Gee alles om hierdie liefde in julle lewe te hê. Maar moenie van die spesiale geskenke vergeet wat die Gees vir julle gee nie. Gee jouself ook daarvoor, veral om God se boodskap vir die gemeente te bring. Ek weet daar is van julle wat baie daarvan dink om in “spesiale tale” te praat. Maar as iemand so praat, verstaan mense hom nie. God verstaan hom wel, want hy praat mos met God. Wat hy egter vir God sê, is vir mense net naklanke. Wat hy mos so onder die invloed van die Gees sê, is intieme dinge net tussen hom en God wat ander nie verstaan nie. Vergelyk dit nou met iemand wat in verstaanbare taal met mense oor die boodskap van God gesels. Mense verstaan dit en dit maak hulle geestelik baie sterker. Hulle skep moed vir wat voorlê en voel baie meer gerus. Maar as iemand in ’n “spesiale taal” in die gemeente praat, beteken dit eintlik net vir homself iets. As iemand God se boodskap vir die gemeente vertel, beteken dit vir die hele gemeente iets. Dit is nou nie dat ek sê julle moenie in spesiale tale praat nie. Ek gun dit vir elkeen. Wat ek wel sê, is dat julle eerder in die gemeente moet konsentreer op die bring van God se boodskap. In die gemeente is dit meer werd om die boodskap van God te bring as om in spesiale tale te praat, tensy daar iemand in die gemeente is wat kan verduidelik wat met die spesiale tale gesê word. So sal dit vir die gemeente iets kan beteken.
My liewe, goeie vriende, stel julle nou voor dat ek daar by julle aankom en net in spesiale tale praat wat nie een van julle verstaan nie. Sal dit julle baie help? Ons almal weet dit sal nie. Wat wel vir julle baie kan beteken, is as ek met julle oor dinge gesels wat julle verstaan: dit kan dinge wees wat God spesiaal vir my gewys het, of raad oor hoe julle in moeilike situasies moet optree; of ons kan sommer maar net lekker sit en gesels oor wat God se boodskap vir ’n spesifieke situasie is, of ek kan julle miskien meer van Jesus leer.
Dit is baie soos iemand wat sommer net op ’n fluit of ’n harp blaas. As hy nie mooi note speel nie, maar net ’n deurmekaar klomp geraas maak, sal niemand hulle daaraan steur nie. As ’n radio nie op ’n stasie gestel is nie en net ’n gekrap maak, sal jy mos nie kan verstaan wat daar oor die radio gesê word nie. Net so gaan dit in die gemeente. As jy ’n klomp geluide maak wat niemand verstaan nie, hoe sal enigiemand weet wat jy besig is om te sê? Vir die mense rondom jou is jy dan nie beter as daardie fluit of harp wat net ’n klomp geraas maak nie. Ek weet dat daar honderde verskillende tale in die wêreld gepraat word. Elkeen van hierdie tale het ook sin as ’n mens dit net kan verstaan. As ek egter nie die taal verstaan nie, weet ek ook nie wat die ander een wil sê nie. Daar is niks met die taal verkeerd nie, maar ek kan dit net nie verstaan nie. Die persoon kan praat en verduidelik tot hy blou word in die gesig, maar ons sal nie by mekaar uitkom nie. Dis presies wat in die gemeente gebeur as iemand in ’n spesiale taal praat wat niemand anders verstaan nie. Ek weet die spesiale geestelike geskenke wat God vir julle gee, is vir julle belangrik. Wees daarom opgewonde oor daardie geestelike geskenke wat vir ander ook iets beteken en die gemeente sterker kan maak.
Iemand wat dan so ’n spesiale taal van die Gees gekry het om te praat, moet God vra om hom ook te help om te verstaan wat hy besig is om te sê. Ek het al baie ervaring daarvan. As ek in so ’n spesiale taal in gebed met God praat, is my gees nou betrokke, maar my verstand is afgeskakel - ek weet nie wat om te dink oor dit wat ek besig is om te sê nie, want ek verstaan nie wat gesê word nie. Hoe moet dit dan nou presies wees? Eintlik is die ideaal dat jy as mens heeltemal betrokke is, gees en verstand saam. As jy bid, moet jou gees bid, maar jy moet ook verstaan wat jy bid. As jy God loof deur te sing, moet dit uit jou gees borrel, maar so dat jy ook presies weet wat jy besig is om te sing. Dit is belangrik. Sê nou maar jy is daar in jou gees besig om allerhande mooi dinge van God te sê, hoe kan iemand wat niks verstaan wat jy sê nie saam met jou bid? Hoe kan hy die Here vra om dit wat jy besig is om te sê waar te laat word, as hy nie eens weet wat jy sê nie? Jy kan miskien voel dat wat jy in die gemeente doen, goed is en dat die Here ook daarvan hou, maar die mense wat saam met jou in die kerk sit, het niks daarvan nie. Vir hulle beteken dit net mooi niks.
Ek sê vir God dankie dat ek meer in spesiale tale met Hom praat as julle almal saam. Ek is daarom nie teen die praat van spesiale tale nie. Maar as ’n mens darem in die kerk kom, verkies ek om liewer net vyf woorde te sê wat mense kan verstaan en wat iets vir hulle kan beteken as om die hele aand daar op my eie te staan en spesiale tale te praat.
Liewe broers en susters, moet nou nie soos balhorige kinders wees wat nie na goeie raad wil luister nie. Druk wel julle ore toe as mense vir julle sê dat julle verkeerde dinge moet doen. Maar as dit by goeie dinge kom, spits julle ore en luister soos grootmense wat rede verstaan. Daar staan mos in die boek waarin ons van die wil van God leer, geskryf:
“Mense sal kom met tale wat ons nog nooit gehoor het nie, vreemde mense sal met ons kom praat. Deur hierdie mense sal God met die volk praat, maar al doen God dit, sal hulle nog steeds nie luister na wat God sê nie.”
Om so in spesiale tale te praat is in hierdie sin ’n bewys van God se krag vir mense wat nie glo nie, en nie vir Christene nie. Om die boodskap van God vir mense te verduidelik is weer bedoel vir Christene en nie vir ongelowiges nie. Kom ons wees realisties: sê nou die hele gemeente is bymekaar en almal praat tegelyk in spesiale tale. Dan kom daar iemand ingestap wat nie in Jesus glo nie en niks verstaan wat in die kerk aangaan nie. Wat dink julle sal hy sê? Wel, ek dink hy sal sê dit lyk vir hom na ’n groot deurmekaarspul.
Maar sê nou dieselfde ongelowige persoon wat niks van die Christendom verstaan nie, kom in terwyl julle op ’n verstaanbare manier met mekaar oor die boodskap en wil van God praat, wat sal dan gebeur? Sal hy nie dalk luister en diep getref word nie? Sal hy nie besef dat hy op die verkeerde pad is en dat God so ontevrede met hom is dat God hom gaan straf nie? Dit sal vir hom wees of alles hier diep binne-in hom wat hy voorheen nie verstaan of selfs van geweet het nie, skielik opborrel en vir hom glashelder word. Hy sal net daar op sy knieë neersak en God se Naam grootmaak. Hy sal openlik sê: “God is regtig hier by en tussen julle.”