LUKAS 17:1-19

LUKAS 17:1-19 AFR53

EN Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom. Dit is beter vir hom as 'n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel. Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom. En as hy sewe maal op 'n dag teen jou sondig en sewe maal op 'n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou — moet jy hom vergewe. Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof. En die Here sê: As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant — en hy sou julle gehoorsaam wees. En wie is daar van julle wat 'n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. EN op sy reis na Jerusalem het Hy deur Samaría en Galiléa gegaan. En toe Hy in 'n sekere dorp ingaan, kom tien melaatse manne Hom tegemoet, wat op 'n afstand bly staan het. En hulle het hul stem verhef en gesê: Jesus, Meester, wees ons barmhartig! En toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: Gaan vertoon julle aan die priesters. En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met 'n groot stem verheerlik. En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was 'n Samaritaan. Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie? En Hy sê vir hom: Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.