Op pad kom hulle ’n man met die naam Simon teë. Hy was van Sirene afkomstig. Hulle het hom opgekommandeer om Jesus se kruis te dra. Hulle kom toe by die plek aan wat Golgota genoem word – dit beteken Kopbeenkoppie. Hulle gee toe vir Hom ’n mengsel van wyn en bitter kruie om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
Nadat hulle Jesus gekruisig het, het die soldate sy klere verdeel deur die gooi van dobbelsteentjies. Hulle het daar rondgesit en Hom bewaak. Hulle het ’n plakkaat, met die rede vir Jesus se kruisiging daarop, bokant sy kop vasgesit. Dit het gelui: “Dit is Jesus, die Koning van die Jode.”
Daarop het hulle saam met Jesus ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant. Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: “Toe nou, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou! As jy dan God se Seun is, red jouself en kom van die kruis af!”
Die priesterhoofde tesame met die skrifkenners en die familiehoofde het ook gespot en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is mos die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons in hom glo! Hy het mos op God staatgemaak – as God so danig lief is vir hom, laat Hy dit nou bewys deur hom te red! Hy het tog self beweer: ‘Ek is God se Seun!’” In hierdie selfde trant het selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.
Van twaalfuur af het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur die middag. Teen drie-uur het Jesus baie hard uitgeskreeu: “Eli, Eli, lemá sabagtani,” wat beteken: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep na die profeet Elia. Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons, maak dit vol suur wyn en steek dit op die punt van ’n riet om Hom te laat drink. Die ander het egter gesê: “Los hom. Kom ons kyk of Elia hom kom red.”
Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars. Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak. Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan en aan baie mense verskyn.
Die Romeinse offisier oor honderd en die ander soldate wat Jesus bewaak het, het baie beangs geword toe hulle die aardbewing en die ander gebeurtenisse sien, en hulle het gesê: “Hierdie man was werklikwaar die Seun van God!”
Baie vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het, het alles op ’n afstand dopgehou. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, en die vrou van Sebedeus, die ma van Jakobus en Johannes.
Laat daardie middag het Josef, ’n ryk man van Arimatea, daar opgedaag. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus. Hy het Pilatus genader en gevra of hy Jesus se liggaam kon kry. Pilatus het toe ’n bevel uitgereik dat dit aan hom oorhandig moes word.
Josef het Jesus se liggaam toe in ontvangs geneem en dit in ’n nuwe stuk linne toegedraai. Hy het dit in sy eie, nuwe graf gelê wat hy in die rots laat uitkap het. En nadat hy ’n groot klip voor die ingang gerol het, het hy weggegaan.
Intussen het Maria Magdalena en die ander Maria daar reg voor die graf se ingang bly sit.
Die volgende dag – dit was die dag ná die Vrydag – het die priesterhoofde en die Fariseërs met Pilatus gaan praat. Hulle het vir hom gesê: “U Edele, ons onthou hierdie bedrieër het, toe hy nog gelewe het, gesê: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opstaan.’ Daarom versoek ons u om opdrag te gee dat die graf vir drie dae bewaak word. Dit sal sy dissipels verhinder om sy liggaam te kom steel en vir almal te vertel: ‘God het Hom uit die dood opgewek.’ As dit gebeur, sal dinge nog slegter daaraan toe wees as voorheen.”
Pilatus het geantwoord: “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed moontlik.” Hulle het toe die graf gaan beveilig deur die klip te verseël en dit deur die wagte te laat oppas.