LEVITIKUS 9:7-24

LEVITIKUS 9:7-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarna sê Moses vir Aäron: “Gaan na die altaar en maak jou reinigingsoffer en jou brandoffer gereed en doen versoening vir jou en jou mense. Maak ook die volk se offer gereed en doen vir hulle versoening, soos die HERE beveel het.” Aäron het na die altaar gegaan en die bulkalf keelaf gesny as reinigingsoffer vir homself. Die seuns van Aäron het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger in die bloed gedoop en dit aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die basis van die altaar uitgegooi. Die vet, die niere en die lewerlob van die reinigingsoffer het hy op die altaar verbrand soos die HERE Moses beveel het. Die vleis en die vel het hy buite die kamp met vuur verbrand. Toe het Aäron die brandoffer keelaf gesny; sy seuns het die bloed aan hom oorhandig en hy het dit reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die brandoffer het hulle stuk vir stuk aan hom oorhandig, ook die kop, en hy het dit op die altaar verbrand. Hy het die binnegoed en die pote afgespoel en dit bo-op die brandoffer op die altaar verbrand. Daarna het hy die volk se offer laat nader kom. Hy het die bokram wat as reinigingsoffer vir die volk bedoel was, geneem, keelaf gesny en dit as reinigingsoffer gebring soos die eerste offer. Hy het die brandoffer laat nader kom en dit op die voorgeskrewe manier gereedgemaak en geoffer. Hy het ook die graanoffer laat naderbring, 'n handvol daarvan geneem en dit op die altaar verbrand. Dit was afgesien van die brandoffer van die oggend. Aäron het die bul en die ram, die maaltydoffer wat vir die volk bedoel was, keelaf gesny. Aäron se seuns het die bloed aan hom oorhandig en hy het dit reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die stukke vet van die bul het hulle nadergebring, ook die vet van die ram: die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek, asook die niere en die lewerlob. Hulle het die vet op die borsstukke neergesit. Aäron het die vet op die altaar verbrand, maar die borsstukke en die regterboud het hy voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg, soos Moses beveel het. Aäron het sy hande na die volk opgelig en hulle geseën. Nadat die reinigingsoffer, die brandoffer en die maaltydoffer gebring is, het hy afgeklim. Daarna het Moses en Aäron die Tent van Ontmoeting binnegegaan. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn: 'n Vuur het van voor die HERE uitgegaan en die brandoffer en die vet op die altaar verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en neergeval met hulle gesigte teen die grond.

LEVITIKUS 9:7-24 Die Boodskap (DB)

Moses sê toe vir Aäron: “Kom jy nou na die altaar toe en bring die dier wat jy vir jou sonde offer en die dier wat jy op die altaar in die vuur verbrand, sodat jy jou skuld by die Here kan betaal en met Hom vrede kan kry. Bring ook die volk se offer sodat hulle skuld ook betaal kan word, soos die Here gesê het ons moet maak.” Aäron het toe na die altaar gegaan en die kalf vir sy sonde geslag. Sy seuns het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger daarin gesteek en daarvan aan die punte van die altaar gesmeer. Die bloed wat oor was, het hy onder teen die altaar uitgegooi. Hy het die vet en die niere en die lewerpunt van die dier op die altaar verbrand, soos die Here gesê het Moses moet maak. Die dier se vleis en die vel het hy egter buite die kamp laat verbrand. Hy het toe ook die offer gebring wat op die altaar verbrand word. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee en hy het daarvan teen die kante van die altaar gespat. Hulle het die verskillende dele van die dier wat geslag is, vir hom aangegee om op die altaar te laat brand en ook die dier se kop. Hy het dit alles op die altaar verbrand. Hy het die binnegoed en die pote afgewas en dit saam met die res van die offer op die altaar verbrand. Hierna het Aäron ook die volk se offer gebring. Hy het die bok gevat wat vir die sonde van die volk geoffer moes word, dit geslag en net so geoffer soos sy eie offer. Hy het ook hulle offer wat op die altaar verbrand moes word, gebring en daarmee volgens die voorskrif gemaak. Hy het ook bo en behalwe die oggend se offer wat verbrand word, ’n offer uit die graan gebring. Hy het ’n hand vol daarvan geneem en dit op die altaar verbrand. Hy het ook die bul en die ram vir die volk se offer waarvan hulle ook kan eet, geslag. Sy seuns het die bloed in ’n houer vir hom aangegee en hy het daarvan reg rondom teen die altaar gespat. Hy het al die stukke vet van die bul en die ram - dit is nou die vetstert, die vetlaag oor die niere en die gedeelte oor die lewer - by die borsstukke gesit. Hy het toe al die stukke vet op die altaar verbrand. Die borsstukke en die regterblad het Aäron egter as ’n offer wat heen en weer voor die Here beweeg word, aan die Here opgedra, presies soos Moses voorgeskryf het. Nadat Aäron die offer vir die sondes, die offer wat verbrand word en die offer wat die goedgesindheid van die volk wys, gebring het, het hy sy hande na die volk uitgesteek en die Here gevra om vir hulle goed te wees. Moses en Aäron het toe saam in die tent waar God gedien word, ingegaan. Toe hulle uit die tent kom, het hulle vir die volk die Here se liefde toegewens. Die hele volk het toe bewus geword dat die Here ook daar teenwoordig is. Daar het vuur van die Here af gekom en die offer op die altaar aan die brand laat slaan en die vet op die altaar laat wegbrand. Die hele volk het gesien wat gebeur het, en hulle het geskreeu en op hulle knieë neergeval om die Here te aanbid.

LEVITIKUS 9:7-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses sê toe vir Aäron: “Kom na die altaar toe en bring jou sonde-offer en brandoffer om versoening te bewerk vir jouself. Bring dan die offers om ook versoening te bewerk vir die volk, net soos die HERE beveel het.” Aäron het na die altaar toe gegaan en ’n kalf geslag as ’n sonde-offer vir homself. Sy seuns het vir hom die bloed gebring, hy het sy vinger in die bloed gedruk en dit aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kant van die altaar uitgegooi. Toe het hy die vet, die niere en die punt van die lewer van die sonde-offer op die altaar verbrand, net soos die HERE vir Moses beveel het. Die vleis en die vel is aan die buitekant van die kamp verbrand. Aäron het toe ook die dier vir die brandoffer geslag. Sy seuns het vir hom die bloed gebring en hy het dit teen die kante van die altaar gesprinkel. Hulle het die dier stuk vir stuk saam met die kop vir hom aangegee en hy het elke deel op die altaar verbrand. Hy het toe die binnegoed en die bene gewas en dit ook as ’n brandoffer op die altaar verbrand. Daarna het Aäron die offers vir die volk gebring. Hy het die bokram geslag en as sonde-offer vir die volk gebring net soos hy dit vir homself gedoen het. Hy het toe ook die brandoffer gebring en dit op die voorgeskrewe manier geoffer. Hy het ook ’n graanoffer gebring en ’n hand vol meel op die altaar verbrand, bo en behalwe die gebruiklike oggendbrandoffer. Aäron het toe die bees en die ram as die volk se maaltydoffer geslag. Sy seuns het die bloed vir hom gebring en hy het dit teen die kante van die altaar gesprinkel. Toe het hy die vet van die bul en die ram – die vet van die stert, die vet rondom die binnegoed, saam met die niere en die punt van die lewer – gevat en dit bo-op die borsstukke van die diere gepak en dit toe op die altaar verbrand. Aäron het die borsstukke en die regterboud opgelig as ’n offer vir die HERE, net soos Moses beveel het. Na al die dinge het Aäron sy hande uitgesteek na die volk toe en hulle geseën. Nadat hy die sonde-offer, die brandoffer en die maaltydoffer gebring het, het hy van die altaar af geklim. Moses en Aäron het toe in die tent van ontmoeting ingegaan en toe hulle uitkom, het hulle weer die volk geseën. Die glorieryke teenwoordigheid van die HERE het toe vir die hele gemeenskap sigbaar geword. Vuur wat van die HERE gekom het, het die brandoffer en die vet op die altaar verteer. Toe die volk al die dinge sien, was daar uitroepe van vreugde en het hulle op die grond neergeval.

LEVITIKUS 9:7-24 Bybel vir almal (ABA)

Toe sê Moses vir Aäron: “Kom na die altaar en offer jou sonde-offer en jou brand-offer en doen versoening vir jouself en vir die volk. Jy moet die offer van die volk offer en jy moet vir hulle versoening doen, soos die Here gesê het.” Aäron het na die altaar gekom en hy het die kalf geslag wat sy eie sonde-offer moes wees. Aäron se seuns het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger in die bloed gesteek en hy het bloed aan die horings van die altaar gesmeer. Hy het die bloed wat oorgebly het, onder teen die altaar uitgegooi. Hy het die vet en die niere en die punt van die lewer van die kalf op die altaar verbrand, soos die Here vir Moses gesê het. Hy het die vleis en die vel van die kalf buite die kamp verbrand. Daarna het Aäron die skaap-ram geslag wat 'n brand-offer moes wees. Sy seuns het die bloed vir hom gebring, en hy het die bloed rondom teen die altaar gespat. Sy seuns het vir hom die stukke vleis en die kop van die ram gebring, en hy het dit op die altaar verbrand. Hy het die binnegoed en die pote afgewas en hy het dit saam met die vleis en die kop op die altaar verbrand. Daarna het Aäron die offer van die volk ge-offer. Hy het die bok-ram geneem wat die sonde-offer van die volk moes wees en hy het dit geslag en ge-offer soos hy sy eie offer ge-offer het. Toe het hy die brand-offer gebring en hy het daarmee gedoen wat hy moes doen. Hy het die koring-offer gebring. Hy het 'n handvol daarvan geneem en hy het dit op die altaar verbrand. Hy het ook die oggend-offer gebring. Daarna het hy die bul en die skaap-ram geslag wat die ete-offers van die volk moes wees. Sy seuns het die bloed vir hom gebring, en hy het die bloed teen die altaar gespat, oral rondom die altaar. Hulle het die vet van die bul en die ram gebring, en ook die vetstert, die netvet, die niere en die punt van die lewer. Hulle het dit neergesit op die bors-stukke. Daarna het Aäron die vet verbrand op die altaar. Aäron het die bors-stukke en die regter-boude heen en weer beweeg voor die Here om 'n beweeg-offer te wees, soos die Here vir Moses gesê het. Daarna het Aäron sy hande opgetel en hy het die volk geseën. Hy het teruggekom nadat hy die sonde-offers en die brand-offers en die ete-offers klaar ge-offer het. Moses en Aäron het ingegaan in die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die hele volk het die lig gesien wat om die Here, die Koning, was. 'n Vuur het van die Here gekom, en dit het die brand-offer en die vet op die altaar verbrand.

LEVITIKUS 9:7-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Moses het vir Aäron gesê: Kom nader na die altaar en berei jou sondoffer en jou brandoffer, en doen versoening vir jou en vir die volk, en berei die offer van die volk, en doen versoening vir hulle soos die HERE beveel het. Toe het Aäron na die altaar nader gekom en die sondofferkalf geslag wat vir hom bedoel was. En die seuns van Aäron het die bloed na hom gebring, en hy het sy vinger in die bloed gesteek en dit aan die horings van die altaar gestryk. Daarna het hy die orige bloed aan die onderkant van die altaar uitgegiet. Maar die vet en die niere en die lap aan die lewer van die sondoffer het hy op die altaar aan die brand gesteek soos die HERE Moses beveel het. En die vleis en die vel het hy buitekant die laer met vuur verbrand. Toe het hy die brandoffer geslag, en die seuns van Aäron het vir hom die bloed aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar uitgegooi. Ook het hulle vir hom die brandoffer volgens sy stukke aangegee, met die kop, en hy het dit aan die brand gesteek op die altaar. En hy het die binnegoed en die pote gewas en dit aan die brand gesteek bo op die brandoffer op die altaar. Daarna het hy die offer van die volk gebring; hy het naamlik die sondofferbok geneem wat vir die volk bedoel was, en dit geslag en dit as sondoffer gebring soos tevore. Verder het hy die brandoffer gebring en dit berei volgens voorskrif. En hy het die spysoffer gebring en 'n handvol daaruit geneem en dit aan die brand gesteek op die altaar, behalwe die môrebrandoffer. Toe het hy die bul en die ram geslag wat vir die volk as dankoffer bedoel was; en die seuns van Aäron het vir hom die bloed aangegee — wat hy toe rondom teen die altaar uitgegooi het — en die stukke vet van die bul, en van die ram die vetstert en die netvet en die niere en die lap aan die lewer; en hulle het die stukke vet op die borsstukke gesit, en hy het die stukke vet op die altaar aan die brand gesteek. Maar die borsstukke en die regterboud het Aäron as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg soos Moses beveel het. Daarna het Aäron sy hande na die volk toe opgehef en hulle geseën. En hy het afgeklim nadat hy die sondoffer en brandoffer en dankoffer gebring het. Daarop het Moses en Aäron in die tent van samekoms gegaan; en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. En die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn — vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval.

LEVITIKUS 9:7-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moses sê toe vir Aäron: “Kom nader na die altaar toe en offer die sondeoffer en die brandoffer wat vir jouself bedoel is, en doen versoening vir jouself en jou mense. Bring daarna die offer van die volk en doen versoening vir hulle soos die Here beveel het.” Aäron het nader gegaan na die altaar toe en die kalf geslag wat bedoel was as sondeoffer vir homself. Sy seuns het die bloed vir hom na die altaar toe gebring en hy het sy vinger in die bloed gesteek en daarvan aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die fondament van die altaar uitgegooi. Die vet, die niere en die punt van die lewer van die sondeofferdier het hy op die altaar verbrand soos die Here vir Moses beveel het. Die vleis en die vel is egter buite die kamp verbrand. Daarna het hy die ram geslag wat vir homself bedoel was as brandoffer. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel. Hulle het ook die stukke en die kop van die brandofferdier vir hom aangegee, en hy het dit op die altaar aan die brand gesteek. Hy het die binnegoed en die pote gewas en dit bo-op die brandoffer op die altaar verbrand. Daarna het Aäron die offer van die volk na die altaar toe gebring. Hy het die bokram wat as sondeoffer vir die volk bedoel was, gevat, hom geslag en geoffer op dieselfde manier as die vorige sondeoffer. Hy het ook die brandoffer van die volk na die altaar toe gebring en dit volgens die voorskrif geoffer. Toe het hy die graanoffer nadergebring en 'n handvol daarvan op die altaar verbrand. Dit was afgesien van die daaglikse brandoffer. Die bul en die ram wat bedoel was as maaltydoffers van die volk, het hy ook geslag. Die seuns van Aäron het die bloed vir hom aangegee en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel. Sy seuns het die vetdele van die bul en die ram, naamlik die vetstert, die niervet, die niere en die punt van die lewer, op die borsstukke gepak en dit alles vir Aäron aangegee. Hy het die vetdele op die altaar verbrand, maar die borsstukke en die regterboud het hy as beweegoffer aan die Here aangebied soos Moses hom beveel het. Nadat Aäron die sondeoffer, die brandoffer en die maaltydoffers gebring het, het hy sy hande na die volk toe uitgesteek en hulle geseën. Hy het van die altaar afgeklim en saam met Moses in die tent van ontmoeting ingegaan. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die magtige teenwoordigheid van die Here is toe aan die hele volk geopenbaar: vuur wat van die Here gekom het, het die oorblyfsels van die brandoffer en die vetstukke op die altaar weggebrand. Toe die volk dit sien, was daar uitroepe van blydskap en het almal op hulle knieë geval.

LEVITIKUS 9:7-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê Moses vir Aäron: Gaan na die altaar en bring jou sondoffer en jou brandoffer, en doen versoening vir jouself en vir die volk; en bring die offer van die volk en doen vir hulle versoening; soos die HERE beveel het. Aäron het toe na die altaar gegaan en die kalf van die sondoffer geslag wat vir hom was. En die seuns van Aäron het die bloed na hom gebring, en hy het sy vinger in die bloed gedoop en dit op die horings van die altaar gegooi en die bloed onderaan die altaar uitgegooi. Maar die vet en die niere en die sel bokant die lewer van die sondoffer het hy op die altaar aan die brand gesteek; soos die HERE Moses beveel het. En die vleis en die vel het hy buitekant die laer met vuur verbrand. En hy het die brandoffer geslag; en die seuns van Aäron het vir hom die bloed gebring wat hy rondom op die altaar gesprinkel het. En hulle het die brandoffer vir hom gebring, met sy stukke en die kop, en hy het dit op die altaar verbrand. En hy het die binnegoed en die pote gewas en dit op die brandoffer op die altaar verbrand. En hy het die offer van die volk gebring en die bok geneem, wat die sondoffer vir die volk was, en dit geslag en dit as die sonde geoffer, soos die eerste. En hy het die brandoffer gebring en dit gebring volgens die wyse. En hy het die spysoffer gebring en 'n handvol daarvan geneem en dit op die altaar verbrand, by die môrebrandoffer. Hy het ook die bul en die ram as dankoffer geslag wat vir die volk was, en die seuns van Aäron het die bloed aan hom gegee wat hy rondom op die altaar gesprinkel het. En die vet van die bul en van die ram, die boud en dit wat die binnegoed bedek, en die niere en die bul bokant die lewer; En hulle het die vet op die borste gesit, en hy het die vet op die altaar verbrand. En die borste en die regterskouer het Aäron as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg; soos Moses beveel het. En Aäron het sy hand na die volk opgehef en hulle geseën en van die sondoffer en die brandoffer en dankoffers afgekom. En Moses en Aäron het in die tent van samekoms ingegaan en uitgegaan en die volk geseën, en die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn. En daar het 'n vuur voor die aangesig van die HERE uitgegaan en die brandoffer en die vet op die altaar verteer; en toe die hele volk dit sien, het hulle uitgeroep en op hul aangesig geval.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid