HANDELINGE 16:16-32

HANDELINGE 16:16-32 Bybel vir almal (ABA)

Ons was eendag besig om na die plek te gaan waar die Jode gewoonlik gaan bid het. 'n Slavin het na ons toe gekom. Sy het 'n bose gees in haar gehad. Sy het altyd gesê wat in die toekoms sal gebeur, en so het sy baie geld gekry vir haar eienaars. Hierdie slavin het agter Paulus en ons geloop en sy het aangehou om te skree: “Hierdie manne is dienaars van die Hoogste God. Hulle vertel vir julle hoe God vir julle kan red.” En sy het 'n lang tyd aangehou om dit te doen. Toe het Paulus kwaad geword, hy het omgedraai en vir die bose gees gesê: “Jesus Christus het vir my gesê ek moet vir jou sê: Gaan uit haar uit!” Die bose gees het dadelik uit haar uitgegaan. Die eienaars van die slavin het besef dat hulle haar nie meer kan gebruik om vir hulle geld te verdien nie. Hulle het vir Paulus en Silas gegryp en na die mark gesleep. Die leiers van die stad was daar. Toe die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas voor die Romeinse regeerders gebring het, het die eienaars gesê: “Hierdie mense is Jode en hulle maak die mense in ons stad opstandig. Hulle vertel vir ons om dinge te doen, maar ons dink nie dit is reg nie, en ons mag dit nie doen nie, want ons is Romeine.” Baie mense het toe saam met die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas aangeval. Die Romeinse regeerders het Paulus en Silas se klere van hulle laat afskeur en hulle het gesê dat die soldate hulle met stokke moet slaan. Nadat die soldate hulle baie geslaan het, het hulle vir Paulus en Silas in die tronk gegooi en die soldate het vir die wag gesê dat hy hulle baie goed moet oppas. Die wag het toe vir Paulus en Silas in die binneste deel van die tronk gegooi en hy het hulle voete in 'n blok gesit. In die middel van die nag was Paulus en Silas besig om te bid en om liedere te sing om God te prys. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n groot aardbewing en die fondamente van die tronk het gebewe. Dadelik het al die deure van die tronk oopgegaan en almal se kettings het afgeval. Toe die wag wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek. Hy wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes almal weggevlug het. Maar Paulus het baie hard vir hom geskree: “Moenie jouself doodmaak nie, ons is nog almal hier.” Toe het die wag gevra dat iemand 'n lig moet bring en hy het in die binneste deel van die tronk ingehardloop. Hy het gebewe en hy het voor Paulus en Silas se voete op die grond geval. Nadat hy hulle buitetoe geneem het, het hy gesê: “Menere, wat moet ek doen sodat God my kan red?” Hulle sê toe vir hom: “Jy moet glo in die Here Jesus en dan sal God jou red, vir jou en jou huisgesin.” En Paulus en Silas het vir die wag en al die mense in sy huisgesin vertel van die boodskap van die Here.

HANDELINGE 16:16-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom 'n slavin met 'n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing. En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan. En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is, en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is. En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan. En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak. Hy het toe, omdat hy so 'n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak. En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister. En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak. En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het. Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier. En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer. En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.

HANDELINGE 16:16-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons 'n slavin teëgekom in wie daar 'n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.” Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan. Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.” Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar 'n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.” Toe het die bewaarder 'n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig.

HANDELINGE 16:16-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Terwyl ons 'n keer op pad was na die bidplek, het 'n slavin met 'n gees van waarsêery wat met haar voorspellings baie wins vir haar eienaars ingebring het, ons tegemoet gekom. Sy het agter Paulus en ons aan geloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God, die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle 'n weg tot verlossing!” Dit het sy dae aaneen gedoen. Paulus het daaroor ontsteld geraak, omgedraai en vir die gees gesê: “Ek gebied jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan!” En presies op daardie oomblik het die gees uitgegaan. Toe haar eienaars merk dat hulle hoop op 'n inkomste daarmee heen was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die owerhede; en nadat hulle hulle voorgebring het, het hulle vir die stadsbestuurders gesê: “Hierdie mense stook onrus in ons stad, want hulle is Jode en verkondig gebruike wat vir ons as Romeine nie toelaatbaar is om te aanvaar of na te volg nie.” Die skare het toe ook teen hulle gedraai, en die stadsbestuurders het hulle klere laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan moet word. Nadat hulle met baie houe geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en is die tronkbewaarder opdrag gegee om hulle baie goed te bewaak. In die uitvoering van hierdie opdrag het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgeklem. Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n hewige aardbewing, sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure het onmiddellik oopgegaan, en almal se boeie het losgegaan. Die tronkbewaarder het wakker geskrik, en toe hy sien dat die tronk se deure oop was, het hy sy swaard getrek en wou homself doodmaak, omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. Maar Paulus het hard uitgeroep: “Moenie jouself leed aandoen nie, want ons is almal hier!” Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” En hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis verkondig.

HANDELINGE 16:16-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur, terwyl ons gaan bid, het 'n sekere meisie, besete van 'n gees van waarsêery, ons tegemoet gekom, wat haar meesters baie gewin het deur waarsêery: Hy het Paulus en ons gevolg en uitgeroep en gesê: Hierdie manne is dienaars van die Allerhoogste God, wat ons die weg van verlossing wys. En dit het sy baie dae gedoen. Maar Paulus, wat bedroef was, het hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het in dieselfde uur uitgekom. En toe haar eienaars sien dat die hoop op hulle wins verby was, het hulle Paulus en Silas gevang en hulle na die markplein na die owerstes getrek. En hulle het hulle na die magistrate gebring en gesê: Hierdie manne, wat Jode is, maak ons stad baie moeilik, En leer gewoontes wat ons nie geoorloof is om te ontvang of te onderhou nie, omdat ons Romeine is. En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regeerders skeur hulle klere uit en bevel om hulle te slaan. En nadat hulle baie slae op hulle gelê het, het hulle hulle in die gevangenis gegooi en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle veilig te bewaar. Wat so 'n opdrag ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete vasgemaak het in die stokke. En middernag het Paulus en Silas gebid en lofsange tot eer van God gesing, en die gevangenes het dit gehoor. En skielik was daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het, en dadelik het al die deure oopgegaan, en elkeen se bande is losgemaak. En toe die bewaarder van die gevangenis uit sy slaap wakker word en die gevangenis se deure sien oopgaan, het hy sy swaard uitgetrek en sou homself om die lewe gebring het, as hy gedink het dat die gevangenes gevlug het. Maar Paulus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Doen jouself geen kwaad nie, want ons is almal hier. Toe het hy 'n lig geroep en ingespring en bewend gekom en voor Paulus en Silas neergeval. En hy het hulle uitgebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? En hulle sê: Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word, en jou huisgesin. En hulle het die woord van die Here aan hom gespreek en aan almal wat in sy huis was.

HANDELINGE 16:16-32 Die Boodskap (DB)

Toe ons op ’n dag weer op pad was na die plek waar ons gebid het, het ons ’n slavin raakgeloop. Sy het ’n bose gees in haar gehad wat haar in staat gestel het om ander se toekoms te voorspel. Haar eienaars het baie geld uit haar gemaak. Toe sy vir Paulus sien, het sy agter hom begin aanloop. Sy het heeltyd uitgeroep: “Hierdie mense dien die allerhoogste God.” Dit het ’n paar dae so aangehou, totdat Paulus hom vererg het. Op ’n dag het hy omgedraai en die gees wat in haar was kwaai aangespreek: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit hierdie meisie uit!” In ’n oogwink het dit gebeur. Toe die eienaars van die slavin agterkom dat sy nie meer in staat was om ander se fortuin te vertel nie en dat al hulle wins daarmee heen was, was hulle woedend. Hulle het op Paulus en Silas afgestorm, hulle gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die hoofamptenare van die stad. Dié het Paulus en Silas gearresteer en na die hooflanddroste toe gebring. Die klag teen hulle was kort en kragtig: “Hierdie Jode versteur die rus in ons stad.Hulle leringe is in stryd met ons Romeinse wet en tradisie.” Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om hulle behoorlik op te pas. Hy het hulle in die sel reg in die middel van die tronk opgesluit. Boonop het hy swaar boeie om hulle voete vasgemaak. Teen middernag het Paulus en Silas tot God begin bid. Hulle het ook lofliedere tot sy eer gesing. Die ander gevangenes was verstom hieroor. Doodstil het almal na hulle geluister. Toe, uit die bloute, het ’n groot aardbewing die tronk geruk. Dit was so erg dat die seldeure oopgegaan en al die boeie van die gevangenes afgeval het. Die hoof van die tronk het ook wakker geword van die aardskudding. Toe hy sien dat al die seldeure oopstaan, het hy gedink dat die gevangenes ontsnap het. Dadelik het hy sy swaard uitgepluk om homself dood te maak. Maar Paulus het dit gesien en hard vir hom geskree: “Stop! Moenie dit doen nie! Ons almal is nog hier in die tronk.” Dadelik het die hoof van die tronk ’n fakkel by een van die wagte gevat en binnetoe gehardloop. Toe hy by Paulus en Silas kom, het hy bang voor hulle neergeval. Toe het hy hulle buitetoe gevat. “Menere, sê asseblief vir my wat ek moet doen om in die regte verhouding met God te kom,” het hy gepleit. “Glo in die Here Jesus,” het Paulus geantwoord. “Dan sal God jou red en as sy kind aanvaar.Hierdie goeie nuus geld vir jou en vir jou hele huisgesin.”

HANDELINGE 16:16-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ’n slavin met ’n waarsêersgees ons raakgeloop. Deur haar waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld ingebring. Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle die pad na verlossing.” Sy het dit vir baie dae gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” Die gees het oombliklik uit haar uitgegaan. Toe haar eienaars sien dat hulle vooruitsig om geld te maak verdwyn het, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die leiers op die stadsplein gesleep. Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense maak moeilikheid in ons stad; hulle is Jode. Hulle leer vir ons gebruike wat ons, omdat ons Romeine is, nie kan aanvaar of navolg nie.” Die skare het toe ook teen hulle saamgestaan. Die stadsowerhede het hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan word. Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie. In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom! Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak. Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!” Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huishouding verkondig.