JOHANNES 9:1-27

JOHANNES 9:1-27 AFR53

EN toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word. Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld. En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom. Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie? Ander sê: Dit is hy. Ander weer: Hy lyk na hom. Hy antwoord: Dit is ek. Hulle sê vir hom: Hoe is jou oë geopen? Hy antwoord en sê: Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Silóam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien. En hulle sê vir hom: Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie. Hulle bring hom na die Fariseërs — die man wat vroeër blind was. En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het. Die Fariseërs vra hom toe weer hoe hy siende geword het. En hy antwoord hulle: Hy het klei op my oë gesit, en ek het my gewas en ek sien. En sommige van die Fariseërs sê: Hierdie man kom nie van God nie, omdat Hy die sabbat nie hou nie. Ander sê: Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen? En daar was verdeeldheid onder hulle. Weer sê hulle vir die blinde man: Jy, wat sê jy van Hom, aangesien Hy jou oë geopen het? En hy antwoord: Hy is 'n profeet. En die Jode het dit nie van hom geglo dat hy blind was en siende geword het nie, totdat hulle die ouers geroep het van hom wat siende geword het. En hulle vra hul en sê: Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou? Sy ouers antwoord hulle en sê: Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is; maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë geopen het, weet ons nie. Hy is self oud genoeg, vra hom; hy sal vir homself praat. Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het al ooreengekom dat as iemand Hom as die Christus bely, hy uit die sinagoge geban sou word. Daarom het sy ouers gesê: Hy is oud genoeg, vra hom. Hulle roep toe vir die tweede keer die man wat blind was, en sê vir hom: Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is. En hy antwoord en sê: Of Hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien. En hulle sê weer vir hom: Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë geopen? Hy antwoord hulle: Ek het julle dit alreeds gesê, en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?