1 Korintiërs 15:1-23

1 Korintiërs 15:1-23 DB

My liewe broers en susters, laat ons vir oulaas weer kyk na die goeie boodskap oor Jesus wat ek vir julle vertel het. Dit is die boodskap wat julle julle eie gemaak het en nou by sal staan of val. Toe julle hierdie goeie nuus gehoor het, het julle mos Christene geword, natuurlik mits julle nie allerhande afdraaipaadjies vat nie, maar dit glo soos ek dit vir julle vertel het. As julle egter ’n ander pad loop, stap julle weg van God af wat julle red en kan julle net sowel ophou glo, want dit alles sal julle niks help nie. Soos ek die boodskap van ander gehoor het, het ek dit ook vir julle vertel. Die hart van alles is dít: Christus het gesterf sodat ons nie self sal moet sterf vir al die verkeerde dinge wat ons voor God gedoen het nie. Dit is presies wat die Skrif voorspel het sou gebeur. Maar die Skrif het ook verder voorspel dat Hy begrawe sou word en dat God Hom na drie dae weer lewendig sou maak. Net so het dit toe ook gebeur. Petrus het Hom eerste gesien nadat Hy lewendig geword het en later het al twaalf sy getrouste volgelinge Hom gesien. Daarna het Hy aan 500 mense gelyk verskyn. Party van hulle is al dood, maar die meeste van hulle lewe nog. Jakobus het toe aan die beurt gekom en daarna die apostels. Heel laaste het Christus aan my verskyn, ek wat op heeltemal die verkeerde tyd gebore is en daarom lank op die verkeerde pad was. As dit by die apostels van die Here kom, staan ek agter in die ry. Eintlik behoort ek nie eens in daardie ry te staan nie, want kyk net hoe het ek die mense van God vroeër vervolg en probeer seermaak. Maar God was wonderlik goed vir my, wat ek natuurlik geensins verdien het nie. Hy het my gemaak wat ek nou is. Hierdie goedheid van God was nie alles vir niks nie. Ek het harder en meer vir die Here gewerk as enige ander een. Dit was nie ek wat so goed was nie, maar die Here wat so goed vir my was. Hy het deur my gewerk. Eintlik maak dit nie saak wie die werk doen nie, solank dit net gedoen word. Of dit nou ek is of die ander apostels, ons het dieselfde goeie nuus vir julle kom vertel en julle het dit julle eie gemaak. Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie? As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie. As dit darem waar sou wees, beteken dit dat alles wat ons vir julle vertel het, net ’n klomp leuens is en dat julle in net mooi niks glo wanneer julle sê julle glo in Christus nie. En dit is nie al nie. As Jesus nog dood is, beteken dit dat ons ’n klomp leuens oor God ook vertel, want ons sê mos dat Hy Christus lewendig gemaak het. As God nie mense lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus - dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak nie. En as God Hom nie lewendig gemaak het nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in die sonde. Dan help dit niks meer dat julle sê julle glo nie. Dan is nie net ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder enige hoop totaal verlore. As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ’n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel. Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy. Dit werk so: dit was ’n mens, Adam, se skuld dat die dood nou elkeen van ons tref. Maar dit is ook ’n mens, Christus, wat daarvoor gesorg het dat mense wat dood is weer lewendig gemaak kan word. Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy. Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak. Wanneer Christus weer kom, sal al die mense wat aan Hom behoort ook opstaan.