2 KORINTIËRS 4:1-15

2 KORINTIËRS 4:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarom dan, terwyl ons deur God se genade hierdie bediening ontvang het, gooi ons nooit die handdoek in nie. Maar ons het afstand gedoen van die geheime dinge wat ’n mens skaam maak. Ons leefstyl is nie dié van misleiding of om die woord van God te verdraai nie. Inteendeel, met die bekendmaking van die waarheid, beveel ons onsself aan by elkeen wat ’n eerlike gewete voor God het. As ons Goeie Nuus nog versluier is, is dit net bedek vir dié wat verlore gaan. Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie. Dit is die Goeie Nuus van die heerlikheid van Christus, Hy wat die ewebeeld van God is. Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle diensknegte ter wille van Jesus. God het gesê: “Laat daar lig skyn uit die duisternis.” So het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal. Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie. Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie. Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Gedurig word ons wat nog lewe, ter wille van Jesus aan die dood uitgelewer sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. Gevolglik is die dood in ons aan die werk, maar in julle die lewe. Omdat ons dieselfde geloofsgesindheid het as waarvan daar geskryf staan: “Ek het geglo; daarom het ek gepraat,” glo ons steeds en daarom hou ons ook aan met preek. Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek om ons saam met julle voor Hom te stel. Ons doen dit alles ter wille van julle sodat die genade van God, soos dit oor meer en meer mense spoel, ook die dankbetuiging al hoe meer kan laat word, en God se heerlikheid so erken kan word.

2 KORINTIËRS 4:1-15 Bybel vir almal (ABA)

God was baie goed vir ons, Hy het vir ons die werk gegee om die boodskap te bring dat Jesus Christus die Here is. Daarom word ons nie moedeloos nie. Ons het voorheen dinge gedoen wat ander mense nie mag sien nie, dinge waaroor ons skaam moet wees, maar nou doen ons dit nie meer nie. Ons bedrieg niemand nie en ons maak nie die boodskap van God vals nie. Ons sê duidelik wat die waarheid is. Elke mens wat weet wat is reg en wat is verkeerd, kan vir ons vertrou. God sien alles wat ons doen. Maar as daar miskien 'n sluier hang oor die goeie boodskap wat ons bring, en as mense die boodskap nie verstaan nie, dan is dit omdat hulle die mense is wat verlore gaan. Die god van hierdie wêreld het die verstand van die ongelowiges blind gemaak. Hulle kan nie die lig sien van die goeie boodskap wat sê dat Christus die Koning is nie. Christus het vir ons kom wys hoe God is. Ons bring nie 'n boodskap oor onsself nie, ons bring 'n boodskap oor Jesus Christus wat die Here is. Maar julle moet ook weet dat ons julle slawe is omdat ons Jesus se boodskap vir julle bring. Ons doen dit omdat God gesê het dat daar lig moet skyn uit die donker. So het God ook in ons harte geskyn. Hy het dit lig gemaak in ons sodat ons kan weet dat Hy die Koning is en dat Jesus Christus ook Koning is, Jesus het vir ons kom wys hoe God is. Hierdie boodskap oor Jesus Christus is baie kosbaar. Maar God het die boodskap gebêre in kleipotte wat maklik kan breek. Hierdie kleipotte is ons. Almal moet sien dat die boodskap groot krag het omdat dit van God kom en nie van ons nie. Mense hou aan om ons te laat swaarkry, maar ons hou aan om te lewe. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie moedeloos nie. Mense wil ons doodmaak, maar God los ons nie. Mense slaan ons sodat ons val, maar ons sterf nie. Ja, wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle sien hoe Jesus swaargekry en gesterf het. Wanneer julle sien hoe ons lewe, dan kan julle ook sien dat Jesus weer lewe. God laat vir ons wat nog lewe, altyd so swaar kry dat ons amper sterf, want ons doen Jesus se werk. Maar wanneer julle sien hoe ons lewe, dan wys God dat Jesus lewe, Hy wys dit vir ons wat eendag moet sterf. Daarom, terwyl ons altyd veg teen die dood, kry julle die lewe. In die Ou Testament is geskryf: Ek het geglo, daarom het ek gepraat. Ons het ook die Heilige Gees wat ons laat glo. Ons glo, en daarom praat ons. God het die Here Jesus weer laat lewe. Ons weet dat God vir ons ook weer sal laat lewe soos Hy vir Jesus laat lewe het. God sal ons saam met julle voor Hom bring, ons sal wees waar Hy is. Al hierdie dinge wat met ons gebeur, help vir julle. So kan God genadig wees vir meer mense. Dan kan meer mense dankie sê vir God. En so kry God al die eer, God wat die Koning is.

2 KORINTIËRS 4:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROM, aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie. Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan. Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie. Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle. En omdat ons dieselfde Gees van die geloof het — soos geskrywe is: Ek het geglo, daarom het ek gespreek — glo ons ook, daarom spreek ons ook. Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel. Want dit is alles om julle ontwil, sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot die heerlikheid van God.

2 KORINTIËRS 4:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God 'n eerlike gewete het. As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe. Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.

2 KORINTIËRS 4:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die ontferming wat aan ons betoon is, gee ons nie moed op nie. Ons het egter afstand gedoen van geheime skandelike dinge, en tree nie slinks op, of verdraai die Woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons onsself voor God aan by die gewete van elke mens. As ons evangelie dan tog nog versluier is, is dit versluier vir dié wat verlore gaan, vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is, sodat die lig van die evangelie van die heerlikheid van •Christus, wat die beeld van God is, nie oor hulle skyn nie. Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus. Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar nie oorweldig nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word platgeslaan, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd in ons liggaam met ons saam, sodat ook die lewe van Jesus in ons liggaam sigbaar kan word. Want ons wat leef, word voortdurend aan die dood uitgelewer ter wille van Jesus, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle. Maar aangesien ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskryf staan, “Ek het geglo, daarom het ek gepraat” – glo ons ook, en daarom praat ons. Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek, en julle voor Hom sal stel. Want dit gebeur alles ter wille van julle, sodat die genade, wat steeds meer mense insluit, die dankbaarheid oorvloedig kan maak tot eer van God.

2 KORINTIËRS 4:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Aangesien ons dan hierdie bediening het, soos ons barmhartigheid ontvang het, word ons nie beswyk nie; Maar jy het die verborge dinge van oneerlikheid verloën, nie in listigheid gewandel en die woord van God nie bedrieglik hanteer nie; maar deur die openbaarmaking van die waarheid ons aan elke mens se gewete voor God op te beveel. Maar as ons evangelie verborge is, is dit verborge vir die wat verlore gaan. In wie die god van hierdie wêreld die sinne van die ongelowiges verblind het, sodat die lig van die heerlike evangelie van Christus, wat die beeld van God is, nie op hulle sou skyn nie. Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus, die Here; en onsself u dienaars ter wille van Jesus. Want God, wat beveel het dat die lig uit die duisternis skyn, het in ons harte geskyn om die lig te gee van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God kan wees en nie van ons nie. Ons is van alle kante ontsteld, maar nie benoud nie; ons is verward, maar nie in wanhoop nie; Vervolg, maar nie verlaat nie; neergewerp, maar nie vernietig nie; Dra altyd in die liggaam die sterwe van die Here Jesus, sodat die lewe van Jesus ook in ons liggaam openbaar kan word. Want ons wat lewe, word altyd ter wille van Jesus aan die dood oorgelewer, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in jou. Ons het dieselfde gees van geloof, soos geskrywe is: Ek het geglo, en daarom het ek gespreek; ons glo ook, en daarom praat ons; Omdat Hy weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en ons saam met julle sal stel. Want alles is om julle ontwil, sodat die oorvloedige genade deur die danksegging van baie tot eer van God oorvloedig kan word.

2 KORINTIËRS 4:1-15 Die Boodskap (DB)

God is baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy dienaar om die goeie nuus oor Christus te gaan oorvertel. Daarom kry probleme my nooit onder nie. Ek bly weg van al daardie lelike dinge wat mense in die geheim aanvang. Ek bedrieg nooit ander mense nie. En ek verdraai nie God se woord om by my eie sienings te pas nie. Inteendeel. Ek praat oop en bloot oor die waarheid. Mense kan daarom elke woord glo wat ek in die teenwoordigheid van God uitspreek. As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie. Hierdie goeie nuus handel oor Christus, Hy wat so vol glorie en heerlikheid is. Christus is ook die ewebeeld van God. Hy wys vir ons wie God regtig is. Wanneer ek preek, vertel ek nie allerhande stories oor hoe belangrik ek is nie. Nee, ek preek slegs oor Jesus Christus. Ek vertel vir almal dat Hy die Here oor alles is. En ék? Wel, ek is julle dienskneg wat net een doel voor oë het, en dit is om julle te dien met die goeie nuus. Jesus verwag dit van my. God het heel aan die begin gesê: “Laat daar lig wees; laat die donker verdwyn.” Dieselfde God wat dit gesê het, het ook op ’n dag my lewe nuut gemaak. Hy het met sy helder lig in my donker lewe kom skyn. Toe het ek vir die eerste maal besef hoe groot en vol heerlikheid Hy is. Dit het natuurlik gebeur toe ek van aangesig tot aangesig met Jesus Christus te staan gekom het. Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel: Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op. Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk. Terwyl ek lewe, word ek altyd aan die dood uitgelewer omdat ek in Jesus glo. Tog vloei die krag van Jesus se nuwe lewe ook heeltyd deur my sterflike liggaam. In my lewe werk die dood, maar dit het vir julle die lewe gebring. Al my swaarkry en lyding is die moeite werd: dit het gemaak dat julle nou nuwe mense is in God se oë. Die Heilige Gees werk deur ons almal. Dit is Hy wat ons laat glo. Ons doen daarom maar net wat een van die psalms sê: “Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom.” Ons glo in Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat. Ons weet dat God ons Here Jesus lewendig gemaak het en dat Hy ons ook eendag weer lewendig sal maak. Op daardie dag sal ons almal saam voor sy troon staan. Daarom preek ek en daarom ly ek al hierdie dinge ter wille van julle. Op hierdie manier kan God se goedheid by nog meer mense uitkom. Dan is daar nog meer mense om Hom te dank. So word God se Naam grootgemaak.