LUKAS 11:14-36

LUKAS 11:14-36 AFR53

EN Hy het 'n duiwel uitgedryf, en dié was stom. En toe die duiwel uitgaan, het die stom man gepraat; en die skare het hulle verwonder. Maar sommige van hulle sê: Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit. En ander het Hom versoek en van Hom 'n teken uit die hemel begeer. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en 'n huis wat teen homself is, val. En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle sê dat Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf. En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom. Wanneer 'n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid. Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit. Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. En terwyl Hy dit spreek, het 'n vrou uit die skare haar stem verhef en vir Hom gesê: Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het. En Hy sê: Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar. EN toe die skare saamstroom, begin Hy te sê: Hierdie geslag is boos; dit soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona 'n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag. Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier! Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier! EN niemand steek 'n lamp op en sit dit in 'n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 11:14-36