PSALMS 140:1-13

PSALMS 140:1-13 AFR53

VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Red my, HERE, van die kwaaddoeners, bewaar my vir die manne van geweld; wat slegte dinge in die hart bedink, wat elke dag stryd verwek. Hulle maak hul tong skerp soos 'n slang; gif van 'n adder is onder hulle lippe. Sela. Bewaar my, HERE, vir die hande van die goddelose; behoed my vir die manne van geweld wat planne beraam om my voete weg te stoot. Trotsaards het vir my 'n vangnet gespan en toue; hulle het 'n net uitgespan aan die kant van die pad; strikke het hulle vir my gestel. Sela. Ek het tot die HERE gesê: U is my God; luister tog, HERE, na die stem van my smekinge! HERE Here, Sterkte van my heil, U beskut my hoof in die dag van stryd! HERE, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul verhef nie. Sela. Wat betref die hoof van die wat my omring — laat die onheil van hulle lippe hulle oordek. Laat vurige kole op hulle afgegooi word; mag Hy hulle laat val in die vuur, in kuile, sodat hulle nie weer opstaan nie! Laat die kwaadspreker nie op aarde bevestig word nie; die man van geweld — laat die ongeluk hom jaag met slag op slag. Ek weet dat die HERE die regsaak van die ellendige, die reg van die behoeftiges sal behartig.