1 KRONIEKE 5:1-17
1 KRONIEKE 5:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ruben was die oudste seun van Israel, maar omdat hy bloedskande gepleeg het met 'n vrou van sy pa, is sy rang van oudste seun oorgedra op die seuns van Josef seun van Israel, en daarom word Ruben nie as oudste in die geslagsregister opgeneem nie. Juda het wel oor sy broers gesag verkry, en uit hom het die koning voortgekom, maar Josef het die rang van oudste seun gehad. Die seuns van Ruben, oudste seun van Israel, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Die afstammelinge van Joël was in volgorde: Semaja, Gog, Simi, Miga, Reaja, Baäl en Beëra vir wie koning Tiglat-Pileser van Assirië gevange weggevoer het. Beëra was 'n heerser oor die stam Ruben. Sy broers, soos hulle naas sy geslag volgens afstamming opgeneem is in die lys, was Jeïel, die leier, en verder Sagaria en Bela seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël. Hulle het gewoon in Aroër en tot by Nebo en Baäl-Meon. Na die oostekant toe het hulle gewoon tot teen die woestyn aan die Eufraatrivier, want hulle vee het baie geword in Gilead. In Saul se tyd het hulle 'n aanval gemaak op die Hagareërs, hulle verslaan en in hulle nedersettings gaan woon in die hele oostelike deel van Gilead. Teenoor die Rubeniete het die Gadiete in Basan gewoon, tot by Salka. Joël was die hoof en Safam die tweede in rang. Verder was daar in Basan ook nog Janai en Safat. Hulle stamgenote volgens hulle families was Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber, sewe altesaam. Dié was afstammelinge van Abigajil seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. Agi seun van Abdiël, seun van Guni, was hulle familiehoof. Hulle het gewoon in Gilead, in Basan en sy voorposte en in al die veegebiede van Saron sover as wat dié gestrek het. Hulle is almal in die register opgeneem in die tyd van koning Jotam van Juda en koning Jerobeam van Israel.
1 KRONIEKE 5:1-17 Bybel vir almal (ABA)
Ruben was die oudste seun van Israel, maar hy het sy pa se bed onrein gemaak. Daarom het sy pa die regte van die oudste seun vir die seuns van Josef seun van Israel gegee. Daarom is Ruben se naam nie eerste in die naamlys geskryf nie. Dit was Juda wat die belangrikste van die broers geword het, en die koning het uit die Juda-stam gekom, maar dit was Josef wat die regte van die oudste seun gekry het. Die seuns van Israel se oudste seun Ruben was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Joël was die pa van Semaja, Semaja was die pa van Gog, Gog was die pa van Simi, Simi was die pa van Miga, Miga was die pa van Reaja, Reaja was die pa van Baäl, en Baäl was die pa van Beëra. Beëra was die leier van die Ruben-stam toe koning Tiglat-Pileser van Assirië hom gevang en weggevat het. Die name van Beëra se broers was Jeïel en Sagaria. Hulle families se name was geskryf in die naamlys, en Jeïel was hulle leier. Dit is die nageslag van Bela seun van Asas seun van Sema seun van Joël, hulle het gewoon in die stad Aroër en tot by die stede Nebo en Baäl-Meon. Hulle het na die oostekant gewoon tot teen die woestyn wat suid van die Eufraat-rivier is, want hulle skape en bokke het te veel geword in die land Gilead. In die tyd toe Saul koning was, het die Ruben-stam oorlog gemaak teen die Hagareërs. Hulle het die Hagareërs oorwin en in hulle woonplekke gaan woon in die hele oostekant van die land Gilead. Die Gad-stam het langs die Ruben-stam gewoon, hulle het gewoon in die land Basan tot by Salka. Joël was die leier en Safam was die onderleier. Jaänai en Safat het ook in Basan gewoon. Die sewe families in die Gad-stam was Mikael, Mesullam, Seba, Jorai, Jaäkan, Sia en Eber. Hulle was van die nageslag van Abigail seun van Guri seun van Jaroag seun van Gilead seun van Mikael seun van Jesisai seun van Jagdo seun van Bus. Die leier van hulle families was Agi seun van Abdiël seun van Guni. Die Gad-stam het gewoon in die land Gilead en in die land Basan en al sy dorpe, in al die weivelde van die land Saron tot waar die weivelde ophou. In die tyd toe koning Jotam van Juda en koning Jerobeam van Israel regeer het, is die name van die Gad-stam se mense in die naamlyste geskryf.
1 KRONIEKE 5:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel — want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een 'n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad — die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel, was: Henog en Pallu, Hesron en Karmi. Die seuns van Joël: sy seun Semája, sy seun Gog, sy seun Símeï; sy seun Miga, sy seun Reája, sy seun Baäl, sy seun Beëra, vir wie Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, in ballingskap weggevoer het; hy was 'n vors van die Rubeniete. En sy broers volgens elkeen se geslag soos in die geslagsregister opgegee, volgens hulle afstamming, was: Jeï-el, die hoof; verder Sagaría en Bela, die seun van Asas, die seun van Sema, die seun van Joël; hy wat in Ároër en tot by Nebo en Baäl-Méon gewoon het. En teen die ooste het hy gewoon tot by die ingang na die woestyn, van die Eufraatrivier af; want hulle vee het baie geword in die land Gílead. En in die dae van Saul het hulle oorlog gevoer met die Hagareners, en toe dié in hulle hand geval het, het hulle in hulle tente gewoon aan die hele oostekant van Gílead. EN die seuns van Gad het teenoor hulle in die land Basan gewoon tot by Salka. Joël was die hoof, en Safam die tweede in rang, en Jaénai en Safat, in Basan. En hulle broers volgens hulle families was: Mígael en Mesúllam en Seba en Jórai en Jáekan en Sia en Eber, sewe. Dit was die seuns van Abígail, die seun van Huri, die seun van Jaróag, die seun van Gílead, die seun van Mígael, die seun van Jesísai, die seun van Jagdo, die seun van Bus. Ahi, die seun van Ábdiël, die seun van Guni, was die hoof van hulle families. En hulle het gewoon in Gílead, in Basan en in sy onderhorige plekke en in al die weivelde van Saron tot waar dit ophou. Hulle almal is in die geslagsregister opgeneem in die dae van Jotam, die koning van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die koning van Israel.
1 KRONIEKE 5:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat die nageslag van Ruben, die eersgeborene van Israel betref – ja, hy was die eersgeborene, maar toe hy sy vader se slaapplek ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, seun van Israel, gegee en word hy nie volgens die eersgeboortereg in die geslagsregister opgeneem nie. Alhoewel Juda sy broers se meerdere was en iemand as 'n leier uit hom aangewys is, het die eersgeboortereg aan Josef behoort. Die seuns van Ruben dan, Israel se eersgeborene, was Ganog en Pallu, Gesron en Karmi. Joël se nageslag was sy seun Semaja, dié se seun Gog, dié se seun Simi, dié se seun Miga, dié se seun Reaja, dié se seun Baäl en dié se seun Beëra, vir wie Tiglat-Pilneser, die koning van Assirië, in ballingskap weggevoer het. Beëra was 'n stamleier van die stam van Ruben. Sy stamgenote was, volgens elkeen se familiegroep in die register van hulle familiegeskiedenis, Jeïel die hoof, Sagaria en Bela, seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël. Hulle het gewoon in Aroër en verder, tot by Nebo en Baäl-Meon. Na die oostekant toe het hulle gewoon tot op die rand van die woestyn, in die rigting van die Eufraatrivier, want hulle vee het baie geword in die land Gilead. In Saul se tyd het hulle oorlog gemaak teen die Hagareërs wat deur hulle hand gesneuwel het. Hulle het toe in hulle tente gaan woon in die hele gebied oos van Gilead. Die nageslag van Gad het aangrensend aan hulle gewoon in die land Basan, tot by Salga. Joël was die hoof, en Safam die tweede in rang; dan ook Janai, en Safat in Basan. Hulle stamgenote, volgens hulle families, was Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber – sewe. Hierdie manne was afstammelinge van Abigajil, seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. Agi, seun van Abdiël, seun van Guni, was hoof van hulle familie. Hulle het gewoon in Gilead, in Basan en die omliggende dorpies, en ook nog in al die weivelde van Saron tot aan hulle grense. Hulle almal is in die register opgeneem in die tyd van Jotam, die koning van Juda, en in die tyd van Jerobeam, die koning van Israel.
1 KRONIEKE 5:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel, want hy was die eersgeborene; maar omdat hy sy vader se bed verontreinig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee; die geboortereg. Want Juda het die oorhand gekry bo sy broers, en uit hom het die hoofowerste gekom; maar die eersgeboortereg was Josef s'n: Ek sê die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel, was Hanog en Pallu, Hesron en Karmi. Die seuns van Joël; Sy seun Semaja, sy seun Gog, sy seun Simeï, Sy seun Miga, sy seun Reaja, sy seun Baäl, Sy seun Beëra, wat Tilgat-Pilneser, die koning van Assirië, in ballingskap weggevoer het; hy was owerste van die Rubeniete. En sy broers volgens hulle geslagte, toe die geslagsregister van hulle geslagte gereken is, was die stamhoof Jeïel en Sagaria, En Bela, die seun van Asas, die seun van Sema, die seun van Joël, wat in Aroër gewoon het, tot by Nebo en Baälmeon; En na die ooste het hy gewoon tot by die ingang van die woestyn van die Eufraatrivier af, omdat hulle vee baie in die land Gílead was. En in die dae van Saul het hulle oorlog gevoer teen die Hagariete wat deur hulle hand geval het, en hulle het in hul tente gewoon in die hele oostelike land van Gílead. En die kinders van Gad het teenoor hulle gewoon in die land Basan tot by Salga. Joël, die owerste, en Safam die volgende, en Jaanai en Safat in Basan. En hulle broers uit die huis van hulle vaders was: Mígael en Mesullam en Skeba en Jorai en Jagan en Sia en Heber, sewe. Dit is die kinders van Abíhail, die seun van Huri, die seun van Jaróag, die seun van Gílead, die seun van Mígael, die seun van Jesísai, die seun van Jagdo, die seun van Bus; Ahi, die seun van Abdiël, die seun van Guni, die owerste van hulle families. En hulle het gewoon in Gílead in Basan en in sy onderhorige plekke en in al die weiveld van Saron, op hulle grondgebied. Al hierdie is volgens geslagsregisters gereken in die dae van Jotam, die koning van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die koning van Israel.
1 KRONIEKE 5:1-17 Die Boodskap (DB)
Ruben was Israel se oudste seun. Nadat hy egter by een van sy pa se vroue geslaap het, is die status en voorregte wat hy as oudste seun gehad het, oorgedra op die seuns van Josef, Israel se seun. Hy is nie meer as die oudste seun gereken nie. Die stam van Juda het wel die sterkste een van al die stamme geword en ’n leier vir die volk opgelewer, maar Josef het steeds die rang van oudste seun gehad. Die seuns van Ruben, Israel se oudste seun, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Joël se afstammelinge was in volgorde: Semaja, Gog, Simi, Miga, Reaja, Baäl en Beëra. Beëra was die leier van die Rubeniete toe hulle deur koning Tiglat-Pileser van Assirië gevang en weggevoer is. Beëra se familie is volgens hulle afkoms per familiegroep in die register opgeneem. Jeïel was die leier en naas hom Sagaria en Bela seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël. Die Rubenstam het in ’n gebied gewoon wat van Aroër af tot by Nebo en Baäl-Meon gestrek het. In Gilead het hulle vee só baie geword dat hulle al verder oos getrek het tot teen die woestyn wat tot aan die oewers van die Eufraatrivier strek. In Saul se tyd het hulle die Hagareërs aangeval en verslaan. Hulle het toe in die dorpies gaan woon wat hulle oorwin het. Dit was die hele oostelike deel van Gilead. Die afstammelinge van Gad het langs die Rubeniete in Basan gewoon. Hulle het tot so ver oos as Salka gewoon. Joël was die leier in Basan en Safam was die tweedebelangrikste leier. Verder was daar ook nog Janai en Safat. Hulle stamgenote was volgens hulle families: Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber, sewe altesaam. Hulle was afstammelinge van Abigajil, seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. Agi, seun van Abdiël, seun van Guni, was die leier van hulle familiegroepe. Hulle het in Gilead en in Basan met sy dorpies gewoon en ook die weivelde van Saron gebruik, so ver as wat dit gestrek het. Dié registers is almal opgestel in die tyd van koning Jotam van Juda en koning Jerobeam II van Israel.
1 KRONIEKE 5:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die oudste seun van Israel was Ruben. Hy het nie sy pa gerespekteer nie en by een van sy pa se byvroue geslaap. Daarom is sy geboortereg aan die seuns van sy broer Josef gegee en word hy nie in die geslagsregister as die eersgebore seun vermeld nie. Juda se afstammelinge het die sterkste stam geword en die regeerder vir die nasie verskaf, maar die eersgeboortereg het aan Josef behoort. Die seuns van Ruben, die oudste seun van Israel, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Die afstammelinge van Joël was Semaja, Gog, Simi, Miga, Reaja, Baäl en Beëra. Beëra was die leier van die Rubeniete wat deur koning Tiglat-Pileser van Assirië gevange geneem is. Beëra se familie is in die geslagsregister van hulle families opgeneem: Jeïel, die leier, Sagaria en Bela, seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël. Hierdie Rubeniete het in die gebied geleef wat strek van Aroër tot by Nebo en Baäl-Meon. Omdat hulle so baie vee in die land Gilead gehad het, het hulle na die ooste uitgesprei tot by die rand van die woestyn wat na die Eufraatrivier uitstrek. In die tyd toe Saul koning was, het die Rubeniete die Hagareërs in die oorlog verslaan. Hulle het toe in die Hagareërs se dorpies gaan bly, al langs die oostelike kant van Gilead. Oorkant die Rubeniete in die land Basan het die afstammelinge van Gad gebly, tot so ver oos as Salka. Joël was die leier in die land Basan, en Safam was tweede in bevel, saam met Janai en Safat. Hulle familie, die leiers van sewe ander families, was Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber. Hulle was almal afstammelinge van Abigajil, seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. Agi, seun van Abdiël, seun van Guni, was die leier van hulle families. Die Gadiete het in die land Gilead gebly, in Basan en sy dorpies en die hele Saronplein. Hulle name is almal opgeteken in die geslagsregister in die dae van koning Jotam van Juda en Jerobeam van Israel.