Handelinge 13:1-15

Handelinge 13:1-15 DB

Die gemeente in Antiogië het ’n klompie knap leiers gehad wat oor die gawe beskik het om God se wil bekend te maak. Barnabas, Simeon (hy is ook “swart Simeon” genoem), Lusius uit Sirene, Manaen, ’n stiefbroer van Herodes en ook Saulus het die gelowiges geleer hoe om tot God se eer te leef. Op ’n dag, terwyl hulle besig was om te vas en ernstig tot die Here te bid, het die Heilige Gees vir hulle kom sê: “Julle moet Barnabas en Saulus nou losmaak van hulle werk in die gemeente. Daar wag ’n nuwe taak op hulle.” Die gelowiges het toe klaar gevas en gebid en daarna het hulle hulle hande op Barnabas en Saulus gesit om hulle aan die Here op te dra. Daarop het die gelowiges van hulle afskeid geneem. Die Heilige Gees het Saulus en Barnabas Seleukië toe gestuur. Daarvandaan het hulle per skip na die eiland Siprus gevaar. Johannes Markus het ook saam met hulle gegaan. In Salamis het hulle begin om God se woord in die godsdienstige bymekaarkomplekke van die Jode bekend te maak. Hulle het die eiland van hoek tot kant deurkruis. Met hulle aankoms by Pafos het hulle ’n Joodse towenaar raakgeloop. Sy naam was Barjesus. Hy het gemaak of hy ’n boodskapper van God was. Die goewerneur, Sergius Paulus, ’n baie intelligente man, het die wêreld van hom gedink. Goewerneur Sergius Paulus het van Barnabas en Saulus te hore gekom en hulle laat haal. Hy wou persoonlik by hulle hoor wat hulle oor God te sê gehad het. Elimas (dit is Barjesus se Griekse naam) was nie baie bly daaroor nie. Hy het die goewerneur probeer keer om na hulle te luister, want hy wou nie hê dat Sergius Paulus ’n Christen moes word nie. Toe Saulus (of Paulus, soos hy ook bekend was) by Sergius Paulus aankom, was Elimas ook daar. Paulus was vol van die Heilige Gees se krag. Hy het Elimas waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Ek sien dat jou lewe die ene boosheid is. Jy is ’n kind van die duiwel. Met al jou skewe leringe probeer jy keer dat God se woord op die regte manier bekendgemaak word. Maar nou het jy jou teen God self vasgeloop. Hy gaan jou van hierdie oomblik af blind laat word. Jy sal ’n ruk lank niks kan sien nie.” Dadelik het alles voor Elimas donker geword. Hy het hulpeloos rondgestrompel en gevra dat iemand hom moet weglei. Omdat die goewerneur gesien het wat gebeur het, het hy in Jesus begin glo. Hy was baie opgewonde oor alles wat Paulus-hulle vir hom oor die Here gesê het. Na hierdie gebeure het Paulus en sy metgeselle met ’n skip na Perge in Pamfilië gereis. Johannes Markus het nie kans gesien om verder saam met hulle te gaan nie. Hy het besluit om terug te gaan Jerusalem toe. Intussen het die res van die geselskap van Perge na die stad Antiogië in Pisidië vertrek. Met hulle aankoms het hulle op die sabbatdag na die Joodse aanbiddingsplek gegaan. Nadat die voorganger in die sinagoge uit die Ou Testament voorgelees het, het die hoofde van die sinagoge vir Paulus en Barnabas gevra: “Vriende, ons sien julle is nuut hier. Het julle nie iets op die hart wat julle vir ons wil vertel nie? Dalk ’n woord om ons moed in te praat?”