1 Johannes 5:1-21

1 Johannes 5:1-21 DB

Elkeen wat geen twyfel daaroor het dat Jesus die Messias is nie, kan weet dat God hom sy kind gemaak het. Elkeen wat God wat mense sy kinders maak, liefhet, het ook almal lief wat sy kinders is. Wie dus die Vader liefhet, het ook sy kinders lief. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Ons weet dat wanneer ons God liefhet en doen wat Hy van ons vra, ons ook sy kinders met liefde en respek sal behandel. Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie, want elke kind in die familie van God is ’n wenner, ’n wenner oor hierdie sondige wêreld. Die manier waarop ons die sondige wêreld wen, is deur naby aan Jesus te leef. Dus: Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se verhouding met Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun van God. Dit is Jesus Christus wat deur die water van sy doop en sy bloed aan die kruis hierheen gekom het, nie net deur die water van sy doop nie, maar deur die doopwater én sy bloed aan die kruis. Die Heilige Gees staan vir die waarheid daarvan in. Die Gees se getuienis en die waarheid is natuurlik presies dieselfde. Daar is drie wat getuienis aflê: eerstens is daar die Heilige Gees; dan is daar die water van die doop van Jesus, en laastens is daar sy bloed wat aan die kruis gevloei het. Hierdie drie getuies sê presies dieselfde. Gewoonlik aanvaar ons dit wat mense getuig sonder veel probleme. As God egter iets getuig, lê dit op ’n heel ander vlak; dit is eenvoudig baie belangriker. Onthou, dit is die getuienis van God. En weet jy waaroor hierdie getuienis handel? Ja, oor sy Seun. Wie in die Seun van God glo, hou hier diep binne-in hom aan hierdie getuienis van God vas. Daaruit put hy baie motivering. Wie God egter nie glo nie, gee voor dat God ’n klomp leuens sou vertel. So ’n ongelowige weier sowaar om die getuienis wat God self oor sy Seun gelewer het, ernstig op te neem. Wat behels hierdie getuienis oor sy Seun presies? God bied die ewige lewe vir ons aan. Hierdie lewe is in en by sy Seun beskikbaar. Wie dus in ’n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ’n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis. Ek het ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf: dit is sodat julle wat in die Seun van God glo, kan weet dat julle die goddelike, nimmereindigende lewe het. Ons kan heeltemal vry en vol selfvertroue met God praat. Immers, as een van ons vir God iets volgens sy wil vra, kan ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker, dit is so goed of ons het wat ons van God vra. Kyk na die volgende voorbeeld. Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie. Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie. Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie. Ons weet dat ons kinders van God is. Al die ander mense in die wêreld wat nie kinders van God is nie, is verstrik in die mag van die Bose. Dit weet ons: die Seun van God het gekom en vir ons die geestelike dinge kom verduidelik. Daarom kan ons nou die ware God ken. Ons is deel van die familie van die ware God, van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie Jesus self is die ware God en die ewige lewe. My kinders, loop wye draaie om alles wat julle hinder of keer om God voluit te dien.