Toe die soldate Jesus weglei, het hulle 'n sekere Simon van Sirene gegryp wat van die platteland af gekom het. Hulle het die kruis op sy rug gesit om dit agter Jesus aan te dra. 'n Groot menigte van die volk het Hom gevolg, en ook vroue wat aanhoudend op hulle bors slaan en oor Hom weeklaag. Jesus het na hulle gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My huil nie! Huil liewer oor julleself en oor julle kinders, want kyk, daar kom dae wanneer mense sal sê, ‘Gelukkig is diegene wat onvrugbaar is, en die moederskoot wat nie 'n kind in die wêreld gebring het nie, en die borste wat nie kinders gevoed het nie.’
“Dan sal hulle vir die berge begin sê,
‘Val op ons!’
en vir die heuwels,
‘Bedek ons!’
“Want as hulle dit aan die groen hout doen, wat sal nie met die droë hout gebeur nie?”
Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle nader staan en vir Hom suur wyn aanbied, met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” Bokant Hom was daar ook 'n opskrif:
“Hy is die koning van die Jode.”
Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom! ” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. Die son is verduister , en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. Met 'n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor! ” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!” Die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaargekom en gesien het wat gebeur, het teruggegaan, terwyl hulle op hulle bors slaan. Al sy kennisse en ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan en hierdie dinge gesien.
En kyk, daar was ook 'n man met die naam Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en •regverdige man. Hy het nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hy was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea, en het uitgesien na die •koninkryk van God. Hy het na •Pilatus gegaan en Jesus se liggaam gevra. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linnedoeke toegedraai en Hom neergelê in 'n rotsgraf waarin daar nog nooit iemand neergelê is nie. Dit was die Voorbereidingsdag, en die Sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Hom uit Galilea gekom het, het hom gevolg en die graf gesien, en ook hoe sy liggaam neergelê is. Daarna het hulle teruggekeer huis toe, en geurige speserye en reukolies gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus, soos die gebod voorskryf.