Wanneer ek preek, vertel ek nie allerhande stories oor hoe belangrik ek is nie. Nee, ek preek slegs oor Jesus Christus. Ek vertel vir almal dat Hy die Here oor alles is. En ék? Wel, ek is julle dienskneg wat net een doel voor oë het, en dit is om julle te dien met die goeie nuus. Jesus verwag dit van my. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het. Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op. Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk. Terwyl ek lewe, word ek altyd aan die dood uitgelewer omdat ek in Jesus glo. Tog vloei die krag van Jesus se nuwe lewe ook heeltyd deur my sterflike liggaam. In my lewe werk die dood, maar dit het vir julle die lewe gebring. Al my swaarkry en lyding is die moeite werd: dit het gemaak dat julle nou nuwe mense is in God se oë.
Lees 2 Korintiërs 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Korintiërs 4:5-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's