Lukas 11:14-36

Lukas 11:14-36 AFR20

Op 'n dag het Jesus 'n demoon wat stom was, uit 'n man gedryf. Nadat die demoon hom verlaat het, het die stomme begin praat. Die skare was verwonderd, maar sommige van hulle het beweer: “Dit is deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hy die demone uitdryf.” Ander weer het van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te toets. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en 'n huis wat verdeeld is, kom tot 'n val. As ook Satan teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk dan staande bly? Tog beweer julle dat Ek deur Beëlsebul demone uitdryf. As Ek wel deur Beëlsebul demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle dan uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. Wanneer 'n sterk, goed bewapende man sy eie huis bewaak, is sy besittings veilig. Maar as daar iemand aankom wat sterker as hy is, en hom oorrompel, neem so iemand die volle wapenrusting af waarop die sterk man vertrou het, en verdeel die buit. Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My , en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi.” “Wanneer 'n •onrein gees 'n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus, sonder om dit te vind. Dan sê hy, ‘Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het.’ En by sy terugkeer vind hy dit uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. ” Terwyl Hy dit sê, het 'n vrou in die skare haar stem verhef en Hom toegeroep: “Gelukkig is die moederskoot wat U gedra het en die borste wat U gevoed het!” Maar Hy antwoord: “Ja, maar waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.” Toe die skare om Hom saamdrom, het Jesus met hulle begin praat: “Hierdie geslag is 'n slegte geslag. Hulle vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona. Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die •Seun van die Mens 'n teken wees vir hierdie geslag. Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met die mense van hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel, want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor, en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het, en waarlik, wat hier is, is groter as Jona.” “ Niemand steek 'n lamp op en plaas dit dan in 'n versteekte hoekie of onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, is jou hele liggaam ook verlig, maar as dit boos is, is jou liggaam ook donker. Pas dus op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam verlig is en daar nie 'n enkele donker plekkie is nie, sal dit heeltemal verlig wees, soos wanneer 'n lamp jou met sy strale verlig.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 11:14-36