2 Korintiërs 8:1-7

2 Korintiërs 8:1-7 DB

My broers en susters, ek wil julle vertel hoe ongelooflik goed God is vir al die gemeentes daar in die provinsie Masedonië. Weet julle, die een groot krisis na die ander het hulle getref. Maar al hierdie ernstige terugslae en swaarkry het hulle blydskap nie ’n enkele oomblik gedemp nie. Hulle het heeltyd opgeruimd gebly. Hulle is ook verskriklik arm. Dit het egter nie gekeer dat hulle sommer ’n groot bedrag geld gegee het vir die kollekte wat ek op die oomblik vir die arm Christene in Judea insamel nie. Ek het met my eie oë gesien dat hulle soveel gegee het as wat hulle kon. Nee, hulle het baie meer gegee as wat hulle kon bekostig. Daardie Christene van Masedonië het my omtrent gesmeek om deel te kon hê aan hierdie hulpprojek. Hulle was so bekommerd oor die gelowiges in Judea dat hulle met alle mag en mening by hierdie geldinsameling betrokke wou raak. Ek het glad nie vir die Christene in Masedonië gevra om geld vir die kollekte te gee nie. Hulle het dit uit hulle eie gedoen. Omdat hulle hulle lewe volledig aan die Here gegee het, was dit baie maklik vir hulle om hulle geld tot my beskikking te stel. So het hulle presies volgens God se wil opgetree. Die Masedoniërs se toewyding het my toe laat besluit om vir Titus te vra om die insameling van die geldelike offers waarmee hy vroeër reeds begin het daar by julle te gaan voltooi. Julle blink uit op so baie gebiede. Kom ek noem net ’n paar: julle geloof is baie groot. Julle is glad nie bang om oor God te praat nie. Julle het baie kennis oor sy woord. Julle is regtig toegewyd in julle geloof. Boonop blink julle ook uit in die liefde van Christus wat ek aan julle verkondig het. Kan ek dan nou die volgende versoek tot julle rig? Blink asseblief ook uit wanneer dit by hierdie geldinsameling vir die arm Christene in Judea kom.