GÉNESIS 18:1-10

GÉNESIS 18:1-10 AFR53

DAARNA het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. Laat hulle tog 'n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. En laat ek 'n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart — daarna kan u verder gaan — want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het. Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke. Daarop loop Abraham na die beeste en vang 'n jong, mooi kalf en gee dit aan die dienaar, wat dit gou klaargemaak het. En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het geëet. Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent. En Hy sê: Ek sal oor 'n jaar sekerlik weer na jou toe kom — dan sal jou vrou Sara 'n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was.

Gratis leesplanne en oordenkings oor GÉNESIS 18:1-10