1 KORINTIËRS 15:1-23

1 KORINTIËRS 15:1-23 NLV

Broers en susters, ek herinner julle aan die Goeie Nuus wat ek tevore reeds aan julle verkondig het. Julle het dit aangeneem en hierdie boodskap vorm die vaste basis van julle geloof. Deur hierdie Goeie Nuus word julle verlossing bewerk, dit wil sê as julle daaraan vashou soos ek dit oorspronklik aan julle verkondig het – anders was julle geloof heeltemal nutteloos. Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het, en wat ek weer van hulle voor my ontvang het, was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan. Verder dat Hy aan Petrus verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn. Van hulle leef die meeste nou nog, maar party is reeds dood. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels. Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn, asof ek ontydig gebore is. Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ’n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se genade is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het. Maak ook nie saak wie gepreek het nie. Die belangrike feit is dat dít die Goeie Nuus is wat ons verkondig en wat julle in die geloof aangeneem het. Sê vir my, as ons verkondig dat God Christus uit die dood laat opstaan het, hoe is daar dan sommige van julle wat beweer dat daar nie so iets soos die opstanding uit die dood bestaan nie? As daar werklik geen opstanding uit die dood is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. Maar as Christus nie opgewek is nie, sou dit beteken dat ons verkondiging geen substansie het nie en dat julle geloof ook platval. Dan sou ons as leuenaars omtrent God aan die kaak gestel word. Dan het ons mos teen die waarheid van God in getuig dat Hy Christus opgewek het, terwyl Hy dit in werklikheid nie gedoen het nie – dit wil nou sê, as die dooies nie opgewek word nie. Ek sê weer, as die dooies nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof waardeloos en is julle nog vasgevang in julle sondes. In daardie geval is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore! As ons egter op niks meer sou kon hoop as dat Christus ’n verskil sal maak aan ons huidige lewe nie, sou ons definitief die bejammerenswaardigste mense onder die son wees! Maar nou is die werklikheid totaal anders! God hét Christus uit die dood laat opstaan! Dit gee ons die waarborg dat ook die ander dooies sal opstaan. Julle sien, soos die dood deur ’n mens, naamlik Adam, in die wêreld ingekom het, so het die opstanding uit die dood ook deur ’n mens werklikheid geword. Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word. Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word.