LUKAS 23:26-56
LUKAS 23:26-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die soldate Jesus weglei, het hulle 'n sekere Simon van Sirene gegryp wat van die platteland af gekom het. Hulle het die kruis op sy rug gesit om dit agter Jesus aan te dra. 'n Groot menigte van die volk het Hom gevolg, en ook vroue wat aanhoudend op hulle bors slaan en oor Hom weeklaag. Jesus het na hulle gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My huil nie! Huil liewer oor julleself en oor julle kinders, want kyk, daar kom dae wanneer mense sal sê, ‘Gelukkig is diegene wat onvrugbaar is, en die moederskoot wat nie 'n kind in die wêreld gebring het nie, en die borste wat nie kinders gevoed het nie.’ “Dan sal hulle vir die berge begin sê, ‘Val op ons!’ en vir die heuwels, ‘Bedek ons!’ “Want as hulle dit aan die groen hout doen, wat sal nie met die droë hout gebeur nie?” Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle nader staan en vir Hom suur wyn aanbied, met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” Bokant Hom was daar ook 'n opskrif: “Hy is die koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom! ” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. Die son is verduister , en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. Met 'n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor! ” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!” Die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaargekom en gesien het wat gebeur, het teruggegaan, terwyl hulle op hulle bors slaan. Al sy kennisse en ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan en hierdie dinge gesien. En kyk, daar was ook 'n man met die naam Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en •regverdige man. Hy het nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hy was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea, en het uitgesien na die •koninkryk van God. Hy het na •Pilatus gegaan en Jesus se liggaam gevra. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linnedoeke toegedraai en Hom neergelê in 'n rotsgraf waarin daar nog nooit iemand neergelê is nie. Dit was die Voorbereidingsdag, en die Sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Hom uit Galilea gekom het, het hom gevolg en die graf gesien, en ook hoe sy liggaam neergelê is. Daarna het hulle teruggekeer huis toe, en geurige speserye en reukolies gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus, soos die gebod voorskryf.
LUKAS 23:26-56 Bybel vir almal (ABA)
Die soldate het vir Jesus weggevat. Daar het 'n man van buite die stad gekom, sy naam was Simon, hy was van die stad Sirene. Die soldate het hom gevat en hulle het Jesus se kruis op hom gesit. Hulle het vir hom gesê hy moet agter Jesus loop en hy moet die kruis dra. Baie mense het agter Jesus geloop. Party van die vroue het hulleself op die bors geslaan en hulle het oor Jesus gehuil. Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Vroue van Jerusalem, julle moenie oor My huil nie. Julle moet oor julleself huil en oor julle kinders. Julle moet weet, daar sal 'n tyd kom wanneer die mense sal sê vroue wat nie kinders kan hê nie, en ook vroue wat nooit kinders gehad het nie, is gelukkige mense.” Jesus het ook gesê: “In daardie tyd sal die mense vir die berge en die heuwels sê: ‘ Julle moet op ons val! Julle moet ons toemaak!’ Ek sê dit, want Ek is onskuldig, en kyk wat gebeur met My. Julle kan self dink wat sal gebeur met Jerusalem, Jerusalem wat skuldig is.” Die soldate het ook twee ander mans weggevat om hulle saam met Jesus te kruisig. Hierdie mans was skelms. Hulle kom toe by 'n plek, die plek se naam was Kopbeen. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het ook die twee skelms gekruisig, een regs langs Jesus en die ander een links langs Hom. Toe sê Jesus: “Vader, U moet die mense vergewe wat My kruisig, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Die soldate wat vir Jesus gekruisig het, het Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry. Al die mense het daar gestaan en kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het vir Jesus gespot. Hulle het gesê: “Hy het ander mense gered, nou moet Hy Homself red as Hy die Christus van God is, as God Hom gekies het om Koning te wees.” Die soldate het ook vir Jesus gespot. Hulle wou hê Hy moet suur wyn drink. Hulle het gesê: “As jy die koning van die Jode is, dan moet jy jouself red.” Bo-aan die kruis het hulle op 'n plank geskryf hoekom hulle vir Jesus gekruisig het. Hulle het daarop geskryf: “Hierdie man is die koning van die Jode.” Een van die skelms wat langs Jesus aan 'n kruis gehang het, wou vir Jesus verneder en hy het gesê: “O, jy sê jy is die Christus. Dan moet jy jouself red en ook vir ons.” Maar die ander skelm het gesê hy moet stilbly. Hy het gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Want hulle straf jou soos hulle vir Jesus straf. Dit is reg dat hulle ons straf, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar Jesus het niks verkeerd gedoen nie.” Toe sê hy vir Jesus: “Jesus, dink aan my wanneer God vir U Koning maak.” En Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit was omtrent twaalfuur die middag. Dit het donker geword oor die hele land. Dit was donker tot drie-uur die middag. Toe dit donker word, het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur. En Jesus het hard gesê: “ Vader, Ek gee myself vir U.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy gesterf. Die kaptein van die Romeinse soldate het gesien wat gebeur. Hy het God geprys en gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig.” Daar was baie mense wat kom kyk het wat gebeur. Hulle was jammer dat dit gebeur het en hulle het hulleself op die bors geslaan. Toe het hulle teruggegaan na hulle huise in die stad. Maar al die mense wat vir Jesus geken het, ook die vroue wat saam met Jesus van Galilea gekom het, het daar gebly staan, 'n bietjie verder weg. Almal, ook die vroue, het gesien hoe Jesus sterf en wat alles gebeur. Daar was 'n man, sy naam was Josef. Hy was 'n lid van die Joodse Raad en hy was 'n goeie man wat gehoorsaam was aan al die Wette van Moses. Josef het gedink die Raad het verkeerd besluit oor Jesus. Josef het gekom van die Joodse stad Arimatea. Hy het ook gewag dat die tyd sal kom wanneer God Koning sal wees oor almal. Josef het na Pilatus toe gegaan en hy het vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus kan kry. Toe het Josef die liggaam van die kruis afgehaal en hy het dit in lap toegedraai. Hy het die liggaam in 'n graf gesit wat hulle in 'n rots gekap het. Hulle het nog nie voorheen iemand in daardie graf begrawe nie. Dit het alles op die Vrydag gebeur, en daarna het die Sabbatdag begin. Die vroue wat saam met Jesus gekom het van Galilea, het die graf gesien en hulle het ook gesien hoe Josef die liggaam van Jesus in die graf sit. Daarna het die vroue teruggegaan na die stad. Hulle het lekkerruik-olie en salf gereedgemaak, hulle wou dit later aan Jesus se liggaam smeer. Maar op die Sabbatdag het hulle eers gerus, soos die Wette van Moses sê.
LUKAS 23:26-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe hulle Hom weglei, neem hulle 'n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra. En 'n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het. Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders; want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie. Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons! Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur! En daar is nog twee ander, kwaaddoeners, weggelei om saam met Hom tereggestel te word. EN toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant. En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp. En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is. En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring en gesê: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself. En daar was ook 'n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE. En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? — ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe; en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit. En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig. En die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaar was, het op hulle borste geslaan toe hulle sien wat gebeur het, en hulle het teruggegaan. En al sy bekendes het ver weg gestaan; ook die vroue wat Hom van Galiléa gevolg het, het hierdie dinge gesien. EN daar was 'n man met die naam van Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en regverdige man — hy het nie met hulle raad en handelwyse saamgestem nie — van Arimathéa, 'n stad van die Jode, wat ook self die koninkryk van God verwag het. Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in 'n graf wat uit 'n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was. Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.
LUKAS 23:26-56 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra. 'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’ “Dan sal hulle vir die berge sê: “ ‘Val op ons!’ “en vir die heuwels: “ ‘Bedek ons!’ “As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?” Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Hulle het sy klere verdeel deur te loot. Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.” Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.” Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas. Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.” Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien. Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.
LUKAS 23:26-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hulle hom weglei, het hulle een Simon, 'n Cireneer, wat uit die land gekom het, gegryp, en hulle het die kruis op hom gelê, dat hy dit agter Jesus aan kon dra. En 'n groot menigte mense en vroue het Hom gevolg, wat ook oor Hom geweeklaag en beklaag het. Maar Jesus het na hulle omgedraai en gesê: Dogters van Jerusalem, ween nie oor My nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders. Want kyk, daar kom dae waarin hulle sal sê: Geseënd is die onvrugbare en die moederskoots wat nooit gebaar het nie, en die borste wat nooit gesoog het nie. Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en tot by die heuwels, bedek ons. Want as hulle hierdie dinge doen in 'n groen boom, wat sal in die droë gedoen word? En daar is ook twee ander kwaaddoeners saam met hom gelei om gedood te word. En toe hulle by die plek kom wat Golgota genoem word, het hulle Hom daar gekruisig en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant. Toe sê Jesus: Vader, vergeef hulle; want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot gewerp. En die volk het gestaan en kyk. En die owerstes saam met hulle het Hom ook gespot en gesê: Ander het Hy gered; laat hy homself red as hy Christus is, die uitverkorenes van God. En die soldate het ook met hom gespot en na hom gekom en vir hom asyn geoffer, en gesê: As jy die koning van die Jode is, red jouself. En 'n opskrif was ook oor hom geskrywe in Griekse en Latynse en Hebreeuse letters: DIT IS DIE KONING VAN DIE JODE. En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy God nie, aangesien jy in dieselfde oordeel is? En ons is wel tereg; want ons ontvang die gepaste loon vir ons dade, maar hierdie man het niks verkeerd gedoen nie. En hy sê vir Jesus: Here, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees. En dit was omtrent die sesde uur, en daar was duisternis oor die hele aarde tot die negende uur. En die son is verduister, en die voorhangsel van die tempel het in die middel geskeur. En toe Jesus met 'n groot stem uitgeroep het, sê Hy: Vader, in u hande gee Ek my Gees oor; en nadat Hy dit gesê het, het Hy die asem gegee. En toe die hoofman oor honderd sien wat gebeur het, het hy God verheerlik en gesê: Dit was sekerlik 'n regverdige man. En al die mense wat by daardie gesig bymekaargekom het, het die dinge gesien wat gebeur het, en hulle het op hulle borste geslaan en teruggekeer. En al sy bekendes en die vroue wat hom van Galiléa gevolg het, het van ver af gestaan en hierdie dinge aanskou. En kyk, daar was 'n man met die naam van Josef, 'n raadgewer; en hy was 'n goeie man en 'n regverdige. (Hy het nie ingestem met die raad en daad van hulle nie;) hy was van Arimathéa, 'n stad van die Jode, wat self ook op die koninkryk van God gewag het. Hierdie man het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gesmeek. En hy het dit afgehaal en in linne toegedraai en dit in 'n graf neergelê wat in klip gekap was, waarin nog nooit iemand tevore gelê is nie. En daardie dag was die voorbereiding, en die sabbat het aangebreek. En ook die vroue wat saam met hom uit Galilea gekom het, het agterna gekom en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê is. En hulle het teruggegaan en speserye en salf berei; en het die sabbatdag gerus volgens die gebod.
LUKAS 23:26-56 Die Boodskap (DB)
Daarna het die soldate Jesus weggevat na die plek buitekant die stad waar die mense gewoonlik gekruisig is. Langs die pad sien hulle toe ’n man wat uit die veld nader gestap kom om te kyk wat aan die gang was. Sy naam was Simon. Hy was afkomstig uit Sirene in Afrika. Die soldate tel toe Jesus se kruis op sy rug en sê: “Toe, dra hierdie man se kruis! Stap agter hom aan tot daar waar hy gekruisig moet word.” ’n Groot skare het ook agter Jesus aangestap. Baie vroue het hardop gehuil. Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Moenie oor My huil nie. Huil liewer oor julle stad. Want vir julle en julle kinders gaan dit bitter swaar wees hier. Daar sal tye kom dat die mense sal sê: ‘Hoe gelukkig is daardie vroue wat nie kon kinders hê nie.’ Hulle sal dan die berge smeek: ‘Steek ons weg! Gee vir ons ’n plek waar ons veilig is teen ons vyande!’ En vir die heuwels: ‘Maak ons toe sodat hulle ons nie kan raaksien nie!’ Kyk, as Jerusalem se mense bereid is om My dood te maak, moet hulle niks goeds te wagte wees nie. Jerusalem is soos ’n klomp dooie takke wat op ’n hoop lê. Al wat nog oorbly, is dat hulle aan die brand gesteek moet word.” Jesus is nie alleen gekruisig nie. Twee terroriste is ook saam met Hom daar op Golgota, “die Plek van die Kopbeen”, gekruisig. Hulle kruise is aan weerskante van Syne in die grond ingeplant. Daar aan die kruis het Jesus hardop vir God gesê: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet glad nie waarmee hulle nou besig is nie.” Maar die soldate het hulle nie aan Hom gesteur nie. Hulle was te besig om sy klere onder mekaar te verdeel deur lootjies te trek. Baie mense het na Golgota gestroom om te sien hoe Jesus gekruisig word. Party van hulle het allerhande lelike dinge vir Hom gesê. Die godsdienstige leiers het ook saam gespot: “Ons het van vroeg tot laat gehoor hoe hy ander mense red. Nou is hy self in die moeilikheid. Laat hy homself dan nou red as hy die Gestuurde van God is! Laat ons sien of God regtig aan sy kant is soos hy sê.” Die soldate het lustig aan hierdie spottery deelgeneem deur ’n lap vol asyn in Jesus se mond te druk. “Hier hang die koning van die Jode,” het hulle laggend uitgeroep. “Toe, wys ons hoe sterk jy is. Trek al daardie spykers uit jou uit en klim van die kruis af!” Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Hierdie man is die koning van die Jode.” Later het een van die terroriste wat saam met Jesus gekruisig is ook met Hom begin spot: “Nou toe, waarvoor wag jy? As jy regtig die Messias is, kry ons hier af!” Die man aan die ander kruis het hom egter gou stilgemaak. “Het jy g’n respek vir God nie? Jy staan nou onder sy oordeel! Ons twee verdien om hier te hang, want ons is misdadigers. Maar hierdie Man het net mooi niks verkeerds gedoen nie.” Toe kyk hierdie man na Jesus toe en sê: “Ag, Here, sal U asseblief aan my dink wanneer U daar in God se woonplek aankom?” “Ek het baie goeie nuus vir jou,” het Jesus dadelik geantwoord. “Jy gaan nie meer na die doderyk toe nie. Nee, jy gaan saam met My na die paradys toe. Vandag nog sal jy jou oë daar oopmaak.” Toe, skielik, word alles pikdonker. Van twaalfuur af tot drie-uur daardie Vrydagmiddag, toe die son op sy helderste moes skyn, was die hele gebied donker. Boonop het die swaar gordyn wat die allerheiligste deel van die tempel van die ander vertrekke afgeskei het, ook middeldeur geskeur. Toe roep Jesus skielik baie hard uit: “My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U!” Daarna het Hy sy laaste asem uitgeblaas en gesterf. Toe die Romeinse offisier wat daar by die kruis aan diens was dit hoor, het hy vir God gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig. Hy het die hele tyd net gedoen wat U sê!” Die skare daar om die kruis het dadelik hulle koppe laat sak en op hulle bors geslaan as teken van hartseer. ’n Klompie van Jesus se getroue volgelinge het ook daar eenkant gestaan en alles aanskou. Onder hulle was die groepie vroue wat oral in Galilea agter Jesus aangekom het. Toe Josef van Arimatea sien Jesus is dood, het hy vir Pilatus gaan vra of hy sy liggaam kon neem om begrawe te word. Josef was ’n lid van die Joodse Raad en ’n goeie en godvresende man. Hy het nie saamgestem met die manier waarop die Joodse Raad Jesus veroordeel en laat doodmaak het nie. Want hy het geglo dat God se nuwe wêreld sou kom soos Jesus gesê het. Nadat Josef Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy dit in skoon linnedoeke toegedraai en dit in ’n graf gaan begrawe wat aan hom behoort het. Dit was ’n nuwe graf wat in die rots uitgekap was. Hy het gesorg dat Jesus se liggaam begrawe was voordat die sabbatdag aangebreek het. Die vroue wat uit Galilea saam met Jesus na Jerusalem toe gekom het, was ook by toe Josef Jesus se liggaam begrawe het. Hulle het alles aanskou. Daarna het hulle teruggegaan na die plek waar hulle gebly het. Hulle het gou al hulle kosbare salf en speserye bymekaargesit om Jesus se liggaam te gaan salf wanneer die sabbat verby was.
LUKAS 23:26-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl hulle besig was om Jesus weg te lei, het hulle ene Simon van Sirene, wat van die veld af gekom het, geforseer om die kruis agter Jesus aan te dra. ’n Groot menigte van die volk het Jesus gevolg, ook vroue wat op hulle bors geslaan en oor Hom gehuil het. Jesus het na hulle toe gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor Mý huil nie; huil liewer oor julleself en julle kinders omdat daar dae kom wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vroue en die moederskote wat nog nie ’n kind in die wêreld gebring het nie, sowel as die borste wat nog nooit gevoed het nie.’ Dan sal mense aan die berge sê: ‘Val op ons!’ en aan die heuwels: ‘Bedek ons!’ “As hulle hierdie dinge aan ’n groen boom doen, wat sal dan met die droë gebeur?” Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant. Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp. Die volk het net daar gestaan en toekyk. En die leiers het aangehou om Hom te bespot met dié woorde: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Messias, die uitverkorene van God is!” Ook die soldate het vorentoe beweeg en Jesus gespot. Hulle het vir Hom asynwyn aangebied en gesê: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.” Daar was ook ’n kennisgewing bokant Jesus se kop: “Hierdie man is die Koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: “Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!” Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan! Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Teen ongeveer twaalfuur het duisternis toegesak oor die hele land tot drie-uur toe. Die son is uitgedoof en die swaar gordyn van die tempel het middeldeur geskeur. Met ’n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Toe die Romeinse offisier oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: “Hierdie man was werklikwaar regverdig.” Die hele skare wat saamgedrom het vir hierdie skouspel en gesien het wat alles gebeur het, het as teken van rou op hulle bors geslaan en huis toe gegaan. Maar Jesus se vriende, asook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan en al hierdie dinge aanskou. Daar was ’n man met die naam Josef, ’n lid van die Joodse Raad, ’n goeie en regverdige man. Hy het nie vrede gehad met hulle besluite en optrede nie. Hy het van die Joodse dorp Arimatea af gekom en het uitgesien na die koninkryk van God. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en Jesus se liggaam gevra. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linne toegebind en in ’n rotsgraf gaan neerlê waarin niemand nog ooit begrawe was nie. Dit was die Vrydagmiddag laat, die tyd van voorbereiding vir die naderende Sabbat. Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het Josef gevolg en die rotsgraf gesien, asook hoe sy liggaam daarin neergelê word. Daarna het hulle teruggegaan huis toe om die aromatiese olie en speserye te gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus volgens die gebod in die wet.