2 KORINTIËRS 4:5-12
2 KORINTIËRS 4:5-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe.
2 KORINTIËRS 4:5-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus, die Here; en onsself u dienaars ter wille van Jesus. Want God, wat beveel het dat die lig uit die duisternis skyn, het in ons harte geskyn om die lig te gee van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God kan wees en nie van ons nie. Ons is van alle kante ontsteld, maar nie benoud nie; ons is verward, maar nie in wanhoop nie; Vervolg, maar nie verlaat nie; neergewerp, maar nie vernietig nie; Dra altyd in die liggaam die sterwe van die Here Jesus, sodat die lewe van Jesus ook in ons liggaam openbaar kan word. Want ons wat lewe, word altyd ter wille van Jesus aan die dood oorgelewer, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in jou.
2 KORINTIËRS 4:5-12 Bybel vir almal (ABA)
Ons bring nie 'n boodskap oor onsself nie, ons bring 'n boodskap oor Jesus Christus wat die Here is. Maar julle moet ook weet dat ons julle slawe is omdat ons Jesus se boodskap vir julle bring. Ons doen dit omdat God gesê het dat daar lig moet skyn uit die donker. So het God ook in ons harte geskyn. Hy het dit lig gemaak in ons sodat ons kan weet dat Hy die Koning is en dat Jesus Christus ook Koning is, Jesus het vir ons kom wys hoe God is. Hierdie boodskap oor Jesus Christus is baie kosbaar. Maar God het die boodskap gebêre in kleipotte wat maklik kan breek. Hierdie kleipotte is ons. Almal moet sien dat die boodskap groot krag het omdat dit van God kom en nie van ons nie. Mense hou aan om ons te laat swaarkry, maar ons hou aan om te lewe. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie moedeloos nie. Mense wil ons doodmaak, maar God los ons nie. Mense slaan ons sodat ons val, maar ons sterf nie. Ja, wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle sien hoe Jesus swaargekry en gesterf het. Wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle ook sien dat Jesus weer lewe. God laat vir ons wat nog lewe, altyd so swaar kry dat ons amper sterf, want ons doen Jesus se werk. Maar wanneer julle sien hoe ons lewe, dan wys God dat Jesus lewe, Hy wys dit vir ons wat eendag moet sterf. Daarom, terwyl ons altyd veg teen die dood, kry julle die lewe.
2 KORINTIËRS 4:5-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.
2 KORINTIËRS 4:5-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus. Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar nie oorweldig nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word platgeslaan, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd in ons liggaam met ons saam, sodat ook die lewe van Jesus in ons liggaam sigbaar kan word. Want ons wat leef, word voortdurend aan die dood uitgelewer ter wille van Jesus, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.
2 KORINTIËRS 4:5-12 Die Boodskap (DB)
Wanneer ek preek, vertel ek nie allerhande stories oor hoe belangrik ek is nie. Nee, ek preek slegs oor Jesus Christus. Ek vertel vir almal dat Hy die Here oor alles is. En ék? Wel, ek is julle dienskneg wat net een doel voor oë het, en dit is om julle te dien met die goeie nuus. Jesus verwag dit van my. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het. Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op. Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk. Terwyl ek lewe, word ek altyd aan die dood uitgelewer omdat ek in Jesus glo. Tog vloei die krag van Jesus se nuwe lewe ook heeltyd deur my sterflike liggaam. In my lewe werk die dood, maar dit het vir julle die lewe gebring. Al my swaarkry en lyding is die moeite werd: dit het gemaak dat julle nou nuwe mense is in God se oë.
2 KORINTIËRS 4:5-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle diensknegte ter wille van Jesus. God het gesê: “Laat daar lig skyn uit die duisternis.” So het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal. Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie. Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie. Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Gedurig word ons wat nog lewe, ter wille van Jesus aan die dood uitgelewer sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. Gevolglik is die dood in ons aan die werk, maar in julle die lewe.