Levitikus 9:7-24

Levitikus 9:7-24 AFR20

Daarna sê Moses vir Aäron: “Gaan na die altaar en maak jou reinigingsoffer en jou brandoffer gereed en doen versoening vir jou en jou mense. Maak ook die volk se offer gereed en doen vir hulle versoening, soos die HERE beveel het.” Aäron het na die altaar gegaan en die bulkalf keelaf gesny as reinigingsoffer vir homself. Die seuns van Aäron het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger in die bloed gedoop en dit aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die basis van die altaar uitgegooi. Die vet, die niere en die lewerlob van die reinigingsoffer het hy op die altaar verbrand soos die HERE Moses beveel het. Die vleis en die vel het hy buite die kamp met vuur verbrand. Toe het Aäron die brandoffer keelaf gesny; sy seuns het die bloed aan hom oorhandig en hy het dit reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die brandoffer het hulle stuk vir stuk aan hom oorhandig, ook die kop, en hy het dit op die altaar verbrand. Hy het die binnegoed en die pote afgespoel en dit bo-op die brandoffer op die altaar verbrand. Daarna het hy die volk se offer laat nader kom. Hy het die bokram wat as reinigingsoffer vir die volk bedoel was, geneem, keelaf gesny en dit as reinigingsoffer gebring soos die eerste offer. Hy het die brandoffer laat nader kom en dit op die voorgeskrewe manier gereedgemaak en geoffer. Hy het ook die graanoffer laat naderbring, 'n handvol daarvan geneem en dit op die altaar verbrand. Dit was afgesien van die brandoffer van die oggend. Aäron het die bul en die ram, die maaltydoffer wat vir die volk bedoel was, keelaf gesny. Aäron se seuns het die bloed aan hom oorhandig en hy het dit reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die stukke vet van die bul het hulle nadergebring, ook die vet van die ram: die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek, asook die niere en die lewerlob. Hulle het die vet op die borsstukke neergesit. Aäron het die vet op die altaar verbrand, maar die borsstukke en die regterboud het hy voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg, soos Moses beveel het. Aäron het sy hande na die volk opgelig en hulle geseën. Nadat die reinigingsoffer, die brandoffer en die maaltydoffer gebring is, het hy afgeklim. Daarna het Moses en Aäron die Tent van Ontmoeting binnegegaan. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn: 'n Vuur het van voor die HERE uitgegaan en die brandoffer en die vet op die altaar verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en neergeval met hulle gesigte teen die grond.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid