Lukas 17:1-19

Lukas 17:1-19 AFR20

Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar struikelblokke kom, maar wee die een deur wie dit kom. Dit is beter vir hom dat 'n maalklip om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie geringes laat struikel. Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe.” Toe sê die •apostels vir die Here: “Gee ons meer geloof!” En die Here antwoord: “As julle geloof soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het. “Wie van julle sal, as hy 'n slaaf het wat besig is om te ploeg of skape op te pas, vir hom sê, wanneer hy van die veld af kom, ‘Kom leun dadelik aan om te eet.’ Sal hy nie eerder vir hom sê, ‘Maak vir my iets gereed om te eet, omgord jou heupe en bedien my, totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink!’ nie? Hy bedank tog nie die slaaf net omdat hy sy opdragte uitgevoer het nie! Dieselfde geld vir julle: Wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan, ‘Ons is nikswerd slawe. Ons het net gedoen wat ons moes doen.’ ” Op 'n keer het Jesus op pad na Jerusalem deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea gereis. Toe Hy 'n sekere dorpie binnegaan, het tien melaatse mans Hom tegemoet gekom. Hulle het op 'n afstand bly staan en uitgeroep: “Jesus, Meester, ontferm U tog oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: “Gaan wys julleself vir die priesters.” Op pad daarheen is hulle gereinig. Een van hulle het, toe hy sien dat hy gesond geword het, omgedraai en God met 'n harde stem geloof. Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hy was 'n Samaritaan. Jesus antwoord hom toe: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?” Toe sê Hy vir die man: “Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered.”