LEVÍTIKUS 9:7-24

LEVÍTIKUS 9:7-24 AFR53

En Moses het vir Aäron gesê: Kom nader na die altaar en berei jou sondoffer en jou brandoffer, en doen versoening vir jou en vir die volk, en berei die offer van die volk, en doen versoening vir hulle soos die HERE beveel het. Toe het Aäron na die altaar nader gekom en die sondofferkalf geslag wat vir hom bedoel was. En die seuns van Aäron het die bloed na hom gebring, en hy het sy vinger in die bloed gesteek en dit aan die horings van die altaar gestryk. Daarna het hy die orige bloed aan die onderkant van die altaar uitgegiet. Maar die vet en die niere en die lap aan die lewer van die sondoffer het hy op die altaar aan die brand gesteek soos die HERE Moses beveel het. En die vleis en die vel het hy buitekant die laer met vuur verbrand. Toe het hy die brandoffer geslag, en die seuns van Aäron het vir hom die bloed aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar uitgegooi. Ook het hulle vir hom die brandoffer volgens sy stukke aangegee, met die kop, en hy het dit aan die brand gesteek op die altaar. En hy het die binnegoed en die pote gewas en dit aan die brand gesteek bo op die brandoffer op die altaar. Daarna het hy die offer van die volk gebring; hy het naamlik die sondofferbok geneem wat vir die volk bedoel was, en dit geslag en dit as sondoffer gebring soos tevore. Verder het hy die brandoffer gebring en dit berei volgens voorskrif. En hy het die spysoffer gebring en 'n handvol daaruit geneem en dit aan die brand gesteek op die altaar, behalwe die môrebrandoffer. Toe het hy die bul en die ram geslag wat vir die volk as dankoffer bedoel was; en die seuns van Aäron het vir hom die bloed aangegee — wat hy toe rondom teen die altaar uitgegooi het — en die stukke vet van die bul, en van die ram die vetstert en die netvet en die niere en die lap aan die lewer; en hulle het die stukke vet op die borsstukke gesit, en hy het die stukke vet op die altaar aan die brand gesteek. Maar die borsstukke en die regterboud het Aäron as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg soos Moses beveel het. Daarna het Aäron sy hande na die volk toe opgehef en hulle geseën. En hy het afgeklim nadat hy die sondoffer en brandoffer en dankoffer gebring het. Daarop het Moses en Aäron in die tent van samekoms gegaan; en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. En die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn — vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid