1 JOHANNES 5:1-21

1 JOHANNES 5:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Almal wat glo dat Jesus die Christus is, is kinders van God, en almal wat lief is vir God die Vader, is ook lief vir God se ander kinders. Ons weet dat ons lief is vir die kinders van God wanneer ons lief is vir God en ons doen wat Hy vir ons sê. Ja, ons is lief vir God as ons doen wat Hy vir ons sê. En dit is maklik om te doen wat God vir ons sê, want elke kind van God oorwin die wêreld. Ons oorwin die wêreld wanneer ons in Jesus glo. Ja, as ons glo dat Jesus die Seun van God is, dan oorwin ons die wêreld. Ons weet dat Jesus Christus die Seun van God is, want Hy is gedoop en Hy het vir ons sonde gesterf. Ja, Hy is nie net gedoop nie, Hy het ook vir ons sonde gesterf. Ons weet dit omdat die Heilige Gees dit vir ons gesê het, die Gees wat altyd die waarheid praat. Daarom is daar drie wat sê dit is die waarheid: die Heilige Gees, Jesus se doop en Jesus se dood. Al drie sê dieselfde oor Jesus. Ons glo wat mense vir ons sê. Maar wat God vir ons sê, is baie belangriker, en dit is God wat vir ons vertel het van sy Seun. Almal wat glo in die Seun van God, glo wat God vir hulle gesê het oor Jesus. Maar almal wat nie vir God glo nie, sê dat God lieg, want hulle glo nie wat Hy oor sy Seun gesê het nie. God het vir ons gesê dat Hy vir ons die ewige lewe gee. Ja, sy Seun gee vir ons die ewige lewe. Almal wat in die Seun glo, het die ewige lewe, maar almal wat nie in die Seun glo nie, het nie die ewige lewe nie. Ek skryf al hierdie dinge vir julle sodat julle seker kan wees dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo. Wanneer ons by God is, dan is ons nie bang nie, want ons weet dat Hy luister wanneer ons die dinge vir Hom vra wat Hy wil hê ons moet vra. Hy luister wanneer ons dit vra. Daarom weet ons dat Hy al klaar vir ons iets gegee het wanneer ons dit vir Hom vra. Wanneer julle sien dat die ander gelowiges sonde doen, en dit is sonde wat God sal vergewe, dan moet julle bid vir daardie gelowiges. Julle moet bid vir die gelowiges wat sonde doen wat God sal vergewe. As julle vir hulle bid, dan sal God die ewige lewe vir hulle gee. Maar daar is ook sonde wat God nie sal vergewe nie, en ek sê nie dat julle daarvoor moet bid nie. Alles wat verkeerd is, is sonde, maar daar is sonde wat God vergewe, en daar is sonde wat God nie vergewe nie. Ons weet dat kinders van God nie aanhou om sonde te doen nie, want die Seun van God beskerm hulle. Daarom kan die duiwel niks aan hulle doen nie. Ons weet dat ons kinders van God is en dat die duiwel regeer oor al die ander mense. Ons weet dat die Seun van God gekom het en dat Hy ons gehelp het om die ware God te leer ken. Nou is ons by die ware God en by sy Seun, Jesus Christus. Jesus is regtig God, Hy gee vir ons die ewige lewe. Vriende, julle moet oppas vir die afgode!

1 JOHANNES 5:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

ELKEEN wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus die Christus; nie deur die water alleen nie, maar deur die water en die bloed; en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig. As ons die getuienis van die mense aanneem — die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God. En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het. As iemand sy broeder 'n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee — vir die wat nie 'n sonde tot die dood doen nie. Daar is 'n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde wat nie tot die dood is nie. Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie. Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. My kinders, bewaar julleself van die afgode. Amen.

1 JOHANNES 5:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. Daar is dus drie wat getuig : die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo. En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra. As iemand sy broer sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid en God sal die broer die ewige lewe gee. Dit geld dié wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie. Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie. Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie. Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.

1 JOHANNES 5:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Elkeen wat glo dat Jesus die •Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie 'n swaar las nie; want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof. Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die •Seun van God is? Hy, Jesus •Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het – nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens. As ons die getuienis van mense aanvaar – die getuienis van God is vir seker groter, omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself; wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die •Seun van God glo. En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra. As iemand sy broer 'n sonde sien doen wat nie tot die dood lei nie, moet hy bid, en God sal aan hom, ja, aan hulle wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie, die lewe gee. Daar is 'n sonde wat tot die dood lei – ek sê nie dat hy daaroor moet bid nie. Elke onreg is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie. Ons weet dat niemand wat uit God gebore is, aanhou sonde doen nie; maar Hy wat uit God gebore is, beskerm hom, en die Bose kan hom niks aandoen nie. Ons weet dat ons uit God is, en dat die hele wêreld in die mag van die Bose is. En ons weet dat die Seun van God gekom het, en aan ons verstand gegee het sodat ons die Waaragtige kan ken, en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus •Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. My kinders, beskerm julleself teen die afgode.

1 JOHANNES 5:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die vader liefhet, het ook hom lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet, wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar, en sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld, en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin, naamlik ons geloof. Wie is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus Christus; nie net deur water nie, maar deur water en bloed. En dit is die Gees wat getuig, want die Gees is waarheid. Want daar is drie wat getuig in die hemel, die Vader, die Woord en die Heilige Gees; en hierdie drie is een. En daar is drie wat op die aarde getuig: die Gees en die water en die bloed; en hierdie drie stem ooreen. As ons die getuienis van mense ontvang, is die getuienis van God groter, want dit is die getuienis van God wat Hy van sy Seun getuig het. Hy wat in die Seun van God glo, het die getuienis in homself; omdat hy die getuienis nie glo wat God van sy Seun gegee het nie. En dit is die getuienis dat God aan ons die ewige lewe gegee het, en hierdie lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; en wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God; sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, en dat julle kan glo in die Naam van die Seun van God. En dit is die vertroue wat ons in Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, wat ons ook al vra, weet ons dat ons die smekinge het wat ons van Hom verlang het. As iemand sy broer 'n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en hy sal hom die lewe gee vir die wat nie tot die dood sondig nie. Daar is 'n sonde tot die dood: Ek sê nie dat hy daarvoor sal bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde nie tot die dood nie. Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die bose raak hom nie aan nie. En ons weet dat ons uit God is, en die hele wêreld lê in goddeloosheid. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het, sodat ons die Waaragtige kan ken, en ons is in die Waaragtige, ja, in sy Seun Jesus Christus. Dit is die ware God, en die ewige lewe. Kinders, bewaar julleself van afgode. Amen.

1 JOHANNES 5:1-21 Die Boodskap (DB)

Elkeen wat geen twyfel daaroor het dat Jesus die Messias is nie, kan weet dat God hom sy kind gemaak het. Elkeen wat God wat mense sy kinders maak, liefhet, het ook almal lief wat sy kinders is. Wie dus die Vader liefhet, het ook sy kinders lief. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Ons weet dat wanneer ons God liefhet en doen wat Hy van ons vra, ons ook sy kinders met liefde en respek sal behandel. Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie, want elke kind in die familie van God is ’n wenner, ’n wenner oor hierdie sondige wêreld. Die manier waarop ons die sondige wêreld wen, is deur naby aan Jesus te leef. Dus: Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se verhouding met Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun van God. Dit is Jesus Christus wat deur die water van sy doop en sy bloed aan die kruis hierheen gekom het, nie net deur die water van sy doop nie, maar deur die doopwater én sy bloed aan die kruis. Die Heilige Gees staan vir die waarheid daarvan in. Die Gees se getuienis en die waarheid is natuurlik presies dieselfde. Daar is drie wat getuienis aflê: eerstens is daar die Heilige Gees; dan is daar die water van die doop van Jesus, en laastens is daar sy bloed wat aan die kruis gevloei het. Hierdie drie getuies sê presies dieselfde. Gewoonlik aanvaar ons dit wat mense getuig sonder veel probleme. As God egter iets getuig, lê dit op ’n heel ander vlak; dit is eenvoudig baie belangriker. Onthou, dit is die getuienis van God. En weet jy waaroor hierdie getuienis handel? Ja, oor sy Seun. Wie in die Seun van God glo, hou hier diep binne-in hom aan hierdie getuienis van God vas. Daaruit put hy baie motivering. Wie God egter nie glo nie, gee voor dat God ’n klomp leuens sou vertel. So ’n ongelowige weier sowaar om die getuienis wat God self oor sy Seun gelewer het, ernstig op te neem. Wat behels hierdie getuienis oor sy Seun presies? God bied die ewige lewe vir ons aan. Hierdie lewe is in en by sy Seun beskikbaar. Wie dus in ’n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ’n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis. Ek het ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf: dit is sodat julle wat in die Seun van God glo, kan weet dat julle die goddelike, nimmereindigende lewe het. Ons kan heeltemal vry en vol selfvertroue met God praat. Immers, as een van ons vir God iets volgens sy wil vra, kan ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker, dit is so goed of ons het wat ons van God vra. Kyk na die volgende voorbeeld. Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie. Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie. Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie. Ons weet dat ons kinders van God is. Al die ander mense in die wêreld wat nie kinders van God is nie, is verstrik in die mag van die Bose. Dit weet ons: die Seun van God het gekom en vir ons die geestelike dinge kom verduidelik. Daarom kan ons nou die ware God ken. Ons is deel van die familie van die ware God, van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie Jesus self is die ware God en die ewige lewe. My kinders, loop wye draaie om alles wat julle hinder of keer om God voluit te dien.

1 JOHANNES 5:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Elkeen wat glo en bely dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook sy kinders lief. Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer. Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie, want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof. Wie anders kan dit wees wat die wêreld verower as die een wat bely dat Jesus die Seun van God is? Dit is Hy wat deur die water en die bloed gegaan het, nie slegs deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat daaroor getuienis aflê omdat die Gees die waarheid is. Daarom is daar dié drie wat getuienis aflê: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens. As ons dan die getuienis van mense as betroubaar aanvaar – die getuienis van God dra soveel groter gewig. Hierdie getuienis kom van God af; sy getuienis oor sy eie Seun staan vas. Almal wat glo in die Seun van God, dra dié getuienis in hulle eie hart; wie nie glo nie, het God as ’n leuenaar uitgemaak omdat hulle nie glo in die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ’n hegte verhouding met sy Seun. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie. Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God. Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan. As jy sien dat jou broer of suster aanhou sonde doen – sonde wat nie tot die dood lei nie – moet jy ernstig bid en God sal aan hulle lewe gee. Dit geld vir dié sondes wat nie tot die dood lei nie. Daar is ook sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat jy daarvoor moet bid nie. Elke optrede wat nie reg is nie, is sonde, maar nie elke sonde lei tot die dood nie. Ons leef egter met die wete dat elkeen wat deur God verwek is, nie aanhou sonde doen nie. God bewaar dié een wat uit Hom gebore is en die bose kry nie vatplek aan hom nie. Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê. Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe. Kinders, loop tog wakker vir die afgode!