1 Korintiërs 13:1-7

1 Korintiërs 13:1-7 DB

Sê nou maar ek is so “geestelik” dat ek die tale kon praat wat die engele in die hemel praat en selfs nog ’n klomp ander, maar ek het nie ander mense lief nie, wat dan? Vir die Here klink daardie “geestelike gepraat” dan na niks anders nie as ’n geraas soos iemand wat teen ’n yster kap. Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog geleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eens weet nie, en boonop het ek nog die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, is ek vir die Here ’n nul op ’n kontrak. Al gee ek alles wat ek besit vir arm mense en word as martelaar vir die Here verbrand, maar ek het nie lief nie, help dit alles niks. Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie; om altyd alle mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel; om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie; om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie; om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie; om nie sommer vir niks kwaad te word nie, en om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie. Maar liefde het ook grense: liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel het. Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie.