2 Korintiërs 4:1-15

2 Korintiërs 4:1-15 DB

God is baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy dienaar om die goeie nuus oor Christus te gaan oorvertel. Daarom kry probleme my nooit onder nie. Ek bly weg van al daardie lelike dinge wat mense in die geheim aanvang. Ek bedrieg nooit ander mense nie. En ek verdraai nie God se woord om by my eie sienings te pas nie. Inteendeel. Ek praat oop en bloot oor die waarheid. Mense kan daarom elke woord glo wat ek in die teenwoordigheid van God uitspreek. As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is. Wanneer ek preek, vertel ek nie allerhande stories oor hoe belangrik ek is nie. Nee, ek preek slegs oor Jesus Christus. Ek vertel vir almal dat Hy die Here oor alles is. En ék? Wel, ek is julle dienskneg wat net een doel voor oë het, en dit is om julle te dien met die goeie nuus. Jesus verwag dit van my. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het. Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op. Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk. Terwyl ek lewe, word ek altyd aan die dood uitgelewer omdat ek in Jesus glo. Tog vloei die krag van Jesus se nuwe lewe ook heeltyd deur my sterflike liggaam. In my lewe werk die dood, maar dit het vir julle die lewe gebring. Al my swaarkry en lyding is die moeite werd: dit het gemaak dat julle nou nuwe mense is in God se oë. Die Heilige Gees werk deur ons almal. Dit is Hy wat ons laat glo. Ons doen daarom maar net wat een van die psalms sê: “Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom.” Ons glo in Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat. Ons weet dat God ons Here Jesus lewendig gemaak het en dat Hy ons ook eendag weer lewendig sal maak. Op daardie dag sal ons almal saam voor sy troon staan. Daarom preek ek en daarom ly ek al hierdie dinge ter wille van julle. Op hierdie manier kan God se goedheid by nog meer mense uitkom. Dan is daar nog meer mense om Hom te dank. So word God se Naam grootgemaak.

Video vir 2 Korintiërs 4:1-15

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Korintiërs 4:1-15