2 Kronieke 5:1-6

2 Kronieke 5:1-6 DB

Al die bouwerk aan die tempel van die Here is voltooi. Daarna het Salomo al die skatte wat sy pa, koning Dawid, vir die Here gegee het, na die tempel toe gebring. Hy het die silwer en goud en al die gereedskap in die tempel se skatkamers gebêre. Salomo het toe al die familiehoofde van Israel in Jerusalem byeengeroep. Die doel was om die ark van die verbond van die Here uit Sion, die Stad van Dawid, na die tempel toe te neem. Almal het op die feesdag, wat in die sewende maand geval het, by die koning bymekaargekom. Toe al die leiers van Israel daar bymekaar was, het die Leviete die ark opgetel. Hulle het die ark en die tent waar die Here aanbid is en al die heilige voorwerpe wat by die tent gehoort het, saamgebring. Die Levitiese priesters het dit na die tempel toe opgedra. Koning Salomo en die hele gemeenskap wat saam met hom voor die ark bymekaar was, het skape en beeste begin offer. Hulle het soveel diere geoffer dat ’n mens nie kon byhou om te tel nie.