JOHANNES 4:7-14

JOHANNES 4:7-14 AFR53

Daar kom 'n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink — want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat 'n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek 'n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie. Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het. Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee? Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.