MATTHÉÜS 21:1-22

MATTHÉÜS 21:1-22 AFR53

EN toe hulle naby Jerusalem gekom en Bétfagé aan die Olyfberg bereik het, stuur Jesus twee dissipels uit en sê vir hulle: Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle 'n eselin vind wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op 'n esel, ja, 'n jong esel, die vul van 'n pakdier. En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het; hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit. En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele! En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man? En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa. EN Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak. En daar het blindes en kreupeles na Hom gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak. En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig en sê vir Hom: Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie? En Hy het hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betánië en daar vernag. EN vroeg in die môre toe Hy teruggaan na die stad, het Hy honger gehad; en Hy sien 'n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer 'n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog. En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog? Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see — sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.