer daarvandaan wegvaar en probeer om Feniks te bereik. Feniks was 'n hawe van Kreta wat suidwes en noordwes see toe oop lê. Daar sou hulle kon oorwinter. 'n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die manne het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Die anker is gelig, en hulle het so na moontlik aan die kus van Kreta gevaar. Maar dit was nie lank nie toe waai daar 'n stormwind van die land af, die Noordoos, genoem die Eurakilon. Die wind het die skip meegesleur. Omdat dit onmoontlik was om die skip se boeg wind op te hou, het ons dit opgegee en wind af gedrywe. Ons het 'n bietjie beskutting gevind toe ons onderkant die eilandjie Kauda langs kom. Daar kon ons darem met moeite die bootjie van die skip in veiligheid bring. Nadat die matrose die bootjie opgehaal het, het hulle as noodmaatreël 'n paar toue styf onder om die skip vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat drywe. Omdat ons baie swaar gekry het in die storm, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. Die dag daarna het hulle eiehandig ook die skip se toerusting in die see gegooi. Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word. Nadat hulle 'n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’ Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het. Dit is so bestem dat ons êrens op 'n eiland moet strand.” Die veertiende nag dat ons so op die Adriatiese See rondgeslinger is, teen middernag, het die matrose vermoed dat ons naby land kom. Hulle het 'n dieplood uitgegooi en 'n diepte van ses en dertig meter gekry. 'n Bietjie verder het hulle weer die dieplood uitgegooi, en toe was dit sewe en twintig meter. Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: “As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val. Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: “Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet. Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal 'n haar van sy kop verloor nie.” Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet. Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet. Ons was altesaam twee honderd ses en sewentig mense aan boord. Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die vrag koring in die see gegooi en so die skip nog ligter gemaak. Toe dit dag word, kon hulle nie die land herken nie, maar hulle het 'n baai met 'n strand gesien. Hulle besluit toe om die skip daar te laat strand as hulle kon. Hulle het die ankers afgekap en in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys, sodat die wind die skip strand toe kon voer. Maar die skip het op 'n sandbank geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe is deur die geweld van die golwe stukkend geslaan. Die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle dalk kon uitswem en ontsnap nie. Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle verhinder om dit te doen. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en land toe te swem. Die ander moes dan volg deur aan planke en ander wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het almal veilig aan land gekom.
HANDELINGE 27:1-44 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe daar besluit was dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en sekere ander gevangenes oorgegee aan een met die naam van Julius, 'n hoofman oor honderd uit die bende van Augustus. En ons het in 'n skip van Adramyttium geklim, ons het te water gelaat, bedoelende om langs die kusgebiede van Asië te vaar; ene Aristarchos, 'n Masedoniër van Tessalonika, by ons. En die volgende dag het ons by Sidon aangeraak. En Julius het Paulus hoflik gesmeek en hom die vryheid gegee om na sy vriende te gaan om homself te verkwik. En toe ons daarvandaan weggegaan het, het ons onder Ciprus deur gevaar, omdat die winde teenstrydig was. En toe ons oor die see van Cilicië en Pamfilië gevaar het, het ons by Myra gekom, 'n stad van Licië. En daar het die hoofman oor honderd 'n skip van Alexandrië gevind wat na Italië vaar; en hy het ons daarin gesit. En toe ons baie dae stadig geseil het, en skaars teen Cnidus oorgekom het, terwyl die wind ons nie verdra het nie, het ons onder Kreta deur gevaar, teenoor Salmone; En, amper verby, kom hy by 'n plek wat genoem word Die mooi hawens; naby waar was die stad Lasea. En toe daar baie tyd deurgebring is, en toe die vaar nou gevaarlik was, omdat die vas nou reeds verby was, het Paulus hulle vermaan: En hy sê vir hulle: Menere, ek sien dat hierdie reis met seer en groot skade sal wees, nie net van die vrag en die skip nie, maar ook van ons lewens. Maar die hoofman oor honderd het meer geglo aan die eienaar en die eienaar van die skip as wat Paulus gesê het. En omdat die hawe nie geskik was om in te oorwinter nie, word die meeste aangeraai om ook daarvandaan te vertrek, as hulle op enige manier na Fenisië en daar sou oorwinter; wat 'n hawe van Kreta is, en lê na die suidweste en noordwes. En toe die suidewind sag gewaai het, met die veronderstelling dat hulle hul doel bereik het, en daarvandaan verloor, het hulle naby Kreta gevaar. Maar nie lank daarna nie het daar 'n stormwind teen hom opgekom, wat Euroclydon genoem word. En toe die skip gevang was en nie in die wind kon opstaan nie, het ons haar laat ry. En ons het onder 'n sekere eiland gehardloop wat Claudia genoem word, en ons het baie werk gehad om met die skuit te kom. En toe hulle opgeneem het, het hulle hulp gebruik om die skip te omgord; en uit vrees dat hulle in die dryfsand sou val, het hulle seil gejaag, en so is hulle gedryf. En toe ons uitermate deur 'n storm gegooi is, het hulle die skip die volgende dag verlig; En op die derde dag het ons die takelwerk van die skip met ons eie hande uitgewerp. En toe die son of sterre in baie dae nie verskyn het nie, en geen klein storm op ons kom nie, is alle hoop dat ons gered sou word, weggeneem. Maar na lang onthouding het Paulus in die midde van hulle opgestaan en gesê: Menere, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggegaan het nie, en hierdie skade en verlies opgedoen het. En nou vermaan ek julle om goeie moed te hou, want daar sal geen mens se lewe onder julle verloor nie, behalwe van die skip. Want in hierdie nag het die engel van God by my gestaan, wie s'n ek is en wat ek dien, en gesê: Moenie vrees nie, Paulus! jy moet voor die keiser gebring word, en kyk, God het aan jou gegee almal wat saam met jou vaar. Daarom, menere, hou goeie moed, want ek glo God, dat dit sal wees soos aan my gesê is. Maar ons moet op 'n sekere eiland gewerp word. Maar toe die veertiende nag aanbreek, toe ons in Adria op en af gery is, het die skeepsmanne omtrent middernag gedink dat hulle naby 'n land gekom het; En hulle het geblaas en dit twintig vaam gevind; Toe hulle bang was dat ons op rotse sou val, het hulle vier ankers uit die agterstewe gegooi en vir die dag gewens. En toe die skeepsmanne op die punt was om uit die skip te vlug, toe hulle die skuit in die see laat sak het, onder kleur asof hulle ankers uit die voorskip sou werp, Paulus sê vir die hoofman oor honderd en die soldate: As hulle nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie. Toe het die soldate die toue van die skuit afgesny en haar laat afval. En terwyl die dag aanbreek, het Paulus almal gesmeek om voedsel te eet en gesê: Dit is vandag die veertiende dag dat julle vertoef en aanhou vas sonder dat julle niks geneem het nie. Daarom bid ek julle om vleis te neem, want dit is vir julle gesondheid, want daar sal geen haar van die kop van een van julle val nie. En nadat hy dit gesê het, neem hy brood en dank God voor almal; en nadat hy dit gebreek het, het hy begin eet. Toe het hulle almal goeie moed gehad, en hulle het ook vleis geneem. En ons was altesaam in die skip twee honderd sestien en sestig siele. En toe hulle genoeg geëet het, het hulle die skip ligter gemaak en die koring in die see gegooi. En toe dit dag geword het, het hulle die land nie geken nie, maar hulle het 'n sekere spruit met 'n oewer ontdek waarin hulle van plan was om, as dit moontlik was, die skip in te steek. En toe hulle die ankers opgeneem het, het hulle hulleself aan die see oorgegee en die roerbande losgemaak en die grootseil na die wind opgehys en na die kus gegaan. En toe hulle op 'n plek geval waar twee seë mekaar ontmoet het, het hulle die skip laat strand; en die voorkant het vasgesteek en onbeweeglik gebly, maar die agterste deel is gebreek deur die geweld van die golwe. En die soldate se raad was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle sou uitswem en ontsnap nie. Maar die hoofman oor honderd, wat gewillig was om Paulus te red, het hulle van hulle voorneme weerhou; en het beveel dat die wat kon swem, hulle eers in die see moes werp en aan land kom. En die res, sommige op planke en ander op gebreekte stukke van die skip. En so het dit gebeur dat hulle almal veilig na die land ontsnap het.
HANDELINGE 27:1-44 Die Boodskap (DB)
Nadat die reëlings klaar was vir die seereis na Italië waar Paulus voor die keiser moes gaan verskyn, is hy en ’n groep ander gevangenes in die sorg van ’n Romeinse kaptein genaamd Julius geplaas. Hy was ’n offisier in die keiserlike regiment. Ek, Lukas, en Aristargos, ’n gelowige uit Tessalonika in die Romeinse provinsie Masedonië, het Paulus vergesel. Ons het met ’n skip uit Adramittium gereis wat op pad was na ’n paar hawens in Asië. Die volgende dag het ons skip in Sidon aangekom. Julius, die Romeinse bevelvoerder, het Paulus toegelaat om gou ’n paar vriende daar te besoek. Van Sidon af het ons noordwaarts gereis. Ons het aan die onderkant van die eiland Siprus verbygevaar waar ons beskut was teen die sterk wind. Van daar af het ons al langs die kus van Silisië en Pamfilië af tot by Mira in Lisië gevaar. In Mira het ons op ’n ander skip geklim wat op pad was Italië toe. As gevolg van stormweer op die see het ons van daar af baie stadig gevaar. Uiteindelik het ons met ’n groot gesukkel tot regoor Knidus gekom. As gevolg van die sterk stormwind moes ons van roete verander. Ons het aan die beskutte kant van die eiland Kreta by Salmone verbygevaar. Toe ons uiteindelik daar verby is, het ons by ’n plek met die naam Mooi Hawens aangekom. Dit is naby die stad Lasea. As gevolg van die sterk stormwinde op die see het ons baie tyd verloor. Boonop was die winter net om die draai. Die vastyd wat net voor die Joodse Versoendag plaasgevind en wat altyd in die herfs geval het, was ook al verby. Van dan af was dit baie gevaarlik om op die see te vaar. Op ’n dag het Paulus almal op die skip gewaarsku: “Manne, daar wag ’n groot ramp op ons. Ek sien dat ons skip met vrag en al sal vergaan. Heelwat mense sal ook in die ramp omkom.” Die Romeinse offisier het toe vir die kaptein van die skip en vir die eienaar gaan vra wat om te doen. Hulle het vir hom gesê dat Mooi Hawens se hawe nie die regte plek was om tydens die winter oor te bly nie. Die offisier het hulle raad aanvaar en saam met die res van die bemanning besluit om verder te vaar. Hulle wou so gou moontlik by Feniks uitkom. Hierdie hawe, wat na die suidweste en na die noordweste met die see verbind is, was volgens hulle ’n meer geskikte plek om te oorwinter. Die volgende dag het ’n ligte suidewind begin waai. Dadelik is die skip se anker gelig, omdat die bemanning gedink het dat die weer nou reg was om veilig tot in Feniks te vaar. Ons was egter skaars by Kreta verby of ons loop ons in daardie gevreesde noordoostewind vas waarvoor al die seevaarders so bang is. Hierdie stormwind, wat die Eurakilon genoem word, het ons skip soos ’n stukkie papier meegesleur. Ons kon dit glad nie op koers hou nie. Toe ons later naby die eiland Kauda kom, het ons na ’n groot gesukkel ons reddingsbootjie, wat agter die skip met ’n tou vasgemaak was, aan boord gekry. Daarna het die matrose toue onder om die skip vasgemaak. Dit het die skip se romp versterk teen die storm. Omdat hulle bang was dat die skip hom op die sandbanke te pletter sou loop, het hulle die dryfankers ook laat sak. Ons het begin wegdryf van die gevaarlike kuslyn af. Die storm het ons skip heen en weer op die see geslinger. Die volgende dag is die vrag in die see gegooi om die skip ligter te maak. En die dag daarna moes almal aan boord hand bysit om die skip se toerusting ook in die see te gooi. Dae lank kon ons glad nie die son of die sterre sien nie. Omdat die storm net nie wou bedaar nie, het ons later alle hoop laat vaar dat ons gered sou word. Paulus het nou vir ons almal gesê: “Julle moes vroeër na my geluister het toe ek julle daar in Kreta gewaarsku het om nie verder te vaar nie. Dan sou julle hierdie ramp vrygespring het. Maar dit help nie om mekaar nou hieroor te verwyt nie.Julle moenie moed opgee nie. Ek verseker julle: niemand aan boord sal iets oorkom nie. Net die skip sal vergaan. “Gisteraand het ’n engel van die God wat ek dien aan my verskyn en gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. Daarom sal God sorg dat jy lewend daar aankom. God het ook besluit om die lewe van almal saam met jou op die skip te spaar.’ “Hou daarom moed, vriende. Ek glo dat alles presies net so sal gebeur soos God gesê het. “Ons gaan binnekort op ’n eiland strand.” Teen middernag op die veertiende dag dat ons deur die storm op die see rondgeslinger is, het die matrose agtergekom dat ons naby land kom. Hulle het twee keer kort na mekaar met ’n dieplood die water se diepte gemeet. Met die eerste meting was die water 30 meter diep. Met die tweede was dit 27 meter diep. Omdat hulle bang was dat die skip op die rotse sou loop, het hulle gou vier ankers aan die agterkant van die skip uitgegooi. Toe het almal begin wag op die dagbreek. ’n Paar matrose het besluit om stilletjies met die reddingsbootjie weg te kom. Hulle het die bootjie in die water laat sak en voorgegee dat hulle nog ankers in die water wou gaan uitsit. Paulus het dadelik agtergekom waarmee hulle besig was en vir die Romeinse offisier en sy soldate gesê: “As hierdie mense nie aan boord bly nie, gaan ons dit nie oorleef nie.” Dié keer het die Romeinse offisier na Paulus geluister. Hy het dadelik sy soldate beveel om al die toue wat die reddingsbootjie aan die skip vasgehou het, af te kap. Die bootjie het weggedryf. Toe dit dag begin word, het Paulus almal aangemoedig om te eet. “Dit is nou die veertiende dag dat ons sonder kos klaarkom,” het hy gesê. “Maar nou moet julle almal iets eet. Ons het krag nodig vir die laaste entjie land toe wat nog vir ons voorlê. “Moenie bekommerd wees nie. Nie een van julle sal iets oorkom nie. Daar sal nie eens ’n haartjie uit julle kop val nie.” Daarna het Paulus self ’n stuk brood geneem. Nadat hy God voor almal gedank het, het hy begin eet. Vol moed het almal sy voorbeeld gevolg en ook begin eet. Nadat al 276 mense op die skip geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die vrag koring in die see te gooi. Teen dagbreek het almal gekyk of hulle die land kon herken, maar dit het nie bekend gelyk nie. Hulle het egter ’n baai met ’n strand opgemerk en besluit om die skip daar te laat strand. Dadelik het hulle die skip se ankertoue afgekap en die toue losgemaak wat die skip se roer vasgehou het. Hulle het ook die voorseil gehys sodat hulle land toe kon vaar. ’n Ent van die strand af het die skip egter op ’n sandbank geloop. Dit het viervoet in die golwe vasgesteek. Terwyl die skip daar vasgesit het, het groot golwe die agterstewe stukkend geslaan. Die Romeinse soldate het besluit om al die gevangenes dood te maak sodat nie een van hulle kon ontsnap nie. Die bevelvoerder het hulle egter gekeer omdat hy graag Paulus se lewe wou spaar. Hy het gesê dat diegene aan boord wat kon swem, eerste in die see moes spring en land toe moes swem. Dié wat nie kon swem nie, moes ’n stuk hout gryp en daarmee land toe dryf. Op dié manier het almal die land veilig bereik.
HANDELINGE 27:1-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe daar besluit is dat ons per skip Italië toe moes reis, het hulle Paulus en ’n paar ander gevangenes aan Julius, ’n offisier oor honderd man van die keiserlike regiment, oorhandig. Vir die vaart het ons aan boord gegaan van ’n skip van Adramittium wat by verskeie hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargus, ’n Masedoniër van Tessalonika. Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus, en het hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan om hom te voorsien van wat hy nodig het. Ons het daarvandaan weggevaar en is aan die beskutte kant van Siprus verby omdat die winde teen ons was. Ons het al langs die kus van Silisië en Pamfilië gevaar tot by Mira in Lisië. Daar het die offisier ’n Aleksandrynse skip Italië toe gekry, en ons aan boord laat gaan. Ons het ’n klompie dae lank maar stadig kon vorder en met moeite naby Knidus gekom. Toe die wind te erg teen ons geraak het, het ons onder Kreta verbygevaar, verby Salmone. Ons het toe met moeite langs Kreta op gevaar en uiteindelik ’n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea. Ons het taamlik baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik vir skeepvaart geword, want die winter het begin aanbreek. Paulus waarsku hulle toe: “Manne, ek sien dat ons vaart gevaarlik gaan wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook aan ons lewens.” Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die opinie van die skeepskaptein en die skeepseienaar as aan Paulus se woorde. Die hawe was nie gerieflik om daar te oorwinter nie, en die meeste van die bemanning wou liewer daarvandaan wegvaar en Feniks probeer bereik om dáár te oorwinter. Feniks was ’n veilige hawe van Kreta omdat dit net na die suidwes- en noordweskant na die see toe oop was. ’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die bemanning het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Hulle het anker gelig en al langs die kus van Kreta gevaar. Maar dit was nie lank nie toe slaan daar ’n stormwind bekend as die Noordooster van die land af toe. Die skip is diepsee toe gedryf. Omdat dit onmoontlik was om die skip windop te hou, het ons ophou probeer, en ons is deur die wind voortgedryf. Ons het onder ’n eilandjie met die naam Kauda verbygevaar en kon amper nie die reddingsbootjie van die skip (wat altyd op sleeptou was) onder beheer kry nie. Nadat die matrose die reddingsbootjie aan boord gebring het, het hulle reddingstoue gebruik om die onderkant van die skip te verstewig. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis sou vasval, het hulle die dryfanker uitgegooi en die skip só deur die wind laat dryf. Toe die storm ons aanhoudend só erg teister, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. Die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi. Baie dae lank het die son en die sterre nie eers deurgekom nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word. Vir ’n lang tyd het niemand sy mond aan kos gesit nie. Uiteindelik het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Mooi Hawens in Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade gespaar gewees het. En nou vra ek julle: Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan. Verlede nag het daar ’n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is.’ Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het. Ons moet op ’n eiland strand.” Die veertiende nag wat ons so op die Adriatiese See rondgedobber het, teen middernag, het die matrose vermoed dat hulle naby land kom. Hulle het ’n dieplood uitgegooi en ’n diepte van 36 meter gekry. ’n Bietjie verder het hulle weer gemeet, en toe kry hulle 27 meter. Hulle was bang ons loop naderhand op die rotse en het daarom vier ankers by die agterstewe uitgegooi en gebid dit moet dag word. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die reddingsbootjie in die see begin neerlaat asof hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. Paulus sê toe vir die Romeinse offisier en sy soldate: “As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom laat afval. Net toe die dag begin breek, het Paulus by almal aangedring om iets te eet: “Vandag is al die veertiende dag dat julle in spanning sonder kos wag, en niks eet nie,” het hy gesê. “Daarom dring ek by julle daarop aan om nou iets te eet. Dit sal julle verseker help om te oorleef. Daar sal nie eers ’n haar van een van julle koppe af verlore gaan nie!” Nadat hy dit gesê het, het hy brood gevat, God voor almal gedank, ’n stuk afgebreek en begin eet. Hulle het toe almal moed geskep en self ook begin eet. (Ons was altesaam 276 mense op die skip.) Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip nog ligter gemaak deur die res van die koringvrag oorboord te gooi. Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het ’n baai met ’n strand gesien. Hulle oorweeg toe om, indien moontlik, die skip daar te laat strand. Hulle het die ankers afgegooi en net daar in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys sodat die wind die skip strand toe kon dryf. Maar die skip het op ’n rif geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe het as gevolg van die geweld van die golwe begin opbreek. Die plan van die soldate was om die gevangenes dood te maak om te keer dat hulle sou uitswem en ontsnap. Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle gekeer om hulle plan uit te voer. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en die land te probeer haal. Die ander moes dan volg, sommige deur aan planke en ander deur aan wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het dit gebeur dat almal veilig aan land gekom het.