MATTHÉÜS 27:32-66

MATTHÉÜS 27:32-66 AFR53

EN toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra. En hulle het gekom op 'n plek wat Gólgota genoem word — dit beteken: Plek van die Hoofskedel — en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie. En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp. En hulle het gaan sit en Hom daar bewaak. En bokant sy hoof het hulle sy beskuldiging in skrif opgestel: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE. Toe word daar saam met Hom twee rowers gekruisig, een aan die regter- en een aan die linkerkant. En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God. En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig. En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met 'n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Hy roep Elía. Toe hardloop daar dadelik een van hulle en neem 'n spons en maak dit vol asyn, en sit dit op 'n riet en laat Hom drink. Maar die ander sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom te verlos. Daarop het Jesus weer met 'n groot stem geroep en die gees gegee. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn. En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God. En daar was baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was daar Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus en Joses, en die moeder van die seuns van Sebedéüs. EN toe dit aand geword het, het daar 'n ryk man van Arimathéa gekom met die naam van Josef, wat self ook 'n dissipel van Jesus was. Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Toe beveel Pilatus dat die liggaam afgegee moes word. En Josef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai en dit in sy nuwe graf gelê wat hy in die rots uitgekap het; en nadat hy 'n groot steen teen die opening van die graf gerol het, het hy weggegaan. En Maria Magdaléna was daar en die ander Maria, en hulle het reg voor die graf gesit. Die volgende dag — dit is die dag ná die voorbereiding — kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal 'n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan. En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag.