LUKAS 11:14-36

LUKAS 11:14-36 Bybel vir almal (ABA)

Jesus was besig om 'n duiwel uit 'n man te jaag. Die duiwel het die man stom gemaak. Nadat die duiwel uitgegaan het, kon die man weer praat. Al die mense was verbaas. Maar party mense het gesê: “ Beëlsebul, die leier van die duiwels, help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.” Ander mense wou vir Jesus toets, hulle wou hê Jesus moet bewys dat Hy van God kom. Hulle wou hê Hy moet vir hulle 'n wonderteken wys. Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en daarom het Hy vir hulle gesê: “Vyande sal enige land oorwin waar die mense nie met mekaar kan saamwerk nie. Hulle sal al die huise afbreek, die een huis ná die ander huis. As die Satan teen homself is, dan kan hy niks meer doen nie en hy kan oor niemand regeer nie. Julle sê Beëlsebul help My om die duiwels uit te jaag. En as Beëlsebul My help om duiwels uit te jaag uit mense, wie help vir julle leerlinge om duiwels uit mense uit te jaag? Julle eie leerlinge bewys dat julle verkeerd is. Dit is die krag van God wat My help om duiwels uit te jaag. Dit bewys dat God die Koning is wat begin het om oor julle te regeer. 'n Sterk man wat baie wapens het en wat sy huis goed oppas, sy goed is veilig. Maar as 'n ander man wat sterker is, hom aanval en wen, dan vat die sterker man al die wapens wat die sterk man gedink het sal hom help en beskerm. Dan gee die sterker man alles wat hy gevat het, vir ander mense. Iemand wat nie vir My is nie, is teen My. Iemand wat My nie help om mense na God toe te bring nie, jaag die mense weg van Hom.” “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek 'n plek waar hy kan woon. As hy nie 'n plek kry waar hy kan woon nie, dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, die mens in wie ek gewoon het.’ Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos 'n huis wat skoon en netjies is. Dan gaan haal hy sewe ander geeste wat nog slegter is as hy. Hulle gaan almal saam, en hulle gaan woon in daardie mens. Wanneer dit gebeur, dan is daardie mens nog slegter as wat hy was.” Toe Jesus hierdie dinge sê, het 'n vrou wat tussen die mense was, hard vir Hom gesê: “Die vrou wat vir U in haar liggaam gedra het, en wat vir U aan haar bors laat drink het, daardie vrou is baie gelukkig.” Maar Jesus het gesê: “Die mense wat waarlik gelukkig is, is die mense wat die woord van God hoor en doen wat God wil hê.” Meer en meer mense het rondom Jesus kom staan. Jesus het begin praat en Hy het gesê: “Die slegte mense wat nou lewe, wil 'n wonderteken hê, hulle wil 'n bewys sien. Maar God sal nie vir hulle 'n wonderteken wys nie. Hulle sal net een wonderteken sien, dit is die teken van Jona. Jona was 'n teken vir die mense van die stad Nineve, en so sal Ek, die Seun van die mens, ook vir julle 'n teken wees. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die koningin van die Suide ook weer lewe en sy sal by die mense wees wat nou lewe. Sy sal sê julle doen verkeerd en julle is skuldig, en God moet julle straf. Sy het baie ver uit haar land gekom om te kom luister na die wysheid van koning Salomo. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as koning Salomo. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona.” Jesus het ook gesê: “Iemand wat 'n lamp opsteek, steek nie die lamp weg in die stoorkamer of maak dit toe met 'n emmer nie. Nee, 'n mens sit die lamp op die plek waar die lamp moet staan sodat almal wat inkom, die lig kan sien. Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry, en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie. Daarom moet jy seker maak dat daar altyd lig in jou is, en nie donker nie. As jou lewe vol lig is, dan sal jy vol lig wees soos wanneer 'n lamp se lig op jou skyn.”

LUKAS 11:14-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het 'n duiwel uitgedryf, en dié was stom. En toe die duiwel uitgaan, het die stom man gepraat; en die skare het hulle verwonder. Maar sommige van hulle sê: Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit. En ander het Hom versoek en van Hom 'n teken uit die hemel begeer. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en 'n huis wat teen homself is, val. En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle sê dat Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf. En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom. Wanneer 'n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid. Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit. Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. En terwyl Hy dit spreek, het 'n vrou uit die skare haar stem verhef en vir Hom gesê: Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het. En Hy sê: Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar. EN toe die skare saamstroom, begin Hy te sê: Hierdie geslag is boos; dit soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona 'n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag. Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier! Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier! EN niemand steek 'n lamp op en sit dit in 'n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.

LUKAS 11:14-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het op 'n keer 'n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Die mense het hulle verwonder, maar party van hulle het gesê: “Dit is met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste, dat hy geeste uitdrywe.” Ander wou Hom op die proef stel deur van Hom 'n wonderteken uit die hemel te vra. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en 'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar. As die Satan dan teen homself verdeeld is, hoe kan sy ryk bly staan? Julle sê mos Ek dryf bose geeste uit met die hulp van Beëlsebul. As Ek wel deur Beëlsebul bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle eie volgelinge dit dan? Dus, hulle bewys self dat julle verkeerd is. Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. “Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig. Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.” “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het 'n vrou uit die menigte hardop uitgeroep en vir Hom gesê: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!” Maar Hy sê: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.” Toe die mense aanhou saamdrom, het Jesus hulle begin toespreek en gesê: “Die mense van hierdie tyd is 'n verdorwe geslag. Hulle vra 'n wonderteken, maar daar sal geen teken aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona. Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die Seun van die mens 'n teken wees vir die mense van vandag. Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo! Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Die mense van Nineve het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!” “'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan weg in 'n kelder of onder 'n emmer nie. Nee, jy sit dit op 'n staander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie. As jou hele liggaam verlig is en nie 'n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer 'n lamp jou met sy skynsel verlig.”

LUKAS 11:14-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op 'n dag het Jesus 'n demoon wat stom was, uit 'n man gedryf. Nadat die demoon hom verlaat het, het die stomme begin praat. Die skare was verwonderd, maar sommige van hulle het beweer: “Dit is deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hy die demone uitdryf.” Ander weer het van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te toets. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en 'n huis wat verdeeld is, kom tot 'n val. As ook Satan teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk dan staande bly? Tog beweer julle dat Ek deur Beëlsebul demone uitdryf. As Ek wel deur Beëlsebul demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle dan uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. Wanneer 'n sterk, goed bewapende man sy eie huis bewaak, is sy besittings veilig. Maar as daar iemand aankom wat sterker as hy is, en hom oorrompel, neem so iemand die volle wapenrusting af waarop die sterk man vertrou het, en verdeel die buit. Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My , en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi.” “Wanneer 'n •onrein gees 'n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus, sonder om dit te vind. Dan sê hy, ‘Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het.’ En by sy terugkeer vind hy dit uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. ” Terwyl Hy dit sê, het 'n vrou in die skare haar stem verhef en Hom toegeroep: “Gelukkig is die moederskoot wat U gedra het en die borste wat U gevoed het!” Maar Hy antwoord: “Ja, maar waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.” Toe die skare om Hom saamdrom, het Jesus met hulle begin praat: “Hierdie geslag is 'n slegte geslag. Hulle vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona. Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die •Seun van die Mens 'n teken wees vir hierdie geslag. Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met die mense van hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel, want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor, en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is groter as Jona.” “ Niemand steek 'n lamp op en plaas dit dan in 'n versteekte hoekie of onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, is jou hele liggaam ook verlig, maar as dit boos is, is jou liggaam ook donker. Pas dus op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam verlig is en daar nie 'n enkele donker plekkie is nie, sal dit heeltemal verlig wees, soos wanneer 'n lamp jou met sy strale verlig.”

LUKAS 11:14-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy was besig om 'n duiwel uit te dryf, en dit was stom. En toe die duiwel uitgegaan het, het die stomme gepraat; en die mense het gewonder. Maar sommige van hulle het gesê: Hy dryf die duiwels uit deur Beëlsebul, die hoof van die duiwels. En ander het Hom versoek en by Hom 'n teken uit die hemel gesoek. Maar hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en 'n huis wat teen 'n huis verdeeld is, val. As die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? omdat julle sê dat Ek deur Beëlsebul duiwels uitdryf. En as Ek deur Beëlsebul duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? daarom sal hulle julle regters wees. Maar as Ek met die vinger van God duiwels uitdryf, het die koninkryk van God ongetwyfeld oor julle gekom. Wanneer 'n sterk gewapende man sy paleis bewaak, is sy besittings in vrede; Maar wanneer 'n sterker as hy hom oorval en hom oorwin, neem hy van hom al sy wapenrusting waarop hy vertrou het, en deel sy buit. Hy wat nie by my is nie, is teen my; en hy wat nie saam met my versamel nie, verstrooi. Wanneer die onrein gees uit 'n mens uitgegaan het, loop hy deur droë plekke en soek rus; en terwyl hy niks vind nie, sê hy: Ek sal terugkeer na my huis waar ek uitgegaan het. En as hy kom, vind hy dit gevee en versier. Daarna gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy, na hom toe; en hulle gaan in en woon daar, en die laaste toestand van daardie man is erger as die eerste. En terwyl hy hierdie dinge sê, het 'n sekere vrou uit die skare haar stem verhef en vir hom gesê: Geseënd is die moederskoot wat jou gedra het en die lippe wat jy gesuig het. Maar hy sê: Ja, salig is die wat die woord van God hoor en dit bewaar. En toe die volk bymekaargekom het, het Hy begin sê: Dit is 'n slegte geslag; hulle soek 'n teken; en geen teken sal daaraan gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona 'n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag. Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het van die uithoeke van die aarde gekom om die wysheid van Salomo te hoor; en kyk, hier is 'n groter as Salomo. Die manne van Nineve sal saam met hierdie geslag in die oordeel opstaan en dit veroordeel; en kyk, hier is 'n groter as Jona. Niemand, as hy 'n lamp aangesteek het, sit dit in 'n skuilplek nie, ook nie onder 'n maatemmer nie, maar op 'n kandelaar, sodat die wat inkom, die lig kan sien. Die lig van die liggaam is die oog; as jou oog dus enkel is, is jou hele liggaam ook vol lig; maar as jou oog sleg is, is jou liggaam ook vol duisternis. Pas dan op dat die lig wat in jou is, nie duisternis is nie. As jou hele liggaam dan vol lig is en geen deel donker het nie, sal die geheel vol lig wees, soos wanneer die helder skyn van 'n kers jou verlig.

LUKAS 11:14-36 Die Boodskap (DB)

Daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van die duiwel was. Hy kon nie ’n enkele woord praat nie. Maar Jesus het die duiwel gou uitgedryf. Toe kon hy weer praat. Dit het die omstanders diep geraak. Party was egter nie beïndruk nie. “Nee wat, moenie julle so maklik laat kul nie. Hierdie man is goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste na hom.” ’n Groep ander mense sê toe vir Jesus: “Doen gou vir ons ’n teken. Ons wil heeltemal seker maak dat jy aan God se kant staan soos jy sê.” Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Daarom sê Hy toe vir hulle: “Wanneer ’n klomp soldate gedurig onder mekaar aan die baklei is, sal hulle mos nooit ’n oorlog teen ’n ander leër wen nie. Net so sal ’n gesin waarin almal van vroeg tot laat aan die stry is, ook nooit gelukkig bly nie. Die een of ander tyd sal hulle uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie. As Satan teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan hy eindig? Kort voor lank stort sy hele koninkryk in duie. Dit is presies wat sal gebeur as Ek en die duiwel sulke groot vriende is soos julle spul dink. “Maar wag, party van julle dryf ook mos demone uit. As julle nou sê Ek doen dit omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wat dan van julle? Wie se vriende is julle dan? Toe, laat julle mense self vir julle die antwoord gee! As julle die regte antwoord gekry het, sal julle moet erken dat Ek die demone in God se groot krag wegjaag. Dan sal julle ook besef: oral waar Ek onder julle aan die werk is, is God aan die werk. Daar raak God se vinger grond. Daar kan julle sien hoe God se nuwe wêreld lyk. “Kom Ek verduidelik dit met ’n beeld. Dink julle ’n mens kan sommer by die huis van ’n groot man wat ’n klomp wapens in sy kluis het, instap en sy goed gaan steel? Natuurlik nie. Hy sal jou mos vinnig op jou plek sit. Behalwe natuurlik as jy sterker as hy is. Dan kan jy hom oorrompel en al sy goed vat en dit verdeel. “Wat sê hierdie beeld vir julle? Dít: julle kan mos duidelik sien aan wie se kant Ek staan. Nou moet julle ’n keuse maak: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan my vyand se kant; óf julle help My om mense na God se nuwe wêreld toe te lei óf julle jaag hulle weg. “Weet julle, wanneer ’n onrein gees uit ’n mens se lewe padgee, gaan soek hy vir hom ’n ander blyplek. As hy na ’n lang soektog nie ’n rusplek kry nie, sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan gou kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’ Daar gekom, vind hy die plek dan dolleeg, mooi skoon en reg. Dan gaan haal hy sommer nog sewe ander bose geeste wat blyplek soek. En hulle is nog slegter as hy. Die hele spul van hulle gaan trek dan saam daar in. Sowaar, vir so iemand sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die keuse gehad het.” Toe Jesus dit sê, roep ’n vrou uit die skare skielik opgewonde uit: “O, watter aangrypende dinge sê U nie! Hoe wonderlik moet dit nie wees om ’n kind soos U te hê nie. U ma is die gelukkigste vrou op aarde. Om te dink sy het iemand soos U in die wêreld gebring en U grootgemaak.” “Ja, dis seker waar,” antwoord Jesus toe. “Maar daar is mense wat selfs nog gelukkiger as my ma is. Dit is hulle wat God se Woord hoor en dit doen.” ’n Groot skare mense het om Jesus begin saamdrom. Maar Hy was nie baie tevrede daarmee nie. Hy sê toe vir hulle: “Julle loop om die verkeerde redes agter My aan. Julle steur julle lankal nie meer aan God nie. Nou kom soek julle by My allerhande tekens sodat julle weer so ’n klein rukkie op God se pad kan kom stap. Julle wil hê Ek moet julle met ’n paar wonderwerke vermaak. Ek weier om dit te doen. Maar Ek sal wel een teken vir julle gee: gaan kyk na die profeet Jona. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met hom gebeur het toe hy drie dae in die maag van die vis was. “Maar gaan leer nog iets by Jona. Die mense van Nineve vir wie hy gepreek het, het na sy woorde geluister en hulle bekeer. Net soos Jona vir hulle ’n teken van God af was, net so is Ek, die Seun van die mens, die Teken van God vir hierdie sondige geslag. “Gaan kyk ook na die koningin van die suide wat op ’n dag na koning Salomo toe gekom het. Sy het baie ver gereis om sy wysheid te kom aanhoor. Weet julle, selfs sy sal op die laaste dag opstaan en as regter optree oor die sondige mense van hierdie geslag. Maar julle besef nie dat hier voor julle Iemand staan wat duisend maal belangriker as Salomo is nie. As die koningin van die suide bereid was om na Salomo te luister, hoeveel te meer moet julle dan nie na my woorde luister nie? “Die mense van Nineve sal op die finale oordeelsdag as regters oor hierdie sondige geslag oordeel. Want hulle het hulle bekeer toe Jona met hulle gaan praat het. Dit is baie meer as wat van julle spul gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie!” “’n Mens sit nie in die aand ’n lig in jou huis aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lig op so ’n plek in die huis dat dit vir almal kan lig gee. Dan sien hulle mos wat om hulle aangaan. Julle moet ook so maak. Wees ’n lig vir ander wat nog in die donker leef. “Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel om reg te kyk nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou. Maar aan die ander kant: as jou hele lewe vol lig is, is al die donker uit jou lewe verdryf. Dan loop jy nie meer in die een sonde na die ander vas nie. Nee, dan weerkaats al jou woorde en dade God se helder lig.”

LUKAS 11:14-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Eendag het Jesus ’n bose gees uit ’n man uitgedryf wat nie kon praat nie, en die man se stem het teruggekeer. Die skare was verstom, maar sommige het gesê: “Geen wonder Hy kan bose geeste uitdryf nie. Hy kry sy krag van Satan, die prins van bose geeste!” Om Jesus te toets het ander vir ’n wonderteken uit die hemel gevra om te sien of Hy van God kom. Hy het hulle gedagtes geken; daarom het Hy gesê: “Enige koninkryk wat teen homself stryd voer, is gedoem. En ’n verdeelde huis is ook gedoem. Julle sê mos Ek kry my mag deur die prins van bose geeste. Maar as Satan teen homself veg deur My mag te gee om bose geeste uit te dryf, hoe kan sy koninkryk voortbestaan? En as Ek deur die prins van bose geeste mag kry, wat van julle eie volgelinge? Hulle dryf ook bose geeste uit; dus sal hulle julle veroordeel vir wat julle gesê het. Maar as Ek bose geeste uitdryf deur die krag van God, dan het die koningsheerskappy van God tot by julle gekom. Want wanneer Satan, wat ten volle gewapen is, sy paleis bewaak, is dit veilig – totdat iemand wat sterker is, hom aanval en oorweldig en sy wapens afneem en wat hy van ander gesteel het, uitdeel. “Enigiemand wat My nie help nie, weerstaan My; en enigiemand wat nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, is besig om hulle uitmekaar te jaag.” “Wanneer ’n onrein gees iemand verlaat, gaan hy die woestyn in op soek na rus. Maar as hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na die persoon toe waar ek vandaan kom.’ Hy gaan dus terug en kry sy vorige tuiste uitgevee en skoon. Dan gaan haal hy sewe ander geeste erger as hyself, en trek in die persoon in en bly in hom. En so is daardie persoon slegter daaraan toe as voorheen.” Terwyl Hy praat, het ’n vrou in die skare uitgeroep: “God seën u moeder – die skoot waaruit U gekom het, en die borste wat U gevoed het!” Hy het geantwoord: “Maar nog meer geseënd is almal wat die woord van God hoor en dit uitleef.” Terwyl die skare om Jesus saamdrom, het Hy gesê: “Dit is bose tye hierdie, en hierdie bose geslag hou aan om van My ’n wonderteken te vra. Maar die enigste teken wat Ek hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona. Wat met hom gebeur het, was ’n teken vir die mense van Nineve dat God hom gestuur het. Wat met My gebeur, sal ’n teken wees dat God My, die Seun van die Mens, na hierdie mense gestuur het. “Die koningin van Skeba sal in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want sy het van ’n ver land gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En nou is Iemand groter as Salomo hier – en hierdie geslag weier om na Hom te luister. Die mense van Nineve sal ook in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want hulle het tot inkeer gekom deur die prediking van Jona. En nou is Iemand groter as Jona hier – en hierdie geslag weier om tot inkeer te kom.” “Niemand steek ’n lamp op en steek dit dan weg of sit dit onder ’n emmer nie. Inteendeel, dit word op ’n staander geplaas om lig te laat skyn vir almal wat die kamer binnekom. Jou oog is die lamp vir jou liggaam. ’n Skoon oog laat lig in jou liggaam inskyn. Maar ’n vuil oog sluit die lig uit en dompel jou in duisternis. Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie. As jou hele liggaam met lig gevul is, sonder donker hoekies, sal jou hele lewe stralend wees asof ’n helder lig op jou skyn.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid