Op pad na buite het hulle 'n man van Sirene met die naam Simon teëgekom. Hulle het hierdie man gedwing om Jesus se kruis te dra. Toe hulle by 'n plek kom met die naam Golgota, wat ‘Kopbeenplek’ beteken, het hulle vir Hom wyn, gemeng met 'n giftige kruid, gegee om te drink. En toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Daarna het hulle daar gaan sit en Hom bewaak. Bo sy kop het hulle die aanklag teen Hom aangebring, wat gelui het:
“Hy is Jesus,
die koning van die Jode. ”
Toe is twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Die verbygangers het Hom gelaster, terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou – as jy die •Seun van God is, red jouself, en kom af van die kruis!”
Net so het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners en familiehoofde die spot gedryf en gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie. Hy is die koning van Israel, laat hy nou afkom van die kruis, en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou, laat Hy hom nou red as Hy wil. Hy het immers gesê: Ek is die Seun van God. ” Op dieselfde manier het ook die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.
Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. Teen ongeveer die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van dié wat daar staan, dit hoor, het hulle gesê: “Hy roep na Elia.” Dadelik het een van hulle nader gehardloop, 'n spons geneem, dit in suur wyn geweek, op 'n riet gesit, en vir Hom gegee om te drink. Maar die ander het gesê: “Wag, laat ons sien of Elia hom kom red.” Toe het Jesus weer met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape •heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn. Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: “Hy was werklik •Seun van God.” Daar was baie vroue teenwoordig wat van ver af toegekyk het. Dit was vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.
Toe dit laat geword het, het 'n ryk man van Arimatea, met die naam Josef, daar aangekom. Ook hy was 'n dissipel van Jesus. Dié man het •Pilatus genader en die liggaam van Jesus gevra. Toe het Pilatus beveel dat dit gegee word. Josef het die liggaam geneem, dit toegedraai in 'n skoon linnedoek en neergelê in die nuwe graf wat hy vir homself in die rots laat uitkap het. Hy het toe 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. Maria Magdalena was daar, ook die ander Maria, en hulle het teenoor die graf bly sit.
Die volgende dag – dit is die dag ná Voorbereidingsdag – het die leierpriesters en die •Fariseërs by •Pilatus byeengekom en gesê: “Meneer, ons het onthou dat toe hy nog geleef het, daardie bedrieër gesê het, ‘Ná drie dae sal Ek weer opgewek word.’ Beveel dan dat die graf tot op die derde dag beveilig word, sodat sy dissipels hom nie gaan steel en vir die volk sê, ‘Hy is opgewek uit die dood!’ nie. Die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. ” Pilatus het vir hulle gesê: “Julle kry 'n wag van soldate. Gaan beveilig die graf soos julle goeddink.” Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wagte daar te plaas.