1 Konings 1:28-53

1 Konings 1:28-53 DB

Koning Dawid het geantwoord: “Gaan roep vir Batseba! Sê sy moet onmiddellik hierheen kom!” Batseba het teruggekom en voor die koning gaan staan. Toe het hy vir haar gesê: “Ek belowe voor die lewende Here, die God wat my uit soveel moeilikhede en probleme gehelp het, dat ek vandag my belofte sal nakom wat ek lank gelede in die Naam van die Here, die God van Israel, aan jou gemaak het. Jou seun Salomo sal inderdaad koning word wanneer ek nie meer daar is nie.” Batseba was oorstelp van vreugde. Sy het laag gebuig en gesê: “Mag koning Dawid vir altyd in die herinnering van sy mense voortleef.” Toe het Dawid vir Sadok, Natan en Benaja laat kom en vir hulle gesê: “Vat nou al my lyfwagte en dan laat julle my seun Salomo op my eie muil klim. Gaan julle dan almal saam met hom na die Gihonfontein toe. Laat Sadok die priester, en Natan die profeet hom daar voor almal as koning van Israel salf. Laat die trompette klink en die mense skree: ‘Lank lewe koning Salomo!’ Gaan dan saam met hom terug en laat hom op my troon sit. Ja, laat hom daar sit, want hy is die een wat na my sal regeer. Ek het hóm gekies om oor Israel en Juda te regeer.” “Ons sal so maak,” het Benaja geantwoord. “En mag die Here, u God, ons help dat alles goed sal verloop. En soos die Here by u was, mag Hy ook by Salomo wees. Mag Salomo se koningskap selfs voorspoediger wees as dié van Dawid.” Sadok, Natan, Benaja, asook die koning se lyfwagte het Salomo op koning Dawid se muil gesit en is saam met hom Gihonfontein toe. Sadok het ’n houer met olie uit die tent waar die Here altyd teenwoordig was, saamgeneem. En hy het Salomo gesalf. Toe het hulle die trompette begin blaas en geskree: “Lank lewe koning Salomo.” Almal is toe saam met Salomo terug. Hulle was uitbundig bly en het vrolik op hulle fluite gespeel. Van al die geraas het die aarde eintlik gebewe. ’n Entjie daarvandaan het Adonia en sy gaste net klaar geëet en gedrink toe hulle skielik die geraas gehoor. Joab het die trompette veraf gehoor en gesê: “Waarom raas die mense so in die stad?” Joab het skaars klaar gepraat of Jonatan die seun van die priester Abjatar kom daar aangestap. “Kom binne, Jonatan,” het Adonia gesê. “Jy is ’n goeie mens en ek weet jy bring vir ons goeie nuus.” “Ongelukkig nie,” het Jonatan geantwoord. “Koning Dawid het sy seun Salomo pas koning gemaak. Hy het Sadok, Natan, Benaja en die koninklike lyfwag na Salomo toe gestuur. Hulle het hom op die koning se muil gesit. By die Gihonfontein het Sadok en Natan hom as koning gesalf. Daarna is hulle terug stad toe terwyl die volk vrolik gesing en gedans het. Tans is die stad die ene uitbundigheid. Dit is die geraas wat julle nou daar hoor. Salomo het selfs op die koning se troon gaan sit. Maar iets ergers het nog gebeur. Al die koning se amptenare is na koning Dawid toe om hom met sy seun geluk te wens. Almal het gesê hulle hoop dat God vir Salomo beroemder en voorspoediger as Dawid sal maak. Die koning het by sy bed gekniel en gesê: ‘Kom ons loof die Here, die God van Israel, wat vandag een van my eie kinders koning laat word het. Loof die Here dat elkeen van ons dit met ons oë kon sien.’” ’n Groot angs het Adonia en sy gaste beetgepak. Almal het vinnig opgespring en is daar weg. Elkeen het sy eie koers ingeslaan. Adonia was benoud en baie bang dat Salomo hom sou kry. Hy het toe sommer reguit na die tent waar die Here teenwoordig was, gehardloop en aan die hoeke van die altaar gaan vashou. Hulle het vir Salomo vertel dat Adonia bang is vir hom en krampagtig aan die hoeke van die altaar vasklou terwyl hy aanmekaar sê: “Ek los nie voordat koning Salomo gesweer het hy sal my nie doodmaak nie.” Salomo het geantwoord: “Laat hom tog maar gaan. En sê vir hom as hy aan die koning getrou is, sal daar nie eens ’n haar van sy kop afval nie. As hy egter verkeerd doen, sterf hy onmiddellik.” Koning Salomo het manne gestuur om Adonia by die altaar te haal en hom van die koning se besluit te vertel. Adonia is toe reguit na die koning toe en het laag voor hom gebuig. Salomo het vir hom gesê: “Jy kan maar huis toe gaan.”