Daarom dan, terwyl ons deur God se genade hierdie bediening ontvang het, gooi ons nooit die handdoek in nie. Maar ons het afstand gedoen van die geheime dinge wat ’n mens skaam maak. Ons leefstyl is nie dié van misleiding of om die woord van God te verdraai nie. Inteendeel, met die bekendmaking van die waarheid, beveel ons onsself aan by elkeen wat ’n eerlike gewete voor God het. As ons Goeie Nuus nog versluier is, is dit net bedek vir dié wat verlore gaan. Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie. Dit is die Goeie Nuus van die heerlikheid van Christus, Hy wat die ewebeeld van God is. Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle diensknegte ter wille van Jesus. God het gesê: “Laat daar lig skyn uit die duisternis.” So het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal. Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie. Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie. Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Gedurig word ons wat nog lewe, ter wille van Jesus aan die dood uitgelewer sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. Gevolglik is die dood in ons aan die werk, maar in julle die lewe. Omdat ons dieselfde geloofsgesindheid het as waarvan daar geskryf staan: “Ek het geglo; daarom het ek gepraat,” glo ons steeds en daarom hou ons ook aan met preek. Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek om ons saam met julle voor Hom te stel. Ons doen dit alles ter wille van julle sodat die genade van God, soos dit oor meer en meer mense spoel, ook die dankbetuiging al hoe meer kan laat word, en God se heerlikheid so erken kan word.
Lees 2 KORINTIËRS 4
Luister na 2 KORINTIËRS 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 KORINTIËRS 4:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's