Handelinge 16:16-32

Handelinge 16:16-32 DB

Toe ons op ’n dag weer op pad was na die plek waar ons gebid het, het ons ’n slavin raakgeloop. Sy het ’n bose gees in haar gehad wat haar in staat gestel het om ander se toekoms te voorspel. Haar eienaars het baie geld uit haar gemaak. Toe sy vir Paulus sien, het sy agter hom begin aanloop. Sy het heeltyd uitgeroep: “Hierdie mense dien die allerhoogste God.” Dit het ’n paar dae so aangehou, totdat Paulus hom vererg het. Op ’n dag het hy omgedraai en die gees wat in haar was kwaai aangespreek: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit hierdie meisie uit!” In ’n oogwink het dit gebeur. Toe die eienaars van die slavin agterkom dat sy nie meer in staat was om ander se fortuin te vertel nie en dat al hulle wins daarmee heen was, was hulle woedend. Hulle het op Paulus en Silas afgestorm, hulle gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die hoofamptenare van die stad. Dié het Paulus en Silas gearresteer en na die hooflanddroste toe gebring. Die klag teen hulle was kort en kragtig: “Hierdie Jode versteur die rus in ons stad.Hulle leringe is in stryd met ons Romeinse wet en tradisie.” Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om hulle behoorlik op te pas. Hy het hulle in die sel reg in die middel van die tronk opgesluit. Boonop het hy swaar boeie om hulle voete vasgemaak. Teen middernag het Paulus en Silas tot God begin bid. Hulle het ook lofliedere tot sy eer gesing. Die ander gevangenes was verstom hieroor. Doodstil het almal na hulle geluister. Toe, uit die bloute, het ’n groot aardbewing die tronk geruk. Dit was so erg dat die seldeure oopgegaan en al die boeie van die gevangenes afgeval het. Die hoof van die tronk het ook wakker geword van die aardskudding. Toe hy sien dat al die seldeure oopstaan, het hy gedink dat die gevangenes ontsnap het. Dadelik het hy sy swaard uitgepluk om homself dood te maak. Maar Paulus het dit gesien en hard vir hom geskree: “Stop! Moenie dit doen nie! Ons almal is nog hier in die tronk.” Dadelik het die hoof van die tronk ’n fakkel by een van die wagte gevat en binnetoe gehardloop. Toe hy by Paulus en Silas kom, het hy bang voor hulle neergeval. Toe het hy hulle buitetoe gevat. “Menere, sê asseblief vir my wat ek moet doen om in die regte verhouding met God te kom,” het hy gepleit. “Glo in die Here Jesus,” het Paulus geantwoord. “Dan sal God jou red en as sy kind aanvaar.Hierdie goeie nuus geld vir jou en vir jou hele huisgesin.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 16:16-32