Ruben was Israel se oudste seun. Nadat hy egter by een van sy pa se vroue geslaap het, is die status en voorregte wat hy as oudste seun gehad het, oorgedra op die seuns van Josef, Israel se seun. Hy is nie meer as die oudste seun gereken nie.
Die stam van Juda het wel die sterkste een van al die stamme geword en ’n leier vir die volk opgelewer, maar Josef het steeds die rang van oudste seun gehad.
Die seuns van Ruben, Israel se oudste seun, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Joël se afstammelinge was in volgorde: Semaja, Gog, Simi, Miga, Reaja, Baäl en Beëra. Beëra was die leier van die Rubeniete toe hulle deur koning Tiglat-Pileser van Assirië gevang en weggevoer is.
Beëra se familie is volgens hulle afkoms per familiegroep in die register opgeneem. Jeïel was die leier en naas hom Sagaria en Bela seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël.
Die Rubenstam het in ’n gebied gewoon wat van Aroër af tot by Nebo en Baäl-Meon gestrek het. In Gilead het hulle vee só baie geword dat hulle al verder oos getrek het tot teen die woestyn wat tot aan die oewers van die Eufraatrivier strek.
In Saul se tyd het hulle die Hagareërs aangeval en verslaan. Hulle het toe in die dorpies gaan woon wat hulle oorwin het. Dit was die hele oostelike deel van Gilead.
Die afstammelinge van Gad het langs die Rubeniete in Basan gewoon. Hulle het tot so ver oos as Salka gewoon. Joël was die leier in Basan en Safam was die tweedebelangrikste leier. Verder was daar ook nog Janai en Safat. Hulle stamgenote was volgens hulle families: Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber, sewe altesaam. Hulle was afstammelinge van Abigajil, seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. Agi, seun van Abdiël, seun van Guni, was die leier van hulle familiegroepe. Hulle het in Gilead en in Basan met sy dorpies gewoon en ook die weivelde van Saron gebruik, so ver as wat dit gestrek het. Dié registers is almal opgestel in die tyd van koning Jotam van Juda en koning Jerobeam II van Israel.