1 Samuel 19:18-24

1 Samuel 19:18-24 DB

Dawid het intussen gesorg dat hy wegkom. Hy is na Samuel toe in Rama. Hy het vir Samuel alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Hy het toe saam met Samuel in die huis van die profete gaan bly. Toe Saul hoor dat Dawid in die huis van die profete in Rama is, het hy mense gestuur om hom te vang. Hulle kom toe daar af op ’n groep profete wat in profetiese ekstase is. Samuel het hulle gelei. Die Gees van God het in die manne van Saul begin werk sodat hulle ook in profetiese ekstase geraak het. Toe Saul dit hoor, het hy ander manne gestuur, maar ook húlle het in profetiese ekstase geraak. Saul het ’n derde groep gestuur en dieselfde het met hulle gebeur. Saul gaan toe maar self na Rama toe. Toe hy by die groot put in Seku kom, het hy gevra waar Samuel en Dawid is. Die mense het hom beduie na die huis van die profete in Rama. Saul het na die huis van die profete toe gegaan. Die Gees van God het ook in hóm begin werk sodat hy sommer so in die loop al in profetiese ekstase was. Toe hy by die huis van die profete kom, het hý ook sy klere uitgetrek en in profetiese ekstase voor Samuel neergeslaan. Hy het ’n hele dag en ’n nag so kaal bly lê. Daarom sê die spreekwoord: “Hoort Saul dan by die profete?”