1 Samuel 17:1-58

1 Samuel 17:1-58 DB

Die Filistyne het hulle soldate bymekaargemaak vir oorlog en by Soko wat in Juda is, saamgekom. Hulle kamp was by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die Israeliete het ook bymekaargekom. Hulle kamp was by Eikelaagte. Hulle het gereedgemaak om teen die Filistyne te veg. Die Filistyne en die Israeliete het kamp opgeslaan op twee bulte weerskante van ’n spruit. Daar kom toe ’n voorvegter uit die kamp van die Filistyne. Sy naam was Goliat. Hy het uit die dorp Gat gekom en hy was amper drie meter lank. Die man het ’n brons helm op sy kop gehad en ’n veghemp met brons skubbe aangehad. Die veghemp het 57 kilogram geweeg. Hy het brons beenskutte gedra en daar het ’n brons kromswaard tussen sy skouers gehang. Die handvatsel van sy spies het gelyk soos die balk waaraan mense wat weef, hulle wol hang, en die spies se ysterpunt het omtrent ses kilogram geweeg. ’n Man wat ’n groot skild dra, het voor hom geloop. Goliat het by die spruit gaan staan en vir die manne van Israel geskree: “Hoekom maak julle reg om teen die Filistyne te veg? Ék is ’n Filistyn en julle is ’n klomp slawe van Saul! Kies iemand en laat hom hier onder na my toe kom! As hy kans sien om teen my te veg en my wen, sal ons julle slawe wees! As ek vir hóm kans sien en hom wen, moet julle óns slawe wees en vir ons werk!” Hy skree toe ook nog: “Ek spot al die hele dag met die soldaatjies van die Israeliete! Stuur tog nou iemand om teen my te kom veg!” Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn vir hulle skree. Hulle het hulle koud geskrik en was doodbang. Die Filistyn het vir baie dae elke môre en elke aand by die spruit gaan staan en skree. Dawid was die seun van ’n man met die naam Isai, wat in Betlehem-Efrata in Juda gebly het. Isai het agt seuns gehad. In Saul se tyd was hy self al te oud om te veg, maar sy drie oudste seuns is saam met Saul oorlog toe. Die oudste van die seuns was Eliab, die tweede een Abinadab en die derde een Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudste seuns was die hele tyd by Saul se manskappe, maar Dawid het gereeld van die paleis af Betlehem toe gegaan om sy pa se skape te help oppas. Isai sê toe vir Dawid: “Hier’s ’n halfsak gebraaide koring en tien brode vir jou broers. Vat dit gou vir hulle in die kamp. Dié tien kase moet jy vir die leier van hulle groep gee. Hoor hoe dit met jou broers gaan en bring dan ’n bewys saam dat jy by hulle was. Hulle en Saul en al die manskappe van Israel maak daar by Eikelaagte oorlog teen die Filistyne.” Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by ’n wagter gelos. Hy het die goed gevat en gegaan soos sy pa vir hom gesê het. Hy het by die kamp gekom net toe die manskappe hulle strydkreet skree en op hulle plekke gaan staan vir die geveg, want die Israeliete en die Filistyne het hulle manskappe laat regstaan om mekaar aan te val. Dawid het die goed wat hy by hom gehad het, by die man gelos wat die bagasie oppas. Hy het na die plek gehardloop waar die manne vir die geveg reggestaan het. Toe hy daar kom, het hy sy broers gevra hoe dit met hulle gaan. Terwyl hy nog met hulle praat, kom die voorvegter van die Filistyne met die naam Goliat, die man uit Gat, vorentoe en skree weer dieselfde woorde sodat Dawid dit hoor. Toe die Israeliete die man sien, was hulle almal doodbang en het teruggestaan. Daar is vir die Israeliete gesê: “Sien julle hoe kom hierdie man elke keer vorentoe om met die Israeliete te spot? Die koning sal die man wat hom doodmaak, skatryk maak en sy dogter vir hom gee. Sy familie sal ook nie belasting hoef te betaal nie.” Dawid sê toe vir die manne wat daar om hom staan: “Wat sal gebeur met die man wat daardie Filistyn doodmaak en hierdie skande vir Israel stopsit? Wie dink daardie heiden van ’n Filistyn miskien is hy dat hy so met die manskappe van die lewende God spot?” Die manne het vir Dawid dieselfde antwoord gegee: “Dit is wat gedoen sal word met die man wat die Filistyn doodmaak.” Dawid se oudste broer, Eliab, het gehoor dat Dawid met die manne praat. Hy het hom bloedig vererg vir Dawid: “Wat het jy hier kom soek? En by wie het jy daardie klompie skape in die oop veld gelos? Ek weet hoe voor op die wa jy is en watter plannetjies jy altyd maak: jy het maar net hierheen gekom om die geveg te sien.” “Wat het ek nou verkeerd gedoen?” vra Dawid. “Hierdie is tog ’n ernstige saak.” Hy draai toe weg van Eliab af na van die ander manne en vra vir hulle ook dieselfde vraag. Hulle gee hom toe dieselfde antwoord. Die manskappe het gehoor wat Dawid sê en dit vir Saul gaan vertel. Saul laat hom toe haal. Dawid het vir Saul gesê: “Ons moenie moed verloor oor hierdie Filistyn nie. Hierdie dienaar van u sal teen hom gaan veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Nee, man, jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie! Jy is nog ’n kind en hy is van kleintyd af al ’n beroepsoldaat.” “U Majesteit,” antwoord Dawid vir Saul, “ek pas lank vir my pa skape op. As ’n leeu of ’n beer een van die lammers in die trop vang, gaan ek agter hom aan en slaan hom plat en kry die lam terug. As hy my aanval, gryp ek hom aan sy keel en slaan hom dood. Ek het leeus en bere kafgeloop en ek sal dieselfde doen met hierdie Filistyn, want hy het met die manskappe van die lewende God gespot. Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.” Saul het vir hom gesê: “Gaan dan maar; en mag die Here jou help.” Saul trek toe vir Dawid sy eie oorlogsklere aan: hy sit ’n brons helm op sy kop en trek vir hom ’n veghemp aan. Dawid maak Saul se swaard bo-oor sy oorlogsklere vas. Hy probeer toe met die klere loop, maar hy was glad nie gewoond daaraan nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy vir Saul, “ek is nie gewoond daaraan nie.” Toe trek Dawid die klere uit. Hy vat sy kierie, soek vir hom vyf spoelklippies uit in die spruit, druk dit in die kantsakkie van sy bladsak en met sy slingervel in sy hand gaan hy na die Filistyn toe. Die Filistyn kom al hoe nader na Dawid toe. Voor hom loop die man wat die groot skild dra. Toe die Filistyn Dawid mooi bekyk en sien dat hy sommer nog ’n kind is met ’n seunsgesig, het hy hom geminag. Hy sê toe vir Dawid: “Dink jy ek is ’n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het Dawid vervloek in die naam van sy gode en vir hom gesê: “Kom hier, dat ek jou vleis vir die aasvoëls en jakkalse kan voer.” Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom teen my veg met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek veg teen jou in die Naam van die magtige Here, die God van die manskappe van Israel, met wie jy gespot het. Vandag gaan die Here jou aan my oorgee: ek gaan jou neerslaan en jou kop afkap. Vandag gaan ek die lyke van die soldate van die Filistyne vir die aasvoëls en die jakkalse voer. Dan sal die hele wêreld weet dat Israel ’n God het, en al die mense wat hier bymekaar is, sal weet dat die Here nie swaarde en spiese nodig het om mee te red nie. Die Here besluit wie ’n oorlog wen en Hy het julle klaar aan ons oorgegee.” Toe die Filistyn hom gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig nader gehardloop om hóm aan te val. Dawid steek sy hand in die sak, haal ’n klip uit en gooi met die slingervel. Die klip tref die Filistyn reg voor die kop en gaan in sy voorkop in sodat hy vooroor op die grond val. Dawid het die Filistyn gewen met slingervel en klip. Dawid het hom raak gegooi en hom so doodgemaak. Net so, sonder ’n swaard het Dawid dit gedoen. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan, sy swaard uit die skede getrek en hom doodgemaak. Daarna het hy sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle weggehardloop. Die manne van Israel en Juda het opgespring en hulle strydkreet geskree. Hulle het die Filistyne gejaag tot by Gat en tot by die ingang van Ekron. Die lyke van die Filistyne het oral langs die pad gelê, van Saärajim af tot by Gat en Ekron. Toe die Israeliete terugkom van dié woeste gejaag af, het hulle al die goed in die Filistyne se kamp gevat. (Dawid het later die Filistyn se kop Jerusalem toe gevat, en die wapens het hy in sy huis gesit.) Saul het gesien hoe Dawid teen die Filistyn gaan veg, waarop hy vir Abner, sy groot generaal, gevra het: “Wie se kind is dit, Abner?” “Ek weet sowaar nie, U Majesteit,” het hy geantwoord. “Vind vir my uit wie se kind is die jong man,” het die koning gesê. Toe Dawid terugkom by die kamp nadat hy die Filistyn doodgemaak het, het Abner hom na Saul toe gebring. Hy het die kop van die Filistyn nog by hom gehad. Saul vra hom toe: “Wie se kind is jy, seun?” Dawid het geantwoord: “Ek is die kind van Isai, u onderdaan wat in Betlehem bly.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 17:1-58