EN toe hulle Hom weglei, neem hulle 'n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
En 'n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het.
Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders;
want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.
Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons!
Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!
En daar is nog twee ander, kwaaddoeners, weggelei om saam met Hom tereggestel te word.
EN toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant.
En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.
En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is.
En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring
en gesê: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.
En daar was ook 'n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE.
En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.
Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —
ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.
En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe;
en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.
En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.
En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig.
En die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaar was, het op hulle borste geslaan toe hulle sien wat gebeur het, en hulle het teruggegaan.
En al sy bekendes het ver weg gestaan; ook die vroue wat Hom van Galiléa gevolg het, het hierdie dinge gesien.
EN daar was 'n man met die naam van Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en regverdige man
— hy het nie met hulle raad en handelwyse saamgestem nie — van Arimathéa, 'n stad van die Jode, wat ook self die koninkryk van God verwag het.
Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra
en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in 'n graf wat uit 'n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie.
En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek.
En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was.
Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.