LOOF die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! Laat Israel dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is! Laat die huis van Aäron dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is! Laat die wat die HERE vrees, dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is! Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte. Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan 'n mens my doen? Die HERE is vír my as my helper; so sal ék dan neersien op die wat my haat. Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou. Dit is beter om by die HERE te skuil as om op edeles te vertrou. Al die heidene het my omsingel; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het. Hulle het my omsingel, ja, hulle het my omsingel; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het. Hulle het my omsingel soos bye — hulle is uitgeblus soos 'n doringtakvuur; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het. Jy het my hard gestamp om my te laat val, maar die HERE het my gehelp. Die HERE is my sterkte en psalm, en Hy het my tot heil geword. 'n Stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges: die regterhand van die HERE doen kragtige dade. Die regterhand van die HERE verhef; die regterhand van die HERE doen kragtige dade. Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel. Die HERE het my hard gekasty, maar my aan die dood nie oorgegee nie.
Lees PSALMS 118
Deel
Vergelyk alle weergawes: PSALMS 118:1-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's