Wat die nageslag van Ruben, die eersgeborene van Israel betref – ja, hy was die eersgeborene, maar toe hy sy vader se slaapplek ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, seun van Israel, gegee en word hy nie volgens die eersgeboortereg in die geslagsregister opgeneem nie. Alhoewel Juda sy broers se meerdere was en iemand as 'n leier uit hom aangewys is, het die eersgeboortereg aan Josef behoort. Die seuns van Ruben dan, Israel se eersgeborene, was Ganog en Pallu, Gesron en Karmi. Joël se nageslag was sy seun Semaja, dié se seun Gog, dié se seun Simi, dié se seun Miga, dié se seun Reaja, dié se seun Baäl en dié se seun Beëra, vir wie Tiglat-Pilneser, die koning van Assirië, in ballingskap weggevoer het. Beëra was 'n stamleier van die stam van Ruben. Sy stamgenote was, volgens elkeen se familiegroep in die register van hulle familiegeskiedenis, Jeïel die hoof, Sagaria en Bela, seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël. Hulle het gewoon in Aroër en verder, tot by Nebo en Baäl-Meon. Na die oostekant toe het hulle gewoon tot op die rand van die woestyn, in die rigting van die Eufraatrivier, want hulle vee het baie geword in die land Gilead. In Saul se tyd het hulle oorlog gemaak teen die Hagareërs wat deur hulle hand gesneuwel het. Hulle het toe in hulle tente gaan woon in die hele gebied oos van Gilead.
Die nageslag van Gad het aangrensend aan hulle gewoon in die land Basan, tot by Salga. Joël was die hoof, en Safam die tweede in rang; dan ook Janai, en Safat in Basan. Hulle stamgenote, volgens hulle families, was Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber – sewe. Hierdie manne was afstammelinge van Abigajil, seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. Agi, seun van Abdiël, seun van Guni, was hoof van hulle familie. Hulle het gewoon in Gilead, in Basan en die omliggende dorpies, en ook nog in al die weivelde van Saron tot aan hulle grense. Hulle almal is in die register opgeneem in die tyd van Jotam, die koning van Juda, en in die tyd van Jerobeam, die koning van Israel.