En Laban het twee dogters gehad — die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel. En Lea het dowwe oë gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien. En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter. Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan 'n ander man gee. Bly by my. So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos 'n paar dae, omdat hy haar liefgehad het. Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan. Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en 'n maaltyd berei. Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. En die anderdagmôre — daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring. En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou. En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar. En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens. En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar. En Lea het bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê. En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem. En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem. En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.
Lees GÉNESIS 29
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: GÉNESIS 29:16-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's