Iemand onder julle wonder dalk: “Hoe op aarde kan iemand wat dood is weer lewendig word en hoe sal sy liggaam daarna lyk?” Dis darem ’n dom vraag. Julle weet mos dat ’n saad wat jy in die grond saai ’n ruk lank eers lyk of dit dood is en dan, na ’n rukkie, kom die lewendige plantjie uit. En verder, as jy byvoorbeeld ’n mielie plant, plant jy tog nie die groot plant met die mieliekop en al nie. Jy plant die mieliepit. God besluit dan self hoe die plant moet lyk - elke soort saad gee mos ’n ander soort plant. Die diere en mense verskil net so. ’n Mens is mos anders gebou as ’n dier of ’n vis. Die sterre en die son lyk ook anders as die aarde. Die sterre en die son is op ’n ander manier mooi as die dinge hier op aarde. Selfs die sterre verskil van mekaar en is elkeen op sy eie manier mooi. Die prag van die son is anders as die prag van die maan. Net so sal dit wees wanneer ons uit die dood lewendig word.
Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam waarmee ons weer lewendig sal word, sal nooit vergaan nie.
Die liggaam wat begrawe word, is vol gebreke, maar oor ons nuwe liggaam sal ons maar net kan oorloop van trots.
Die oue is swak, maar die nuwe is vol krag.
Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike liggaam.
Soos daar ’n gewone aardse liggaam is, so is daar ook ’n geestelike liggaam. In die Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ’n lewende mens geword het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense geestelik lewendig maak. Ons word dus eers met ons gewone aardse liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later. Die eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom. Die mense op aarde is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos Christus. Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het.
My liewe broers en susters, wat ek met ander woorde wil sê, is dit: ons, met ons aardse liggame, kan nie in die nuwe wêreld van God ingaan nie. ’n Liggaam wat doodgaan en vergaan, kan tog nie in die nuwe wêreld van God gaan bly waar alles vir altyd hou nie. Laat ek julle ’n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. Dié wat nog in hulle aardse liggame lewe wanneer Hy kom, sal in die plek daarvan ’n nuwe geestelike liggaam kry. Wanneer daar aangekondig word dat die Here kom, sal dit vinniger gebeur as wat die oog kan sien. Dit sal so gebeur: die aankondiging sal kom dat die Here kom en dan sal die mense wat al dood is, lewendig gemaak word met hulle nuwe liggame; dié wat in daardie stadium nog op aarde lewe, sal dadelik ’n nuwe liggaam kry. Hierdie liggaam wat ons nou het, gaan agteruit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie.