Die Filistynse troepe het saamgetrek vir oorlog. Hulle het by Soko in Juda bymekaargekom en kamp opgeslaan by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die manskappe van Israel het in die vallei by die groot boom kamp opgeslaan en hulle vir die geveg teen die Filistyne gereedgemaak. Die Filistyne en die Israeliete het op twee heuwels teenoor mekaar stelling ingeneem. Daar was ’n vallei tussen hulle.
Goliat, ’n uithalervegter van Gat, het uit die leër van die Filistyne na vore gekom. Hy was drie meter lank. Hy het ’n bronshelm op sy kop gehad en ’n harnas met skubbe. Die gewig van die harnas was 57 kilogram. Sy beenplate was ook van brons, en ’n bronsswaard het tussen sy skouerblaaie gehang. Die steel van sy spies was so dik soos ’n wewer se balk en die ysterlem van die spies het sewe kilogram geweeg. ’n Wapendraer het voor hom uitgeloop en ’n skild gedra.
Hy het teenoor die manskappe van Israel gaan staan en geskreeu: “Is dit regtig nodig dat die gevegslinies opgestel moet word? Ek is tog ’n Filistyn en julle is onderdane van Saul. Kies iemand wat ’n tweegeveg met my kan voer. As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees! Ek daag vandag die gevegsmagte van Israel uit! Stuur tog iemand om teen my te veg!”
Toe Saul en die Israeliete dit hoor, was hulle mismoedig en baie bang.
Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. Die oudste drie, Eliab, Abinadab en Samma, was soldate in Saul se leër. Dawid was die jongste seun, terwyl die drie oudstes reeds in Saul se leër diens gedoen het. Dawid het heen en weer beweeg tussen Saul en sy pa se skape wat hy in Betlehem moes versorg.
Vir 40 dae lank, elke oggend en aand, het die Filistyn uitgekom en sy uitdaging aan die Israeliete gerig.
Op ’n dag sê Isai vir Dawid: “Vat sestien kilogram gebraaide koring en tien brode na jou broers toe in die militêre kamp. Gee hierdie tien stukke kaas vir hulle bevelvoerder. Kyk ’n bietjie hoe dit met jou broers gaan en bring iets saam om te bewys dat dit goed gaan met hulle.”
Dawid se broers was manskappe in Saul se leër wat in die laagte by die groot boom teen die Filistyne geveg het. Dawid het vroeg opgestaan, die skape in die sorg van ’n ander herder gelos, die kos geneem en gedoen soos sy pa hom beveel het. Net toe hy daar aankom, het die manskappe met ’n oorlogskreet in gevegsorde uitgetrek waar Israel en die Filistyne teenoor mekaar opgestel was. Dawid het sy bagasie net so in die sorg van ’n oppasser gelos en hom na sy broers in die linie gehaas. Daar verneem hy na hulle welstand. Juis toe kom Goliat, die uithalervegter van Gat, uit die Filistyne se linies na vore. Dawid het sy herhaalde uitdaging gehoor.
Toe die Israeliete Goliat hoor, het hulle weggehardloop omdat hulle vir hom bang was. Die manskappe van Israel sê toe: “Het julle hom gesien? Elke dag kom hy uit om Israel te beledig. Die koning het ’n groot beloning aangebied vir enigeen wat die man sal doodmaak. Die koning sal een van sy dogters vir hom as vrou gee en sy hele familie sal van belasting vrygestel word!”
Dawid praat toe met die ander wat daar by hom staan. “Wat sal gebeur met die man wat hierdie Filistyn doodmaak en so ’n einde bring aan die skande oor Israel? Wie is hierdie onbesnede Filistyn dat hy die leër van die lewende God so kan beledig?” Dawid het dieselfde antwoord as vroeër ontvang: “Dit is wat sal gebeur met die man wat hom doodmaak.”
Maar Dawid se oudste broer het gehoor hoe hy met die manskappe praat en het kwaad geword. “Hoekom het jy hierheen gekom?” vra hy. “En by wie het jy daardie klompie vee in die wildernis gelos? Ek ken jou domastrantheid en vermetelheid. Jy wil net die geveg sien!”
“Wat het ek dan nou gedoen?” antwoord Dawid. “Ek het maar net ’n vraag gevra!” Hy gaan toe na iemand anders toe en vra dieselfde vraag en kry dieselfde antwoord. Al meer mense het gehoor wat Dawid sê en het dit aan Saul oorgedra. Hy het Dawid laat roep.
“Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie,” sê Dawid vir Saul. “Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!”
“Moenie verspot wees nie,” sê Saul. “Jy kan tog nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ’n seun, terwyl hy van jongs af ’n vegter is!”
Maar Dawid het volgehou: “Ek pas my pa se skape op,” sê hy. “As ’n leeu of ’n beer kom om ’n lam uit die trop weg te dra, sit ek hom agterna. Ek val hom aan en red die lam uit sy bek. As hy my wil aanval, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het dit al met sowel ’n leeu as ’n beer gedoen, en hierdie onbesnede Filistyn sal soos een van hulle word omdat hy die leër van die lewende God beledig het! Die HERE wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!”
Saul het uiteindelik ingestem. “Goed, doen dit,” sê hy. “En mag die HERE met jou wees!”
Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek: ’n bronshelm op sy kop en ’n borsharnas. Dawid het ook sy swaard bo-oor sy uitrusting vasgemaak. Toe hy probeer loop, kon hy nie, want hy het dit nog nie vantevore gedra nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy. “Ek is nie daaraan gewoond nie.” Daarom het hy die uitrusting uitgetrek. Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit uit en sit dit in sy slingersak. Met sy slingervel in die hand loop hy die Filistyn tegemoet.
Die Filistyn het na Dawid toe uitgekom, met sy skilddraer voor hom. Toe hy hom sien, het hy hierdie jong rooierige en aantreklike seun geminag. Hy skreeu vir hom: “Is ek ’n hond dat jy met ’n stok na my toe kom?” Toe vervloek hy Dawid in die naam van die Filistyne se gode. “Kom nader sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee!” skree hy.
Maar Dawid skree terug: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die HERE, die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy staan en beledig. Vandag gee die HERE jou oor in my mag. Ek sal jou doodmaak, jou kop afkap, en die lyke van die Filistynse leër vir die roofvoëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee. Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het. Almal sal weet dat die HERE nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die HERE s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!”
Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan. Hy steek sy hand in sy slingersak, vat ’n klip daaruit, gooi dit met sy slingervel en tref die voorkop van die Filistyn. Die klip het in sy kop ingedring en hy het met sy gesig vooroor op die grond geval. So het Dawid met sy slinger en ’n klip die Filistyn oorwin. Hy het hom getref en doodgemaak sonder dat daar ’n swaard in Dawid se hande was. Toe hardloop Dawid, trek die Filistyn se swaard uit die skede en kap sy kop daarmee af.
Toe die Filistyne sien dat hulle baasvegter dood is, het hulle gevlug. Die manskappe van Israel en Juda het opgespring en met ’n geskree die Filistyne agternagesit tot by die ingang na Gat en die poorte van Ekron. Die gesneuweldes van die Filistyne het gestrooi gelê langs die pad vanaf Saärim na Gat toe en tot by Ekron. Daarna het die Israeliete omgedraai van die agtervolging en die kamp van die Filistyne geplunder. Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar sy wapens in sy eie tent gaan neersit.
Toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn aan te durf, vra hy vir Abner, die hoof van die leër: “Wie se seun is hierdie jong man, Abner?”
Abner antwoord: “Ek weet regtig nie, Koning!”
“Dan moet jy uitvind wie die jong man is,” beveel Saul.
Nadat Dawid die Filistyn doodgemaak het, bring Abner hom na Saul toe. Die kop van die Filistyn was nog in sy hand. Saul sê vir hom: “Sê my wie se kind is jy, my seun?”
Dawid antwoord: “Ek is die seun van u onderdaan Isai. Ons woon in Betlehem.”